Pinkster: Die fees van die Gees
Kruispad kyk na wat ons kan leer uit die ooreenkomste tussen die Oesfees in die Ou Testament en die Pinksterfees in die Nuwe Testament.
deur ds. Danie de Kock
Die Here gee vir ons bakens langs ons geloofpad, feesgeleenthede om sy verlossingswerk te herdenk. Ons lees van sulke feeste in die Ou en die Nuwe Testament. Hier kyk ons na die Fees van die weke en die Pinksterfees – die fees van die uitstorting van die Heilige Gees.
Die Here verlos sy volk tot diens
In sowel die Ou as die Nuwe Testament gaan die feeste oor die Here wat sy volk verlos sodat hulle Hom kan dien. In die Ou Testament verlos God sy volk Israel uit die slawerny in Egipte. Hy stuur aan hulle ’n man, Moses, wat op ’n besondere manier uit die water van die Nyl gered word en in die Farao se paleis grootword. Hierdie Moses lei die volk na hulle beloofde land. Die volk se verlossing uit Egipte word in die Ou Testament tydens die Pasga herdenk. Hierna volg die Shavuot-fees. Die Hebreeuse woord Shavuah beteken week. Min of meer sewe weke na die Pasga word die Shavuot-fees, oftewel die fees van die weke gevier. Dit is ’n dankbaarheidsfees waar die begin van die oes gevier word.
Dit is insiggewend om die parallel met Jesus Christus en die Nuwe Testament te sien. In die Nuwe Testament verlos God sy volk uit die slawerny van die sonde. Hy stuur ’n Man, Jesus, wat op ’n besondere manier uit die maagd Maria gebore word. Hy, die Seun van God, word groot in ’n gewone gesin. Hy lei God se uitverkore volk na hulle beloofde land –die ewige lewe. In die Nuwe Testament word die verlossingswerk van Christus jaarliks tydens die Paasnaweek gevier. Die woord Pinkster kom van die Griekse woord pentakoste wat vyftig beteken. Vyftig dae na Paasfees (dit wil sê, min of meer sewe weke) word Pinksterfees gevier. Dit was dus tydens Shavuot of Pinkster wat ʼn oesfees was, wat die Heilige Gees uitgestort is.
Die volk vier fees want hulle lewe met hoop
Die fees van die weke, sewe weke na die Pasga, is met die eerste gerwe koring wat van die lande af geoes is gevier. Die oes op die landerye was destyds die bewys van die Here se seën. Die nuwe lewe wat die Here aan sy volk gegee het. Daarom het die volk fees gevier. Met hulle koringoes kon hulle as volk van God elke dag lewe.
In die Nuwe Testament word die Heilige Gees tydens Pinkster vyftig dae (sewe weke) na die Here Jesus se opstanding uit die dood uitgestort. God stuur sy Gees, sy “oes” na sy volk juis om aan hulle ’n nuwe lewe en ’n toekoms te gee.
Ons lewe vandag met dieselfde hoop!
In Hebreërs 11:1 is ’n definisie van geloof: “Om te glo is om seker te wees van dit wat ons hoop, om oortuig te wees van dit wat ons nie sien nie.” Ons sien nie die Heilige Gees nie, maar ons sien baie duidelik wat Hy doen. Ons sien hoe Hy nuwe lewe bring. Hy kom trek binne-in elkeen van ons in en maak ons deel van God se oes. Die Here het aan ons die Heilige Gees in ons gegee, net soos Hy die oes gegee het, as die bewys van ’n nuwe lewe en ’n toekoms in sy koninkryk. Toe die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is, het die dissipels in allerhande tale oor die groot dinge wat God doen, begin praat. Duidelik was die doel van hierdie gawe om alle nasies dissipels te maak.
Die lewende hoop word deur ’n gawe bevestig
Die Israeliete het die eerste gerwe koring tydens die fees van die weke aan die Here teruggegee as bewys dat hulle hele oes, hulle lewe en hulle toekoms aan Hom behoort. Hoe kan ons vandag die eerste “gerwe” van ons “oes” aan die Here gee? Deur onsself onder leiding van die Heilige Gees in sy diens te stel en dadelik te begin om dissipels te maak.
Ons kan die vrug van die Gees, naamlik “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, nederigheid en selfbeheersing” (Galasiërs 5:22-23), aan die Here wy. Mense moet sien hoe die vrug van die Gees in ons elkeen se lewe duidelik word en ons laat feesvier. Met hierdie “gerwe” wat die vrug van die Gees is, word ons lewe een groot fees.
Daar is werk wat wag!
Die volk Israel moes destyds, na die fees van die weke, teruggaan lande toe want die hele oes moes dan nog ingesamel word. Net so, kan ons ook nie net feesvier nie. Ons lewe in diens van die Here en sy koninkryk, en daar is werk wat wag.
Die Here het ons uit die greep van die sonde, die satan en die dood bevry. Hy het ons sy volk gemaak. As bewys dat ons sy volk is, het Hy ons met ’n wonderlike “oes” geseën: Sy Gees wat Hy uitgestort het. Ons kan nou feesvier! Daarom bring ons van die eerste gerwe van die oes, die vrug van die Gees, na die Here toe. Ons vier Pinkster, die fees van die Gees. God se Gees is uitgestort. Hý verander mense se harte. Hý gee nuwe lewe, maar iemand moet die oes insamel. Onthou wat die Here gesê het: “Die oes is groot en die arbeiders min …” (Lukas 10:2).
As ons klaar fees gevier het, wag die werk. Die oes moet ingesamel word. Is jy as verloste mens bereid om aan die werk te spring? Onthou, jy moet persoonlik help om die oes in te samel!
Lees die volledige preek hier.
Ek wil graag by die here bly