Die Here moet en kan ons eerste prioriteit wees

Ons het dikwels te min tyd vir als wat ons moet doen – daarom prioritiseer ons. Uit Haggai leer ons dat die Here ons eerste prioriteit moet én kan wees.

deur prof Albert Coetsee

Elkeen van ons het net ’n beperkte hoeveelheid tyd op aarde. Daarom moet ons doelbewuste keuses maak oor hoe ons daardie tyd wil gebruik. Ons kan onmoontlik alles doen wat ons wil, en daarom moet ons prioritiseer. Dit waaraan jý elke dag tyd spandeer wys wat jou prioriteite is.

Dink vir ’n oomblik aan jou eie lewe: Wat is jou daaglikse prioriteite? Ons almal voel aan dat die Here ons hoofprioriteit moet wees, maar is dit werklik die geval? Dikwels gaan ons prioriteite oor ons alledaagse oorlewing: ’n dak oor ons kop, en kos om te eet. Dís waaraan ons tyd skenk.


Die Here en sy belange móét ons nommer een prioriteit wees

In Haggai lees ons dat die Here vir sy volk sê dat hulle sy tempel moet herbou. Die Here sê só vir hulle dat Hy en sy belange hul nommer een prioriteit moet wees. Die Here sê hierdie woorde vir sy volk te midde van baie moeilike omstandighede. Hy sê dit ook vir ons, ongeag van watter omstandighede ons in is.

Die volk Israel se omstandighede in Haggai

In Haggai 1:1-15 sien ons duidelik wat Israel se omstandighede was. Dié gedeelte is ’n oproep van die Here dat die volk sy tempel sal herbou.

Volgens Haggai 1:1 het die woord van die Here tot Haggai gekom “op die eerste dag van die sesde maand in die tweede regeringsjaar van koning Darius”. Navorsing wys dat dit in die jaar 520 vC was. Dit help ons om Israel se omstandighede in dié tyd te verstaan.

Israel se omstandighede voor die Here se opdrag

  • In die jaar 586 vC is Jerusalem en die tempel deur die Babiloniërs vernietig. Die Here het sy volk keer op keer gewaarsku dat indien hulle nie bekeer en Hom met hulle hele hart dien en gehoorsaam nie, hulle in ballingskap sal gaan. Dit gebeur toe presies so.
  • Maar, die Here het belowe dat indien sy volk weer tot Hom bekeer, Hy hulle uit ballingskap sal terugbring (Nehemia 1:9). En dit gebeur toe presies so: In die jaar 538 vC het die Persiese koning Kores die Jode toegelaat om na Juda toe terug te keer en die tempel te herbou (einde van 2 Kronieke; begin Esra).
  • Die eerste groep Jode keer terug en herstel Jerusalem se mure. Hulle het met groot ywer die fondasie vir die nuwe tempel gelê (Esra 5:16). Maar ongelukkig is dit hoe ver hulle gevorder het. Hulle het die herstelwerk vir eers gestaak.
  • ’n Tweede groep Jode keer terug na Juda in die jaar 522 vC. Hierdie groep keer terug onder leiding van die goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Jesua, waarvan ons onder andere in Haggai 1 lees.

Israel se omstandighede in die tyd van die Here se opdrag

In die jaar 520 vC het daar agtien jaar verloop vandat die eerste groep van die volk uit ballingskap teruggekeer het. Dit is dus agtien jaar vandat hulle die fondasie van die tempel gelê het, maar die bouwerk gestaak is.

Wanneer die Here dan deur die profeet Haggai met sy volk praat, praat Hy oor hierdie einste onvoltooide tempel.


Die volk dink nie dis tyd om die tempel te herbou nie

Die Here begin met die populêre opinie van die volk: “Hierdie volk sê dit is nie nou die tyd om die tempel te herbou nie” (Haggai 1:2). Vanuit ’n menslike oogpunt klink hierdie opinie logies.

Israel se vyande wou nie dat hulle die tempel moes herbou nie. Hulle het die bouwerk probeer stop: eers met bedrog, en toe met mag en geweld. Die vyande het dit reggekry ook, dit was onveilig om die tempel te bou.

Israel het maar nog onlangs uit ballingskap teruggekeer en nie veel gehad nie. Met wat hulle wel gehad het was hulle besig om behuising en kos vir hul gesinne te kry.

Om alles te vererger is die land deur droogte en misoeste geteister. Hulle kón dus nie bou nie; hulle het nie die middele gehad nie.

Met ander woorde, die volk het gevoel dit is nie nou die tyd om die tempel te herbou nie. Nie omdat hulle nie wou nie, maar omdat hulle nie kon nie.

Die volk dink net verskonings uit om nie die tempel te herbou nie

Ons moet erken dat die volk baie goeie verskonings gehad het, maar in die oë van die Here het dit verskonings gebly. In Haggai 1:2-4 sê die Here:

Hierdie volk sê dit is nie nou die tyd om die tempel te herbou nie … Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê?

