By die Here is daar skuiling
Aan die hand van Psalm 31 kan ons saam Dawid getuig van ons volkome vertroue in die Here al is ons vol onreg.

deur ds. Ronald Bain
Baie van ons voel onseker of dalk benoud in hierdie tyd. Met goeie reg. Ons weet nie wat voorlê nie. Wat gaan van die ekonomie word? Hoe lank gaan ons finansies hou? Gaan daar anargie in die land uitbreek? Gaan hierdie virus dalk vir my en my huisgesin ook tref? Wat gaan van ons word? Dan is daar nog die ewige doemprofete wat altyd by is, of diegene wat die erns van die situasie nie wil erken nie.
Lees dié Skrifgedeelte: Psalm 31:1-9, 24, 25.
Daar is net een antwoord. Die kerk het dit deur die eeue gedoen. Hulle skuil by die Here. Dawid bid, maar dis nie net Dawid wat bid nie. Hierdie is ’n geïnspireerde gebed. Hy bid deur die krag van die Heilige Gees. Hy verkeer in ontsaglike nood. In vers 10 lees ons dat hy baie benoud is. Nou help die Heilige Gees hom om te bid in sy benoudheid: Here by U skuil ek. ’n Mens kan ook vertaal: ek neem toevlug by U.
Hoe doen ’n mens dit? ’n Mens skuil by die Here wanneer jy jou in die geloof volkome aan Hom oorgee. Jy skuil by die Here wanneer jy die volle gewig van jou redding op Hom laat rus. In kort: as jy op Hom vertrou.
Die vrug van hierdie vertroue? Jy bid dit. Jy bely dit. By U skuil ek, o Here. Die vrug van hierdie geloof? Die slot van die psalm. ’n Vermaning, ’n oproep tot geduldige vertroue. Die 1953-vertaling vertaal dit so mooi: “Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, almal wat op die HERE wag” (Psalm 31:25).
“By U, o HERE, skuil ek; laat my nooit beskaamd staan nie. Bevry my deur u geregtigheid” (Psalm 31:2).
Dan vra Dawid iets van die Here. Laat my nooit skaam wees nie. Daar staan in die oorspronklike: laat my in ewigheid nie skaam wees nie. Van watter skaamte praat Dawid hier? Dat hy verkeerd was om by die Here te skuil.
Laastens bid Dawid in vers 2 om die Here se verlossing. Hy skuil by die Here, maar vra ook vir uitkoms. ’n Verlossing deur geregtigheid. Nou het Dawid en ons almal ’n groot probleem. Hoe sal die Here ons deur sy geregtigheid verlos as ons dan vol onreg is? Is hierdie pandemie nie juis die Here wat ons wil verteer oor ons ongeregtighede nie?
Maar die kinders van God sal nie in die skande kom omdat hulle op Hom vertrou nie, want Iemand anders het ons geleer om hierdie psalm te bid en te sing. Hy het hierdie psalm van kleins af geken. Trouens, dis eintlik Hy wat hierdie psalm geskryf het – deur sy Heilige Gees. Wanneer Hy sonder ’n draad klere aan die kruis hang, neem Hy ons skande weg, want Hy dra die Almagtige se vloek wat vir ons bedoel was.
“In u hand gee ek my gees oor; U het my verlos, HERE, God van trou” (Psalm 31:6).
Hy is Godverlate, sonder skuiling, maar so het Hy ons skuiling geword vir tyd en ewigheid. So het hy ons ongeregtigheid op Hom geneem en ons sal in ewigheid nie in die skande kom voor God nie. Daarom, wanneer Hy sy versoeningswerk gedoen het bid Hy die laaste kruiswoord: Vader in U hande gee Ek my gees oor. Dit moet ons wat by die Here skuil in Christus ook sê: In u hande gee ek my gees, my lewe oor.
Ons het ’n ewige skuilplek
Wanneer die oordele van die Here hierdie aarde tref het ons ’n ewige skuilplek. Ja, ons word beproef en dis nodig dat ons beproef word. Die Here se hand lê soms swaar op sy kinders, maar ons skuil by die Here. Ons sal nie in die skande kom omdat ons op Hom vertrou nie.
So gee die Heilige Gees kalmte en uitsig. Dit laat ons volhard in die gebed. Dit maak dat ons buig onder die hand van ons Here en alle opstand of traak-my-nie-agtigheid voor die Here se voete lê. Wie by die Here skuil mag op Hom reken. Hy sal sy kinders lei. Hy sal ons deur hierdie pandemie ook dra. Daarom: wees sterk en laat julle hart sterk wees, almal wat op die Here wag.