Die Hemelvaart bring vir ons duidelikheid

deur ds. Hannes Lee
Die Hemelvaart staan sentraal tot ons geloof. Ons bely dat Jesus opgevaar het na die hemel en aan die regterhand van God sit. Deur die Hemelvaart lewer Jesus Christus bewys daarvan dat Hy die opgestane Here is wat die dood oorwin het, en dat Hy weer na sy hemelse woning gaan. In Handelinge 1:1-11 lees ons van Jesus se Hemelvaart en gesprekke met sy dissipels voor dit. Uit hierdie gedeelte, en met sy Hemelvaart, het Jesus talle misverstande, wat moontlik tot verwarring of hartseer kon lei, van ons weggeneem.
Ons kyk spesifiek na hierdie drie misverstande wat uit Jesus se Hemelvaart duidelik word:
- Die misverstand oor Jesus se lewe op aarde
- Die misverstand oor die koninkryk
- Die misverstand van die kerk se werk op aarde
Die misverstand oor Jesus se lewe op aarde
Die Hemelvaart neem alle misverstande oor Jesus Christus weg, wie Hy is, en wat Hy doen. Dit trek ’n skeidslyn tussen sy bediening op aarde, en wat Hy nou in die hemel doen. Dié skeidslyn beklemtoon dat Jesus wel op die aarde was en nou in die hemel is. Hierdie een gebeurtenis bevestig die ganse openbaring oor Jesus Christus: Die Een wat reeds aan Adam en Eva belowe is, wat die verbond met Abraham sou vervul, waaroor die hele Ou Testament geprofeteer het, het werklik gekom. Hy het aarde toe gekom en die koninkryk van God verkondig. Hy het al die sonde op Hom geneem van dié wat die Here gekies het om ewig in sy koninkryk te mag wees. Hy het die eer van God herstel en die heerlikheid van die koninkryk van God geopenbaar. “Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe” (Handelinge 1:3). Hy is dieselfde Christus as die een wat die dood ingegaan het. En dan, voor die oë van die dissipels vaar Hy op na die hemel.
So onbetwisbaar as wat die getuienis was dat Hy werklik uit die dood opgestaan het, so onbetwisbaar is die getuienis oor die Hemelvaart. Net soos Hy weggeneem is, sal dieselfde Jesus Christus weer terugkom.
Die misverstand oor die koninkryk
Die tweede misverstand wat die Hemelvaart regstel, is die verwagtinge van die mensdom oor die koninkryk van God. Ons lees in Handelinge 1:6 dat die dissipels vir Christus vra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Die dissipels verwag dat Christus ’n koninkryk vir Israel gaan oprig. Hulle het gehoop Christus gaan aankondig dat Hy die troon van die ou koninkryk van Israel gaan herstel, en dat Hy fisies in Jerusalem op die troon gaan sit en regeer. Hulle het onmiddellike, aardse glorie vir die volk Israel verwag. Hulle moes toe reeds geweet het dat al die profesieë oor Christus, alles wat Hy verkondig het en alles wat Hy gedoen het, oor die koninkryk van God gaan. Dit is waarvoor Hy gekom het. Hy kom die koninkryk van God vestig, nie ’n aardse koninkryk nie. Jesus antwoord hulle: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie” (Handelinge 1:7).
Die Hemelvaart was die laaste bevestiging dat die koninkryk van God geestelik, en nie aards is nie. Christus vaar op na die hemel voor die oë van die dissipels, om enige onduidelikheid uit die weg te ruim. Met die insig wat God se kinders van die Heilige Gees ontvang, weet ons watter groot genade dit is dat God se koninkryk nie tydelik is nie. Dit is ook nie beperk tot net die Bybelse volk Israel nie. Die koninkryk van die hemele, wat in Christus gaan aanbreek, strek tot in alle ewigheid.
Die misverstand van die kerk se werk op aarde
Die derde misverstand wat deur die Hemelvaart van Christus opgeklaar word is die rol en taak van die kerk van Christus op aarde. Jesus het na die hemel opgevaar, en ons strewe daarna om by ons hemelse Vader te wees. Maar wat moet ons as kerk doen terwyl ons nog op die aarde is? Daar mag geen misverstand wees nie. Die Here het ’n spesifieke taak vir ons, net soos Hy vir die dissipels gesê het: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Handelinge 1:8). Die taak is om die Woord van die Here wêreldwyd te verkondig. Hulle hoef dit nie alleen te doen nie, Jesus belowe aan die dissipels ’n gawe, die Heilige Gees. Deur die Gees het die dissipels die krag gehad om die werk van die Here te doen, om die kerk van die Here te vestig en bymekaar te maak. Ons is sonder twyfel die produk van hulle werk.
As kinders van God, wat deur Hom begenadig is om te glo, moet ons nie net passiewe ontvangers van die evangelie wees nie. Ons staan in diens van God. Hierdie diens sluit in: diens in ons gemeentes, waar ons help om die kerk van die Here te bou, waar ons die amp van die gelowige uitleef, en fokus op die belangrike dinge in die kerk. Dit gaan oor die dinge van die Here, nie die dinge van mense nie. Ons moet onthou dat ons ambassadeurs van die koninkryk van die hemele is. Ons moet die gestorwe, opgestane en opgevaarde Here Jesus aan die wêreld verkondig, tot Hy weer kom.