Pragtige huise verwys letterlik na getimmerde huise; huise met houtpanele. So die volk dink nie dis die regte tyd om die Here se huis te herbou nie, maar tog is hulle besig om in hul eie huise paneelwerk en plafonne aan te bring. Nie net het hulle huise terwyl die Here se huis in puin lê nie, maar hulle doen moeite met hul eie huise.

Die volk se optrede het hul prioriteite verklap. Die Here en sy belange was nie die nommer een prioriteit in hul lewens nie.

Die Here straf sy volk vir hul verkeerde prioriteite

Die Here wys dat Hy die een is wat die volk straf oor hulle nalatigheid. Soos die Here sy volk direk antwoord in vers 9:

Julle het ’n groot oes verwag, maar min gekry, en wat julle nog huis toe gebring het, het Ek laat verdwyn. Waarom? vra die Here die Almagtige. Omdat my huis in puin lê, terwyl elkeen van julle hard besig is om aan sy eie huis te werk.

Ons lees dan dat die rede hoekom dit so sleg gaan met die volk juis is omdat hulle nie die Here eerste plaas nie. Die volk sê dat hulle nie bou nie, want die tye is so sleg. Die Here draai hul woorde om en verduidelik dat dit so sleg gaan juis omdat hulle nie bou nie!


Hoekom was die herbou van die tempel so belangrik vir die Here? Ons kry die antwoord in Haggai 1 vers 8:

Gaan haal hout in die berg en herbou my huis … sodat Ek my eer kan ontvang … en sodat Ek tevrede kan wees.

Die volk se prioriteite het verklap dat hulle nie die Here bo alles eer nie. Hulle belange was vir hulle belangriker as dié van die Here. En, as daar een ding is wat die volk in ballingskap moes geleer het, is dit dat God hulle nommer een prioriteit moet wees. Hulle moes Hom met alles eer en dien en verheerlik.


Die Here en sy belange kán ons nommer een prioriteit wees

In Haggai 1 hoor ons dus duidelik dat die Here en sy belange ons nommer een prioriteit moet wees ten spyte van ons omstandighede. Ons kry egter ook die Here se troos dat ons dit kan doen, omdat Hy vir ons sorg. Ons kan Hom bo ons werk en oorlewing plaas, want Hy sorg vir ons!

Die volk bou aan die tempel van die Here

Ons lees hoe die volk uiteindelik die bouwerk aan die tempel voortgesit het. Serubbabel, Jesua en die volk het ter harte geneem wat die Here vir hulle gesê het. Hulle is met ontsag vir Hom vervul, en het weer die werk aangepak. Die Here troos hulle dan met hierdie belangrike woorde:

Haggai die boodskapper van die Here het in opdrag van die Here vir die volk gesê: Ek is by julle, sê die Here.

Haggai 1:13

Hierdie woorde eggo wat ons dwarsdeur die Ou en Nuwe Testament hoor. Dit is die belofte van die verbond. Die Here belowe om sy volk se God te wees, en Hy belowe dat hulle sy volk is. Hy belowe dat Hy met hulle is. Hulle kan die Here en sy belange hulle eerste prioriteit maak, en in alle omstandighede volkome op Hom vertrou.

God sal altyd met ons wees en bly

As Christene behoort ons te weet dat God altyd met ons is en bly. Ons behoort dit nóg beter te weet as die volk van God in die Ou Testament. Kort voor sy geboorte word Christus vir ons beskryf as Immanuel, “God met ons”. Net voor sy hemelvaart belowe Jesus: “En onthou, Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matteus 28:20). Dit behoort te maak dat ons besef wat ons prioriteite moet wees, en hoe ons God en sy belange ons nommer een prioriteit moet maak.


Is jóú prioriteite reg?

Wees eerlik met jouself: As jy oortuig is dat jy op hierdie stadium te besig is om die Here met jou hele wese te dien en te eer, dan is jy werklik te besig. Dan moet daar iets uit jou skedule skuif. Bid dat die Here jou oë sal oopmaak, en dat sy Gees jou gedagtes sal vernuwe, sodat jy Hom in alles kan eer.

Dit gaan nie daaroor dat ons werk, studies en gesinsverhoudinge onbelangrik is nie. Dis alles dinge waarmee ek die Here eer en verheerlik. Die probleem kom dikwels in dat ek hierdie dinge bó die Here verhef. Ek maak hierdie dinge die grootste prioriteit, en vergeet dat ek al hierdie dinge het alleen maar vanweë die genade van die Here.


Maak die Here jou eerste prioriteit

Die Here bemoedig en vermaan ons in Haggai 1. Hy bemoedig ons dat ons in alle omstandighede op Hom kan vertrou. Hy is met ons. Maar in dieselfde asem vermaan Hy ons indien Hy en sy belange nie ons nommer een prioriteit is nie.

Ons is veronderstel om ons allerbeste vir die Allerhoogste te gee. Ons moet die Here liefhê met ons héle hart en ons héle siel en met ons héle verstand en met ál ons kragte! En dán volg die Here se seën. Sonder die Here se seën sloof ons onsself verniet af vir oorlewing. Dit word so mooi vir ons geleer in Psalm 127:

As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui