Die waarde van Jesus se opstanding

Jesus het opgestaan uit die dood. Besef jy werklik wat die invloed van die opstanding op jou lewe is?

deur ds. Joop van Schaik

Jaarliks vier ons Paasnaweek: ons herdenk die dood van Jesus Christus op die Vrydag, en sy opstanding uit die dood op die Sondag. Het jy al vir ’n oomblik stilgestaan en werklik aan die wonder van Jesus se opstanding gedink? Besef jy werklik hoe anders ons lewens sou gelyk het as God nie ingegryp het nie? Ons sou nie ’n dag of ’n oomblik se rus vir ons siele gekry het nie, want ons sou doodbang gewees het vir die dood en die oordeelsdag van God.

Op Paassondag verkondig ons die waarde of nut van Jesus Christus se opstanding uit die dood. Dié waarde wat die opstanding vir ons bring kan in drie aspekte verdeel word:

1. Christus het die dood oorwin

God maak dit in Genesis 2:17 duidelik wat sal gebeur as die mens ongehoorsaam is: “maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy”. Na die sondeval moes iemand anders as die mens die straf van ongehoorsaamheid dra, want die mens is verlore en kan nie self die straf dra nie. Dié iemand kon niemand anders wees as Jesus Christus nie, Hy wat waarlik God en waarlik mens is.

Jesus Christus het dus die dood kom oorwin, die tweede dood. Mens sterf wel die liggaamlike sterwe hier op aarde, maar die tweede dood is vir die gelowiges in Christus radikaal verander. As kinders van God weet ons dit nou reeds en dit maak ons lewe elke oomblik kosbaar.


2. Christus waarborg die opstanding van die gelowige

Jesus Christus het die eerste dood ook oorwin, maar anders as die tweede dood. Die ligaam van die mens sterf op verskillende wyses, en so sal dit wees totdat Jesus Christus weer kom. Die liggaam word begrawe om weer deel van die aarde te word. Alle mense se liggame sal opgewek word, dié van gelowiges en dié van ongelowiges.

Vir die ongelowige gaan die opstanding sy straf net groter maak, want hy of sy gaan na liggaam en siel ’n ewige bestaan sonder God voer. Vir die gelowige gaan die opstanding totaal en al verheerliking bring. Daarom sê ons dat die opstanding van Christus ’n betroubare waarborg vir ons salige opstanding is.

In 1 Tessalonisense 4:14 word dit duidelik verkondig dat ons saam met Christus die ewige heerlikheid sal ingaan: “Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.


3. Christus wek ons tot ’n nuwe lewe op

Die belofte van die ewige lewe wat aan ons gegee is, beteken dat ons op ’n ander manier moet lewe. As Christene moet ons lewe anders wees as dié van die res van die mense, wat die enige ware God nie ken of wil ken nie. Ons word nou reeds terwyl ons nog hier op aarde is vanweë Christus se opstanding tot ’n nuwe lewe opgewek. In Romeine 6:4 word die volgende verkondig: “Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei.”

In Kolossense 2:2 word na aanleiding van Jesus se opstanding geskryf dat ons die dinge wat daarbo is moet bedink, nie die dinge van die aarde nie. Ons moet ons gedagtes rig op God en nie die hele tyd op die aardse nie. Dit word in Romeine 12:2 só verkondig: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”


Hierdie nuwe lewe, wat deur die opstanding van Jesus Christus aan ons gegee word, begin nou al. As gevolg van die opgestane en oorwinnende Christus, lei God die Vader ons om deur sy Heilige Gees met ’n nuwe oog te kyk, met ’n nuwe hart te voel, met ’n nuwe verstand te dink, en met ’n nuwe hand te doen. Kom ons lewe hierdie nuwe lewe voluit, elke dag.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui