Dra feesklere soos Jesua

In Sagaria se visioen word die hoëpriester deur Satan aangekla dat sy klere vuil is. Die Here wys hom egter genade en trek vir hom feesklere aan. Wat kan ons hieruit leer?

Deur ds. Karel Steyn

In die Bybel vertel klere dikwels van die genade wat die Here met mense, veral sy kinders, het. Deur sy groot genade maak die Here vir Adam en Eva klere het. As hulle agterkom hulle is kaal en vir God wegkruip, kom soek die Here hulle op. Hy verduidelik aan hulle wat die gevolge van hulle sonde is en trek daarna vir hulle klere van dierevelle aan. Diere moes dood gemaak word en bloed moes vloei om hierdie verhouding te begin herstel.

Die priesters se klere
In Eksodus 28 lees ons van die klere wat die priesters moes aantrek. Sekerlik een van die langste beskrywings oor hoe dinge by die tabernakel moes werk, word afgestaan aan hoe die Hoëpriester en die ander priesters se klere moes lyk. Daar is gedetailleerde beskrywings oor hoe die priesters eers gereinig moes word en moes skoon bly voor hulle die spesifieke klere aangetrek het. Selfs die materiaal word tot in die fynste besonderhede beskryf.
Die priesters was spesifieke manne wat God vir Hom afgesonder het om Hom te dien. Daarom moes hulle klere getuig van die genade wat hulle ontvang om God te mag dien, maar ook van die absolute reinheid, heiligheid en heerskappy van God.


Die Hoëpriester Jesua se vuil klere

In Sagaria 3:1-7 lees ons Sagaria se visioen van Jesua. Dié Hoëpriester word deur Satan aangekla: “Jesua het klere aangehad wat liederlik bevuil was” (Sagaria 3:3). Die Hoëpriester van God, die verteenwoordiger van die volk by God, staan in vuil klere in die teenwoordigheid van die Here. Satan val die priesters van God aan, en die manier waarop God aanbid word, om die diens aan God te verdraai en te keer. Daarom dat hy hier vir Jesua aanval en beskuldig.



Jesua word skoon aangetrek

Satan kan dalk aankla, maar God kan vryspreek. Die Here wys Jesua genade en trek vir hom feesklere aan. Die Engel wat dan praat, is die verskyning van ons Here Jesus Christus in die Ou Testament: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek” (Sagaria 3:4).
Net God het die mag om te kan vergewe. Daarom is dit nie sommer net enige engel wat hierdie opdrag kan gee dat die vuil klere uitgetrek kan word nie, en is dit nie sommer net enige engel wat vir Jesua kan sê dat Hy sy oortredings vergewe nie. Dit is Jesus Christus, wat in die Nuwe Testament gekom het om sondes te vergewe, wat hier met Jesua praat en hom in sy diens herstel.


Jesua kry feesklere

Hierdie klere wat vir Jesua aangetrek word, lees ons in die oospronklike taal, is feesklere: klere wat getuig van herstel en verheerliking. Dit is die duur, kosbare klere wat net met spesiale geleenthede aangetrek kon word.
Dit is nie net iets wat Jesua verkeerd gedoen het wat hier vergewe word nie. Die woord wat hier gebruik word, word gebruik om die skuld van die sonde aan te dui. Jesua se skuld word uitgekanselleer deur hierdie woorde van die Here. Dit is nie net die sonde wat vergewe word nie, maar dit wat agter die sonde lê, die skuld en die verlorenheid wat dit bring, wat vergewe word. Jesua word hier regverdig gemaak, deurdat sy sonde en die skuld van sy sonde heeltemal weggeneem word.


Jesua kry ’n tulband

Daar word sommer vir Jesua ’n tulband opgesit. Dit is nie dieselfde kopdoek wat die Hoëpriester moes gedra het nie, maar ’n kopdoek wat die rykste mense gedra het.
Waar Jesua eers heeltemal deur mense weggestoot sou word en waar hy nie eintlik in die teenwoordigheid van God mag gestaan het nie, word hy nou ’n voorbeeld en getuienis van die grootheid, almag en heerskappy van God.
Juis dit is die genade! God vergewe nie net nie. Hy herstel heeltemal. Hy neem die sondaar aan en nie die sonde nie en dan maak Hy hierdie sondaar tot Koningskind – iemand wat in diens van God staan en wat só God se grootheid en almag bekend maak.


Jesua kry ’n belofte

Jesua ontvang dié belofte: “As jy lewe soos Ek dit wil, as jy die voorskrifte vir my diens onderhou, sal jy die gesag hê oor my huis, die verantwoordelikheid dra vir my heiligdom. Jy sal toegang tot My hê, net soos hierdie engele” (Sagaria 3:7).
Heerskappy, gesag en God se teenwoordigheid: dit is wat aan Jesua belowe word. Heerskappy sinspeel op die werk van ’n koning, die gesag sinspeel weer op die profeet en God se teenwoordigheid sinspeel op die werk van die priester wat in die tabernakel en later die tempel in God se teenwoordigheid diens gedoen het.
Die Here gee aan Jesua die onbeskryflike genade; die voorreg om as priester, profeet en koning te kan dien. Maar onthou, hierdie genade wat die Here vir Jesua gee, staan onder die heerskappy van God. Dit gaan eerstens oor God se koninkryk en dan oor hoe jy God moet dien.


Wat beteken hierdie verhaal vir ons vandag?

Jesua was die verteenwoordiger van die volk by God. Dit wat met hom gebeur het was van toepassing op die volk Israel en nou, na die koms van ons Here Jesus Christus, op ons as kerk van die Here, die Israel van die Nuwe Testament.

1. Jy word ook skoon aangetrek

Ek en jy deel in die herstel en verheerliking wat Jesus Christus gebring het deurdat Hy die skuld van ons sondes gedra het en daarvoor gesterf het. Ek en jy word herstel en verheerlik om as priesters, profete en konings God onder sy heerskappy te dien. Ek en jy deel in die belofte wat daar in ons herstel lê, naamlik dat God ons laat deel in hierdie herstel en verheerliking.

2. Jy moet jou klerekas ondersoek

Ons ontvang hierdie herstel en verheerliking, maar ons word opgeroep om aan ons verhouding met die Here te werk. Dit beteken dat jy ernstig en gereeld na jou lewe kyk en dit teen die Here se wil meet. Om te groei in jou verhouding met die Here vra dat jy jou sondes bely en werklik jammer en spyt is oor die liederlike vuil klere wat jy soms nog aan het. Jy moet die voorneme hê om al hoe meer, elke dag, gehoorsaam te wees aan die wil van die Here.

3. Pak dit saam gebed in jou reistas

Dink aan jou lewe as ’n reis. Alhoewel jy die herstel en verheerliking in jou reistas kan pak, begin dit alles by gebed; by smeking om die werk van die Heilige Gees wat jou heilig en heerlik maak. Dit is en bly eerstens God wat geloof en genade gee aan wie Hy wil. Geestelike groei en om jou toe te lê om as profeet, priester en koning met feesklere aan te lewe, begin deurdat jy vra dat die Heilige Gees jou oë en hart sal verlig. Vra die Here vir watter goeie dade Hy jou in Jesus Christus bestem het.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui