Wat was ’n profeet in die Bybel?

Die profete van die Ou Testament het geprofeteer oor die komende Messias. Ons wéét Hy het gekom. Lees hier oor profete toe en profete vandag.


deur ds Werner Brotherton

’n Groot deel van die Bybel bestaan uit die profete. Die profete is baie keer misterieus en verskyn net op die toneel sonder te veel bekendstelling. Hulle verskyn met ’n reuse boodskap: So sê die HERE Here!



Dit is presies wat hulle gedoen het. Hulle het alleen die Woord van die Here aan die volk Israel verkondig. Nêrens hoor ons dat ’n profeet sê: Ek het bietjie geworstel met hierdie of daardie gedagte en wil julle iets daarvan vertel nie. Ook sê hulle nêrens: Ek wil julle bietjie vertel wat op my hart rus nie. Nee, hulle sê: So sê die HERE Here.

Die woord profeet beteken letterlik dat hulle ’n mondstuk van die Here is. Hulle sê nie wat hulle wil nie, maar alleen wat die Here sê. 2 Petrus 1:21 sê dat geen profesie ooit deur die wil van ’n mens voortgebring is nie, maar die Heilige Gees het deur die profete gewerk. Hulle was alleen instrumente in die hand van die Here.


Verskillende profete, dieselfde storie

Wanneer ons mooi gaan kyk sal ons sien dat die profete dieselfde lyn volg, soms met ander woorde. Die volk wyk af van die Here se wette, en word opgeroep om die Here weer te dien. Die profete het bitter min ’n profesie ontvang wat net op hulle persoonlik van toepassing was. Dit was altyd vir die volk in geheel.

Profete was dikwels nie populêr nie

Hulle was altyd teen kultureel wat gemaak het dat hulle nie populêr was nie. Tog het hulle hulle roeping van die Here ontvang. Hulle was deur God gestuur om God se Woord aan God se volk te verkondig. Hulle het die volk geroep om anders as die wêreld te wees. Wat dit nog moeiliker gemaak het, is die feit dat daar baie valse profete was.

Tog het hulle roepingsgetrou as mondstuk van die Here opgetree en is hulle boodskap net so geldig vir vandag. Die oproep om terug te keer na die Here is ewig geldend. Die boodskap van Hoop is net so geldig vir ons vandag.


En wat van profesieë vandag?

Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in die hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.

Hebreërs 1:1

In Johannes 1 leer ons dat die Seun die Woord is wat vlees geword het. Die enigste manier hoe die Here vandag met ons praat is deur sy Woord, die Bybel. Niemand kan sê: Die Here het dit of dat vir my gesê nie. Dit sou beteken dat die Here Homself weerspreek. Die Here se Woord is afgesluit en daarom is daar nie meer profete vandag nie. Nie profete van die Here nie …

Die profete het geprofeteer van die komende Messias. Ons kan terugkyk en weet Christus het gekom. Hy is die geprofeteerde, maar Hy is ook ons groot Profeet! Daarom, laat ons wanneer ons die profete lees kyk na ons Groot Profeet. Hoor Sy stem! Sien Hom in die profesieë.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui