Hoe weet ’n gelowige watter musiek om te luister?

Hoe evalueer jý die musiek wat jy luister? Lees hier hoe om te bepaal of jou musiek reg is en wanneer jy ’n dowe oor moet gooi.


deur ds Werner Brotherton

In Efesiërs 6 ontvang ons die opdrag om die volle wapenrusting van God aan te trek, omdat ons hele lewe in ’n oorlogstryd is. Elke dag moet ons waak teen die bose. Die een plek waar die bose ook baie grond wen is op die terrein van musiek. Weet jy altyd waarna jy luister? Die doel van musiek is om die Here te eer, verheerlik en loof.

Pasop vir musiek met ’n Christelike sousie

Ag maar dit sing so lekker!” dink ons van baie liedjies. Baie van die liedjies sal dan ook nog woorde inhê wat vir ons klink soos woorde wat ons uit die geloof herken. Daar word gesing van die Here, van Dawid, Jona, ensovoorts. Dit is veral vandag in Afrikaanse musiek populêr om ’n Christelike sousie in te werk.

Die vraag is of dit waarna ons luister goed is vir ons. Ja, ook daardie liedjies met die “geloofswoorde” in. Wanneer ons egter mooi gaan luister sal ons besef dat sommige liedjies belaai is met Voorspoedteologie en ander gedagtes wat onbekend aan die Bybel is.

Beoordeel musiek met die Bybel

Hoe ek dan liedjies beoordeel wat “geloofswoorde” in het, is om dit met die Bybel in die hand te doen. Daar is byvoorbeeld in ’n nuwe liedjie van ’n bekende sangeres die woorde “die Here sê vir my en jou: ons is goed genoeg.” Tog is dit glad nie ’n Bybelse gedagte nie. Die Skrif leer juis dat ons moet verander. Vlees en bloed (ons sondige natuur) kan nie die hemele ingaan nie. Ons moet weergebore wees.

Vermy musiek met losbandige gedagtes

Wanneer ons na die sekulêre musiek begin kyk word die prentjie deurmekaar. Daar is mooi en goeie musiek daarbuite. Daar is egter ook baie musiek om teen te waak! Luister bietjie na die algemene dansmusiek dan sal ons hoor dat die gedagtes nie baie sedelik is nie; daar is baie losbandige gedagtes in. Iemand soos Taylor Swift se nuutste musiek is iets wat ons as gelowiges heeltemal moet vermy.

Nie alle musiek is verkeerd nie

Tog is dit nie alles negatief nie! Daar is ook baie mooi liedjies waarna ons as gelowiges kan luister. Daar is geweldige mooi liefdesliedjies waarna ons kan luister. Sommige meen dat ons nie na sulke liedjies kan luister nie, omdat dit mense eer. As dit mense-verering is, is dit natuurlik verkeerd. Daar is egter niks fout om ons liefde aan mekaar met musiek te beskryf nie.

Die boek Hooglied in die Bybel is juis so boek waar ’n man en vrou hulle liefde aan mekaar verklaar. Hooglied is wel ook ’n lied oor die liefde tussen Christus en Sy bruid (die kerk).


Vermy musiek wanneer:

  • Dit iets verheerlik wat teen God se wil is.
  • Wanneer dit dwaalleer insluit (dit beteken ons moet die Bybel baie goed ken om dit in musiek, en alle aspekte van ons lewe, toe te pas).

Musiek wat ons kan luister:

  • As dit waarlik ooreenstem met die Woord.
  • Wanneer dit nie aanleiding gee tot sondige begeertes nie.
  • Wanneer dit God verheerlik.

Ons kan onsself dus afvra: sou ek dit luister as ek weet dat die Here dit ook hoor? Want die Here hoor, sien en weet van alles. Daarom moet ons ook in die stryd wat in musiek is vasstaan in die oorlogstryd. Maar ons mag ook musiek tot eer van die Here geniet.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui