Wat moet ’n Christen se grootste prioriteit wees?

Matteus 6:33 leer ons dat ons as gelowiges eers die koninkryk van God moet soek. Lees hier wat dit beteken.

deur ds Jacques Kühn

Ons lees hierdie woorde in die Woord van die Here:

Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Matteus 6:33 (1933/53 vertaling)

As ons as Christene wonder wat ons grootste prioriteit moet wees, is hierdie teksvers die beginpunt van die gelowige se antwoord: om die koninkryk en wil van God te soek.


Wat beteken dit om eers die koninkryk en wil van God te soek?

Wanneer ons na die betekenis van die woorde kyk, kan ons die opdrag in Matteus 6 beter verstaan. Dit is nie maar net ’n ideaal nie, en ook nie maar net goedvoelwoorde wat nêrens uitkom nie.

Om te soek, of soos die 1983-vertaling dit stel, “om jou te beywer daarvoor”, beteken om daarna te streef, daarin en daarvolgens te lewe.

  1. Om die koninkryk van God te soek beteken om God in alle sake te soek. Dit is wanneer jy as gelowige, waar jy ookal is, as ’n kind van die Here lewe. Jy moet besef dat jy van die Here afhanklik is en dat jy onder sy wil lewe. Jy lewe as dienaar van die Here, nie onder jou eie mag, gesag en wil nie.
  2. Om die Here se wil te soek, beteken om God se regverdigheid, geregtigheid en dit wat goed en aanneemlik is vir God te soek en te doen. Ons moet ooreenkomstig die Woord van die Here lewe, soos die Heilige Gees ons ook daarin versterk.

Wat gebeur as bekommernis jou lewe oorheers?

Die Bybelvers waarvan ons hier bo lees kom aan die einde van die Bybelgedeelte Matteus 6:25-34 voor, wat ons vertel dat ons nie moet bekommer nie. Hierdie gedeelte maak dit duidelik dat ons as mens geneig is om bekommerd te raak oor ons lewe en wat in die wêreld gebeur.

Bekommernisse kan ons hele lewe oorheers. Dit beïnvloed ons verhoudings met ander mense en met God, omdat ons vinnig kwaad, moedeloos en geïrriteerd raak. En, dit kan selfs ’n effek op ons gesondheid hê – liggaamlik én geestelik. Ons is totaal oorweldig met ons bekommernisse.


Hoekom oorheers bekommernis ons lewens?

Die grootste rede vir ons bekommernis is dat ons by onsself die uitkoms wil soek. Ons vertrou onsself om die uitkoms te bereik, want die wêreld bombardeer ons met die wêreld se maatstaf: “me, myself and I”.

Die Here maak dit duidelik dat ons alleenlik Hóm moet gehoorsaam en sy wil in alles moet soek. Ons moet ons hele lewe daaraan wy om alle eer aan die Here te gee. Ons moet die wil van die Here in die Bybel gaan soek.


Die gelowige se grootste prioriteit

Wanneer ons die koninkryk van God en die wil van God soek, is ons vertroue op ons God en Koning en nie onsself nie. As gelowiges moet ons in gebed met God tree en in ’n daaglikse verhouding met Hom lewe. Dit moet ons grootste prioriteit as gelowige wees om as kind van die Here te leef. Ons kan onder sy koningskap, volgens sy wil, in totale vertroue lewe. Die Here sal ons versorg, beskerm en seën.

Ons Here Jesus Christus is die troos en waarborg dat die Here ons reeds so versorg, beskerm en seën, dat ons kan uitsien na sy wederkoms. Dán gaan ons in die volmaakte koninkryk van God leef, waar ons saam met die engele gaan jubel en juig oor die heerlikheid en almagtigheid van die Here.

Ons sondes is vergewe en die dood is oorwin. Ons is sy kinders en die Heilige Gees is die waarborg dat ons vertroue en geloof in die Here nie tevergeefs is nie. Soek daarom allereers die koninkryk van God en die wil van God in jou hele lewe.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui