Liedere in die Ou Testament

Dit is nie net die Psalms wat liedere is nie! Lees hier oor ál die liedere in die Ou Testament.


deur ds Daniël Myburgh

Die meeste van ons dink dat die gelowiges van die Ou Testament slegs Psalms gesing het, maar daar is egter nog heelwat ánder liedere in die Ou Testament opgeteken. Daar is selfs Bybelboeke wat – soos die Psalms – in die vorm van ’n lied of liedere geskryf is. Kom ons kyk kortliks na ’n paar Ou-Testamentiese liedere.

Die bekendste liedere; die Psalms

As ons oor Ou-Testamentiese liedere praat dink jy waarskynlik eerste aan die Psalms. Die Psalms is ’n versameling Hebreeuse digkuns wat oor ’n lang tydperk versamel en saamgestel is. Dit kan nog verder opgedeel word: in boeke of volgens genres.

Die Psalms – as ’n inleiding en vyf boeke:

  • Inleiding: Psalms 1 en 2 is die “inleiding” tot die boek as geheel
  • 1ste boek: Psalms 3 tot 41
  • 2de boek: Psalms 42 tot 72
  • 3de boek: Psalms 73 tot 89
  • 4de boek: Psalms 90 tot 106
  • 5de boek: Psalms 107 tot 150

Die 150 Psalms kan deur sewe genres onderskei word:

  1. Lofsang (byvoorbeeld Psalms 8, 33 en 100)
  2. Klaagliedere (byvoorbeeld Psalms 3, 13, 22, 44, 57, 70)
  3. Dankliedere (Psalms 18, 40, 68)
  4. Vertrouensliedere (Psalms 16, 23, 121, 125, 131)
  5. Psalms van Onthou (Psalms 78, 105, 106, 125, 136)
  6. Wysheidspsalms (Psalms 1, 45, 73)
  7. Koningspsalms/Mesiaanse Psalms (Psalms 2, 21, 24, 95, 98, 110)

Die feit dat elke gelowige met die Psalms kan vereenselwig maak dit so besonders en geliefd. Die Psalms bevat égte menslike ervarings en verwoord ’n hele aantal emosies. Met hierdie liedere kan ’n gelowige uiting aan hul emosie gee. Mens kan selfs die Psalms tot God-Drie-enig bid wanneer jou eie woorde ontbreek.


Bybelboeke in die Ou Testament wat liedere is

Hooglied van Salomo

Die boek, “Hooglied van Salomo” is nóg ’n voorbeeld van ’n hele Bybelboek wat in die vorm van ’n lied geskryf is. Hierdie lied is besonders en daarom het dit die titel “Hooglied” wat letterlik “hoogste” of “beste” lied beteken.

Dit is waarskynlik deur Salomo geskryf. In 1 Konings 5:12 lees ons dat hy die skrywer van 1 005 Ou-Testamentiese liedere was! Hierdie lied illustreer die liefde en passie wat daar tussen ’n man en vrou in die huwelik kan wees.

Klaagliedere

Die boek, Klaagliedere, is selfs ’n vérdere voorbeeld van ’n Bybelboek wat eintlik ’n lied (of ’n versameling liedere) is. Die skrywer “kla” of “treur” omdat die ongelowige Babiloniërs die stad, Jerusalem, ingeneem het en die Joodse tempel verwoes het.

Elke hoofstuk in hierdie Bybelboek bevat 22 verse, behalwe hoofstuk 3 wat 66 verse bevat. Elke vers van hierdie hoofstukke begin met ’n volgende letter van die Hebreeuse alfabet (geleerdes noem só ’n lied ’n akrostiese lied).

Baie mense dink Klaagliedere is met hartseer en teleurstelling vervul, maar gaan lees dit gerus en sien hoeveel hoop en troos hierdie liedere verwoord!


Nog liedere in die Ou Testament

Verder kry ons ook die sogenaamde “losstaande liedere” in die Ou Testment. Die Lied van Moses en die Lied van Debora is tipiese voorbeelde hiervan.

Die lied van Moses

In Eksodus 15 lees ons van die lied wat Moses en die ander Israeliete gesing het nadat die Egiptenare in die Rietsee verdrink het. Al is hierdie ’n oorwinningslied is dit nie die volk, Israel, óf Moses wat die oorwinning bewerk het nie, maar God. Dit is die getroue Verbondsgod wat daardie dag hulle verlos het uit die hand van die wrede Egiptenaars. Hierdie Lied van Moses vertel die volk se geskiedenis maar bring ook lof aan God. Dit is ’n lied wat die grootheid en die almag van God-Drie-enig besing. Verder verkondig hierdie lied dat God die Énigste Ware God is en bly.

Die lied van Debora

In Rigters 5 lees ons die “Lied van Debora”. Saam met Baruk was Debora een van die rigters wat vir ’n tyd lank die volk, Israel, regeer en gelei het. Nadat die Here aan hulle die oorwinning gegee het, sing Debora en Baruk ook ’n oorwinningslied wat die klem op die grootheid van God plaas. Hulle besef góéd dat dit nie húlle is wie die Here se kinders tot verlossing gelei het nie, maar die Hére! Hierdie Ou-Testamentiese lied besing die regverdigheid maar óók die barmhartigheid van ons Here.


God Drie-enig word geloof en prys met sang in die Ou Testament

Dit is dus duidelik dat al die gelowiges van die Ou Testament op ’n gereelde basis God-Drie-enig geloof en geprys het met hul sang. Met instrumente en met hul stemme het hulle alle lof en eer aan God gebring terwyl hulle Hom, as Enigste Ware God, aanbid het. Maar een groep gelowiges word op ’n manier in die Ou Testament uitgesonder.

Die Leviete word spesifiek genoem en aangestel om die Here in die tempel te loof met hul sang. En een van die leiers van die Leviete se naam word ook gerééld genoem: Asaf aan wie ons minstens twaalf Psalms kan koppel (Psalms 50; en 73 tot 83). Hierdie groep Leviete is afgesonder om baie spesiale dienswerk vir die Here te doen – hulle moes geesdriftig op hul liere, harpe en simbale speel tot dank en tot lof en tot eer van God (1 Kronieke 25).


Daar is dus baie meer liedere in die Ou Testament as bloot nét die Psalms. Alle Ou-Testamentiese gelowiges wat deur die Heilige Gees gedryf is om hul dankbaarheid teenoor God te verwoord, was getrou aan hul roeping – hulle het die Here met hul sang en met hul instrumente geëer.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui