Lewe toegewy soos Simson

Wat doen jy met die een lewe wat jy gekry het? Hier is wat Simson gedoen het.

Dis maklik om te dink dat ons alles in die lewe moet doen en probeer omdat ons net een lewe het. Maar wonder ons ooit wat die Here wil hê ons met hierdie lewe moet doen? Dít is hoe Simson #YOLO uitgeleef het.

Gebore met ’n doel

Ons kan baie uit Simson se verhaal leer. Sy ma kon nie kinders hê nie, maar die Here het haar laat swanger word. Hy het vir Simson ’n spesifieke opdrag gegee: Hy moes Israel van die Filistyne verlos. So sê die Here ook in Jeremia 1:5 “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken;” Net so is ons ook elkeen met ’n doel op hierdie aarde. Die Here wil jou gebruik om voluit vir Hom te lewe.

Simson was onvolmaak

Simson was nie perfek nie, hy is bekend vir sy liefde vir vrouens. Die Here kan selfs die verkeerde dinge wat ons doen gebruik. Soos in Romeine 8:28 geskryf staan: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” Die Here het nog nooit gesê dat ons sonder foute moet wees om in Sy koninkryk te werk nie. Hy kom verlos ons juis daarvan. Selfs al is ons in die wêreld, mag ons nooit ván die wêreld wees nie.

’n Begaafde jong man

Die Here het vir Simson baie sterk gemaak. Ons is almal bekend met die verhaal: Die Filistyne kon hom met niks bind nie, want hy het dit telkens net gebreek. Hy het sy krag gebruik om vir die Here ‘n oorlog teen die Filistyne te veg. Die Here stuur ons nooit om in Sy koninkryk te werk sonder om ons toe te rus nie. Ons is geneig om onsself klein te dink, maar die belangrike is om nooit ons Skepper klein te dink nie. Hy maak nie foute nie, en sal nooit sy kinders sonder die nodige gawes uitstuur nie.

Toegewy aan die Here

As ’n Nasireër moes Simson toegewyd aan die Here leef. Hy mag geen wyn of druiweprodukte gebruik het nie. In ’n besonderse belofte wat aan die Here gemaak is mag hy ook nie sy hare afgeskeer het nie. Hy moes dinge opoffer om radikaal vir die Here te lewe. Die Here vra dieselfde van ons. Hy wil hê dat ons optrede moet wys dat ons Hom navolg selfs al lewe ons tussen ongelowiges.

Verwerp deur Israel

Simson het nie al die eer en aansien ontvang wat ’n mens sal verwag nie. Nadat hy die Filistyne se graan aan die brand gesteek het, wou die Filistyne hulle op hom wreek. Toe hulle by Juda kom en na hom vra, het sy eie volk hom vrywilliglik oorhandig. Hulle het hom uitgetrap dat hy teen die Filistyne durf opstaan. Dieselfde ding gebeur dikwels as jy opstaan vir wat reg is. Dis baie makliker om stil te bly en saam met almal die verkeerde ding te doen. Ongelukkig is dit nie waarvoor ons op die aarde is nie. Ons is hier om die Here se naam groot te maak.

Getrou tot in dood

Simson is gevang en in die tronk gegooi. Vir die Filistyne was dit ’n groot oorwinning omdat Simson hulle soveel skade aangerig het. Hulle het sy oë uitgesteek en hom vreeslik gespot. Die Filistyne het toe ’n groot fees vir hul afgod gehou. Al hulle belangrike mense was daar, altesaam was daar ongeveer 3 000 mense. Hulle het ook vir Simson laat haal sodat hy hulle kon vermaak. Hy het tot die Here gebid: “Here my God, dink tog aan my! Maak my tog net hierdie een keer sterk” (Rigters 18:28). Toe het hy die pilare omgetrek en al die mense in die gebou het saam met hom gesterf.

Simson was tot in sy dood getrou. Hy het besef dat hy net eenkeer lewe, en dat hy daardie lewe moet laat tel. Hy het telkens gekies om vir die Here te leef, en het in sy dood ‘n groot oorwinning oor sy vyande behaal. Die Here wil hê dat jong Christene voluit moet lewe en elke geleentheid aangryp om goed te doen. Ons moet ’n lewe lei wat radikaal aan die Here toegewy word.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui