Trek jou sonde soos vuil klere uit

Bekering is nie ’n eenmalige proses nie. Jy moet jou daagliks voor God bekeer, net soos jy daagliks skoon klere aantrek. Lees hier hoe God jou help om die nuwe mens aan te trek.

Deur ds. Ronald Bain
Verwerk deur Kruispad-redaksie

Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het en die nuwe mens wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word, aangetrek het” (Kolossense 3:9-10).

In Kolossense gebruik Paulus die beeld van vuil klere en sê dat gelowiges die ou mens soos vuil klere moet uittreik. Daarna moet die gelowige die nuwe mens met skoongewaste klere aantrek om ’n nuwe dag te begin. In die oorspronklike taal word dié twee werkwoorde in ’n vorm geskryf wat die voortdurendheid van die handelinge beklemtoon. Bekering is nooit eenmalig nie, maar voortdurend. Jy moet elke dag opnuut tot bekering kom, net soos jy weer skoon klere sal aantrek.

Só werk daaglikse bekering

Ons is reeds saam met Christus gekruisig en leef nie meer nie, maar Christus leef in ons. Christus se offer was genoeg en Hy het ons volkome van God se oordeel verlos. Tog het Christus ons in hierdie bedeling nie volkome van die smet van die sonde verlos nie. Ons belydenis maak die onderskeid tussen sondeskuld en sondesmet. Ons skuld is betaal, maar die smet van die sonde kleef nog aan ons.
Dit is soos ’n persoon wat na ’n operasie nog ’n wond het en moet herstel. Só dra ons nog die oorblyfsels van die sonde. God verlos ons genadiglik hiervan ook, maar op ’n ander en langsame manier.
Ons is nog nie volmaak op hierdie aarde nie en is konstant in ’n stryd teen die sonde gewikkel. Hierdie stryd is daaglikse bekering.

Haat jou sonde

Ons moet bid: “Gee tog dat ek hierdie sonde sal haat.” Haat ons nog die sonde of hou ons dalk net nie baie daarvan nie? As jy die sonde nie haat nie gaan jy voortdurend terug. Net gelowiges kan ’n hartlike berou oor hul sonde hê, omdat God dit self in hulle harte werk.
Omdat ’n ongelowige nie in verhouding met God staan nie, het hy slegs berou oor die gevolge van sy dade. Dit help nie ons is net jammer oor die gevolge van ons sondes nie, dan verander ons berou in selfbejammering.

Vlug weg van die sonde

Dit is soos ’n enkele soldaat wat wegvlug vir ’n hele gewapende vyandelike mag. So ’n soldaat weet dit is ’n saak van lewe en dood en daarom vlug hy met al sy krag weg. Uit eie krag kan ons nie weerstand bied teen die sonde nie. Ons moet vra dat die Here ons help. Daar mag nie eers plek vir die sonde in ons gedagtes wees nie, want dan omsingel die sonde ons en in ’n oogwink is ons oorrompel.

Vlug na Christus

Natuurlik help dit nie om nét te vlug nie. Ons wegvlug is om te ontvlug na Christus toe, ons enigste skuiling teen die sonde. Dit is die begin van die opstanding van die nuwe mens. Paulus sê in Kolossense 3 dis die bekleding van die nuwe mens.
Wie sy vuil klere uitgetrek het, trek dan sekerlik weer skoon klere aan. Dit is Christus. Hy wek ons elke dag op in ’n nuwe lewe saam met Hom. Ons groei al hoe meer in die heerlike gemeenskap met Hom en die kennis van sy wil. Só word ons herskep na die beeld van ons Skepper.

Dít is wat na bekering gebeur

Groei in geloof

Ons word eintlik met ons bekering as pasgeborenes opgewek. Daarna begin ons met ’n groeiproses na God toe. Dis alles die werk van die Gees deur die Woord. Hoe meer ons van die Woord vol word en ’n lewe van gebed en gehoorsaamheid ly, word ons met Christus beklee.
Christus self word geopenbaar in ons lewe deur die gemeenskap met Hom. Wanneer die nuwe mens in ons opstaan kry ons ’n onbegryplike vreugde en ’n lus en liefde om die wil van God te doen.

Dra vrugte wat pas

In Jakobus lees ons dat geloof en werke aan mekaar verbind is. Jakobus 2:26: “Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.” Só skryf Paulus aan die Kolossense hoe die nuwe mens se werke lyk. Kolossense 3:12,13: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.”

Doen goeie werke

Dit wat ons doen wys ons liefde vir die Here. In ons werke kan ons die egtheid van ons dankbaarheid duidelik sien. Goeie dade is nie iets minderwaardig nie. Dit is die hartklop van die gelowige se dankbaarheidslewe. Ons moet vrugte van die bekering dra: goeie dade tot eer van God en tot versterking van ons geloof.

Die Heilige Gees maak bekering moontlik
By ons bekering is die Gees van God ten volle werksaam. Sonder Hom is bekering geheel en al onmoontlik. As dit van ons sou afhang sou geeneen homself met die nuwe mens kon beklee nie. Die Heilige Gees word nooit moeg en uitgeput soos ons mense nie, Hy genees aanhoudend die rou wonde van ons sonde.
As ons in die sonde val mag ons nie aan die genade van God twyfel of in die sonde bly lê nie. Ons moet onsself bekeer want God roep ons daartoe, Hy wys ons die weg en gee ons die krag.

Bekeer jou!

Bekering is ’n oproep wat die mens moet uitvoer. God sê nooit ons moet ons laat uitverkies of wedergebore laat word nie. Maar wel dat ons, ons moet bekeer. Ons kan na Hom, wat al ons worstelinge en al ons stryd in hierdie wêreld self beleef het, gaan.
Hy was in hierdie wêreld ook as mens en daarom kan ons na Hom toe gaan met ons grootste sonde en swakheid. Hy ken die diepste donker van ons elkeen se hart. Hebreërs 4:15 sê dat Hy medelye met ons swakhede het, want Hy is in alle opsigte versoek.
Jesus Christus verstaan waarlik hoeveel slaggate, afgronde en opdraendes daar op ons elkeen se pad van daaglikse bekering is.

You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui