15 Feite oor genadegawes
Wat kan ons uit die Bybel oor die waarheid van genadegawes leer?
Deur Ds. Maarten van Helden
- Die woord genade
Charis is die Griekse woord vir genade, charisma beteken genadegawe en die meervoud is charismata. - Kennis van die gawes
Wanneer jy nie genoeg weet nie kan dit tot misbruik lei. “En wat die geestelike gawes betref, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie” (1 Korintiërs 12:1). - Geestelike gesondheid
Die gemeente in Korinte was nie net vir al die geestelike gawes bekend nie, maar ook vir die verskriklikste sondes (1 Korintiërs 5:1; 11:20,21). Gawes is nie ‘n teken van geestelike gesondheid nie. - Opbou van die kerk
Genadegawes word gegee “om die gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk tot opbou van die liggaam van Christus” (Efesiërs 4:12). Niemand ontvang gawes ter wille van hulself nie. - Gawes en opdragte
God gee altyd eers die genade en gawes en dán die opdrag. Hy verwag niks van jou wat jy nie kan doen nie! - Gegee uit genade
Christus het die Heilige Gees op die Kerk uitgestort en Hy het hierdie gawes uit genade aan sy kinders uitgedeel (Efesiërs 4:7-11; 1 Korintiërs 12:8-9). - Dit is God se besluit
Die charismata word deur die Heilige Gees uitgedeel aan wie Hy wil (1 Korintiërs 12:1). Jy kan dit nie verdien nie. Dit is ook nie jou reg nie. - Vrug en vervulling
Gawes verskil van die vrug van die Gees (Galasiërs 5:22) en die vervulling van die Gees (Efesiërs 5:18). - Mense as gawes
“En dít is die gawes wat Hy gegee het: apostels, profete, evangeliste en herders en leraars” (Efesiërs 4:11). - Die beste gawe
Die uitnemendste gawe is die liefde. “Lê julle toe op die beste genadegawes. Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is … en die grootste hiervan is die liefde(1 Korintiërs 12:31; 13:1, 13). - Bid vir gawes
Jy mag en kan bid dat die Heilige Gees jou die gawes sal gee om God se werk te doen. - Moenie verwaarloos nie
Indien jy nie jou gawes gebruik nie, kan dit verwaarloos raak. Paulus skryf aan Timoteus om nie sy gawes te verwaarloos nie en dit weer soos ‘n vuur aan te blaas (2 Timoteus 1:6). - Moenie verheerlik nie
In die gemeente van Korinte het hulle op sekere gawes te veel klem geplaas. Wanneer ons iemand vir sy gawes eer kry ons maklik mensverheerliking. Dit kan aanleiding gee tot verwaandheid of minderwaardigheid (1 Korintiërs 12-14). - Moenie onteer nie
Miskenning van sommige lidmate se gawes word deur Paulus aangespreek (1 Korintiërs 12:21-26). Mense dink soms dat sekere gawes belangriker is as ander en hulle vergeet van die liefde wat die uitnemendste is. - Anders as talente
Elke mens het van die Here ‘n bepaalde aanleg of talent gekry om in God se koninkryk te gebruik en te ontwikkel. Sommige kan met syfers werk, ander is goed met woorde of musiek. Hierdie is egter talente, nie gawes nie.