Wat is ’n amp in die kerk?

In hierdie artikel kyk ons waar die amp vandaan kom, en waar hierdie ampte of dienste, dan in die kerk hul plek vind.

deur ds Barend van der Westhuizen


As jy deel van die kerk is, mag jy dalk al gehoor het van mense wat praat oor die “vrou in die amp”-debat. Of dalk is iemand wat jy ken in die ouderlingamp of diakenamp bevestig. Het jy al egter gewonder waar die kerk waarvan jy deel is vandaan kom? Het jy al ooit gewonder hoe die kerk opgebou word en hoe orde in die kerk gehandhaaf word? Dit is waarna ons kortliks in hierdie artikel gaan kyk.


Die koninkryk van God

Vir ons om dit te verstaan moet ons egter eers vinnig oor die Koninkryk van God praat. Toe Jesus op aarde met sy openbare bediening begin het, het Hy die volgende volgens Markus 1:15 gesê:

Die bestemde tyd is vervul, en die koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.

Met Christus se koms aarde toe het die Koninkryk van God ook gekom. Die Ou Testament was vol afwagting dat God sy Koningsheerskappy in Israel moet kom vestig. Die koms van die Koninkryk het dan met die koms van Christus deurgbebreek. Jesus Christus was die verwagte Messias en Koning van die Ou Testament. In Christus kom die dienste van Koning, Priester en Profeet volgens die Ou Testament saam.

Toe Jesus aarde toe gekom het, het Hy eerste die Koninkryk van God verkondig (Markus 1:15). Met die verkondiging van die Koninkryk het die kerk tot stand gekom. Die verkondiging van die Woord en totstandkoming van die kerk gaan dus die “ampte/dienste” in die kerk vooraf. Jesus het eers die Koninkryk van God verkondig en toe het die kerk tot stand gekom. En dit is die kerk waarbinne die Here sekere ampte/dienste gee.

Die kerk as deel van God se koninkryk

Ons moet verstaan dat kerk van die Here nie die koninkryk van God is nie, maar die kerk van die Here vind binne die Koninkryk van God haar ontstaan. So vorm die kerk dus deel van die Koninkryk van God. Die kerk verkondig ook die Koninkryk van God as ’n opdrag van Christus (Matteus 10:7; Handelinge 28:31) en moet ook vir die koms van die Koninkryk bid (Matteus 6:10). En die kerk as gelowiges, is burgers van die ewige koninkryk van God.


Wat is die basis waarop die kerk gebou is?

Nadat Petrus volgens Matteus 16:16 bely het: “U is die Seun van die Lewende God”, het Jesus gesê dat Hy op hierdie belydenis (van Wie Hy is) sy kerk sal bou. Die Nuwe-Testamentiese kerk vind dus sy ontstaan in Christus.

Die kerk is deur die Vader in Christus uitverkies (Efesiërs 1:4). So het die kerk dus tot stand gekom op grond van Wie Christus is en wat Hy kom doen het. Jesus is deur die Vader gestuur en het gekom om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee (Markus 10:45). Sodoende het Hy die gemeente met sy bloed verwerf en opsieners daaroor aangestel (Handelinge 20:28). Die oorsprong van die kerk en die dienste daarbinne lê in God Drie-enig.

Jesus en die kerk

Jesus is die Een wat die kerk bou (Matteus 16:16). Hy is egter ook die Een wat as Koning en Hoof van die kerk die kerk regeer (Efesiërs 1:22-23; 4:15). Om Christus te verkondig is dus kerk-stigtend en kerk-opbouend. Dit is alleenlik deur die hoor van Wie Christus is dat ons tot geloof kan kom en deel van die kerk waarbinne Christus gawes gee kan wees. Kom ons kyk na Efesiërs 4:7; 11-12 om van hierdie beginsels te illustreer:

[7] Maar aan elkeen van ons is ’n genadegawe geskenk, soos Christus dit uitgedeel het. [11] En Hy het sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, [12] om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou …

Jesus gee die gawes aan die kerk

Vanuit hierdie gedeelte sien ons dat dit Christus wat die kerk bou en regeer die Een is wat gawes aan die kerk gee. Hierdie is ook gawes wat die Gees gee (1 Korintiërs 12:3). Hierdie gawes vind dan uitdrukking in die amp/diens. Daarom is dit meer korrek om eerder nie van “die amp van ouderling” of “van iemand in die amp te praat nie”. Dit is meer volgens die Woord om van die diens te praat. Paulus sê immers self :

[5] Wat is Apollos nou eintlik? En wat is Paulus? Hulle is dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, soos die Here dit vir elkeen van hulle gegee het…. [9] Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk.


Die doel van die gawes

Die Here gee verskillende gawes aan die kerk om as dienste hulle funksie te verrig. Petrus sê volgens 1 Petrus 4:11:

Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.

Die doel van hierdie dienste is vir ons baie duidelik volgens Efesiërs 4:12. Dit is om die Woord te verkondig sodat die kerk/gelowiges vir hulle dienswerk toegerus kan word, en sodat die kerk opgebou kan word. Want elke gelowige het ’n gawe van die Here ontvang en moet dit in die liggaam van Christus gebruik (Romeine 12:6-8).

Die dienste wat God gee is dus ten doel om elke gelowige vir hulle dienswerk toe te rus sodat die liggaam van Jesus, vanuit Jesus, en tot Jesus as Hoof groei. Hierdie gawes wat die Here as dienste gee is dus nooit los van die plaaslike gemeente nie.


Die dienste as deel van kerkorde

Dit is vanweë hierdie Bybelse verstaan van dienste dat die Gereformeerde Kerkorde ook met die bediening van die Woord en die dienste begin. Artikels 1 en 2 van die Gereformeerde Kerkorde begin met orde, die kerk en aan Wie die kerk behoort (Hy aan Wie die Kerk behoort, regeer die kerk).

Hierdie orde word gerealiseer deur die bediening van die Woord. Daarom gee die Here gawes om diensbaar die Woord te verkondig. Christus bly egter die gesagvolle Hoof oor sy kerk terwyl diegene in die “ampte/dienste” as gelykes van mekaar bedienend optree met die oog op die opbou en orde van die kerk.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui