Leer die Wysheid in Spreuke ken

Wat is die belangrikste in jou lewe? Lees hier wat Wysheid ons in Spreuke leer, en hoe ons dit in ons lewens moet toepas.

deur ds Lohan Linde

Wysheid word vir ons in hierdie besondere gedeelte in Spreuke 8 as ’n vrou voorgestel, ’n dame wat vir die mensdom wys wat hulle moet doen, wat ons as belangrik moet sien, waarna ons moet luister, wie ons moet volg.

Met tye in die hoofstuk raak dit moeilik om te onderskei tussen dit wat Vrou Wysheid sê, en wat die Here God vir ons leer oor wie Hy is. Veral as Dame Wysheid in hoofstuk 8 begin fokus op dit wat sy vir die mens kan doen, dan is dit baie moeilik om te kan onderskei tussen haar werk, tussen die werk van Wysheid, en die werk wat God Drie-enig in ons lewe doen.

Dit is egter nie ’n probleem nie. Dame Wysheid is nie ’n godin wat aanbid word nie. Dame Wysheid word in hierdie gedeelte net met beeldspraak vir ons so gewys, sodat dit meer impak kan hê as ’n boodskap vir die mense van die Bybelse tyd, maar veral ook vir ons vandag.


Wysheid begin by die dien van die Here

Dame Wysheid kan nie sonder God gebruik word nie. Daarom word daar ook in Spreuke 9, en 15 ander keer in die Ou Testament, vir ons gesê:

Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.

Spreuke 9:10

Wysheid en Insig word nie van mekaar onderskei nie. In Spreuke 8 word hulle saam as Dame Wysheid voorgestel, as ’n voorbeeld vir ons.

Sonder om na die Here te luister, het jy nie Wysheid nie. As jy nie ’n gelowige is nie, het jy nie die Heilige Gees nie, en het jy daarom ook nie Wysheid of Insig nie.

Wysheid en Insig beteken nie noodwendig om slim te wees nie. Om ’n paar grade agter jou naam te hê, of om ’n groot pos te beklee het, wat beteken dit inelkgeval nou.

Het jy dit wat jy was, die werk wat jy gedoen het, gebruik tot die eer van die Here? Wanneer mens dit vra is wanneer mens meer in die rigting van wysheid beweeg, eerder as net pure slimmigheid of intelligensie.

Dit gaan nie hier oor of jy wiskunde kan doen nie, dit gaan hier eerder oor ’n ander vraag: Weeg dit op?


Wat is die belangrikste in jou lewe?

Ek, Wysheid, is kosbaarder as edelstene; wat jy ook al as baie werd beskou, teen my weeg dit nie op nie.

Spreuke 8:11

Wat weeg op in jou lewe? Of beter gestel, wat weeg die swaarste? Is dit jou gesondheid? Is dit jou tyd? Jou familie? Jou goeters? Is dit jou standvastigheid, jou geluk, jou sekuriteit?

As jy jou geloof op die een kant van ’n skaal neersit, en al die ander dinge op die anderkant, wat weeg die swaarste? Dit is wat die Heilige Gees ons probeer leer deur die beeld van vrou Wysheid.


Jy moet jou geloof voorop stel

Geloof is nie iets om weg te steek nie, dit is nie iets waaroor ons skaam kry nie. Wanneer God vir ons geloof gee, gee Hy Wysheid en Insig, nie sodat ons dit mooi op die kas kan gaan bêreom net nou en dan daarna te kyk nie. Nee, dit is vir altyd, in alles, sodat ons Hom kan dien daarmee.

Wysheid gaan staan op die plekke waar die mense haar kan hoor. Op die hoogtes langs die pad, by die kruispaaie en stadspoorte, by die ingange gaan staan sy en roep sy haar boodskap uit aan die mense. Sy gaan staan op die besige plekke, waar die meeste mense is, sodat almal haar lewensbelangrike boodskap kan hoor.

Wat sy te sê het is nie iets wat sy wil wegsteek nie, dit is nie iets wat sy stilletjies op haar eie wil gebruik nie, nee, die Wysheid dwing haar om die boodskap, die Goeie nuus aan almal te gaan vertel. Sy is ook nie by die tempel of plekke van aanbidding waar sy haar boodskap vir die mense bring nie.

Dit sê al klaar vir ons iets van Wysheid. Wysheid in die Here, Wysheid wat mens van die Here af ontvang, beteken nie dat dit iets is wat jy net nou en dan gebruik nie. Nee, dit is iets wat jy met jou saamdra.

Onthou wat werklik belangrik is

Sien, ons word so baie kere verstrengel deur die wêreldse goed, deur die dinge wat ons as belangrik aanskou, dat ons vergeet wat werklik belangrik is, wat werklik gewig dra.

Vrou Wysheid kom roep na die mense in hulle daaglikse doen en late, en sê vir hulle: hier waar jy nou is, skool of universiteit, of hier by jou huis, in jou studeerkamer, voor jou rekenaar; hier waar jy besig is om te kuier, of om op jou foon boodskappe te stuur, hier is dit juis waar jy my nodig het, hier is dit juis waar jy nodig het om die Here se Wysheid vir almal te wys.

Hiér is dit juis nodig dat die mense rondom jou sal sien hoe wonderlik swaar jou Verlossing in Jesus Christus in jou lewe weeg.

’n Gelowige se lewe getuig dat ons weet dat alles net genade is. God se genade en liefde, in sy Seun Jesus Christus se verlossing. Dit weeg die meeste, want ons Here het die duurste daarvoor betaal. Daarom die oproep en opdrag in ons lewens, dat jou Verlossing, jou geloof, die meeste weeg.

Dit is die eerste en belangrikste ding wat die beeld van die vrou Wysheid ons leer, om jou te laat besef hoe belangrik dit is om God te dien, hoeveel jou Verlossing in Jesus Christus weeg. Dat niks op aarde daarmee kan vergelyk word nie.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui