Hou goeie moed in Jesus Christus

deur dr MJ du Plessis

Die Here se Woord leer ons dat ons in moeilike tye baie geduldig moet wees, want Hy is elke oomblik met ons. Hy beplan en beheer elke oomblik en elke gebeurtenis wat oor ons kom. Net soos die Ou Testament reeds van Jesus Christus se lewe, sterwe en opstanding vertel en ons die vervulling daarvan in die Nuwe Testament lees. Daar kom nie toevallig iets oor ons wat goed of sleg kan wees nie, die Here beskik oor elke saak. In elkeen van ons se lewensroeping lê daar moeilike eise voor, maar weet dat God saam met jou deur dit gaan. Wanneer ons deur tye van swaarkry gaan, moet ons geduldig wees en besef dat die Here ook tye van voorspoed en vreugde gee. Hy gee elke dag vir ons sy beskerming. Die Here bewaar jou as ware gelowige in elk geval so dat jy na hierdie lewe in sy koninkryk ingaan.

Kom ons kyk wat die Bybel en Jesus Christus se lewe ons oor moedhou leer:


Niks kan ons van God skei nie

Daar is ’n refrein wat deur die Bybel loop en al die gelowiges het dit deur die eeue gehoor. God sê dit vir ons ook: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand” (Jesaja 41:10, 1953-vertaling).

Waar kom die kwaad dan vandaan? Van die duiwel af. Dink maar net aan Job se lewe. In hierdie lewe laat die Here nog toe dat die duiwel ons lewens kan omkrap en baie ongemaklikheid bewerk. Maar in die hiernamaals is dit nie meer moontlik nie, want die Here laat hom selfs nie eers daar toe nie. Ons leer uit die Bybel dat niks wat gebeur per toeval is nie, maar uit God se hand ons toekom. Ons bely dat ons vir ons toekoms ons volle vertroue in God sal stel. Ons vertroue sal so vas wees dat geen skepsel of iets ons van God se liefde sal kan skei nie. “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Romeine 8:38-39).


Daar is ’n doel met swaarkry

Op ’n ander plek leer die Bybel dat ons nie moet moedeloos word nie. Swaarkry het ’n bepaalde doel in ons lewens: Al is ons uiterlik besig om te vergaan, sê die Here, word ons innerlik van dag tot dag vernuwe (2 Korintiërs 4:16). Die Satan het baie beplanning in die mens se kultuur ingebou waarmee hy die mens onder die indruk wil bring dat daar magte buite God om is wat oor die mens se lot beskik. Maar teenoor al hierdie valse opvattinge openbaar die Here Homself baie duidelik. Hy is van ewigheid tot ewigheid toe God. Alle mense wat ’n groot afhanklikheid aan die Here het, sal ook verstaan hoe swak en verkeerd ’n mens kan wees. Dit is waarom die skrywer van Psalm 38:19 sê: “Ek bely my ongeregtigheid, my sonde kwel my.” Dit is waar ons bekommernis behoort te lê, ons sondes moet ons kwel sodat ons, ons ongeregtigheid kan bely.


Jesus Christus is hoekom ons kan moedhou

Onthou altyd dat die Here Jesus se hele lewe, sy lyde, sterwe en opstanding die onwankelbaarheid van God se raadsplan oor ons lewens bewys. Die Here Jesus was in die voorsienigheid beloof. Toe kom Hy en vervul al die beloftes wat die Here oor baie eeue in die Ou Testament oor Hom beloof het. Die dinge is belowe en gegee sodat ons kan moedhou en op God vertrou.

Ons hoef ons nie te skaam as ons bang en moedeloos word nie. Die Here Jesus was ook bang. Hy sweet bloed van vrees vir wat voorlê en tog besluit Hy om in gehoorsaamheid aan God Hom aan haat en skynheiligheid van die mense oor te gee sodat Hy hulle kan red. Dié redding geld ook vir ons. Daarom mag ons nie toelaat dat moedeloosheid ons iewers van die pad aftrek en parkeer sodat die lewe by ons verbygaan nie. Ons is geroep om die lewe tot eer van God te leef.

Die aand voor die kruisiging maak die Here die dissipels wakker en moedig hulle aan om nie by hierdie lewe met sy dinge vas te steek nie. Hulle moet hulle visiere stel op die tyd anderkant ons geskiedenis wanneer die Here die wêreld oorwin het. Dan sê Jesus dié woorde: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Johannes 16:33). Dit is hierdie woorde waaraan ons elke dag kan vashou, juis sodat ons tot eer van God kan leef, maak nie saak wat om ons gebeur nie.


Lees die volledige preek hier vir nog voorbeelde in die Bybel wat ons moed gee om aan te hou moedhou.

Jy sal ook hou van ...

1 Response

  1. Tanja sê:

    My moed gegee vandag

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui