Hoekom moet jy die Here vrees?

In Spreuke 1:7 lees ons dat kennis begin met vrees van die Here. Lees hier hoe dié twee woorde bymekaarkom, en hoekom hierdie vrees goed is.

deur ds Johan Nel


Dis vir niemand lekker om bang te wees nie. Om bang te wees is iets wat mens vermy. Vrees is iets waarvoor mens terapie gaan kry. Dink maar aan vrees vir mense, of spinnekoppe, of water. Al hierdie vrese het name en terapeute, en beraders help mens om so ’n vrees te oorkom. Dit neem baie tyd en kos duur om die terapie van so ’n vrees klaar te maak en nie meer so bang te wees nie.

Maar in Spreuke 1:7 lees ons van vrees asof dit iets goed is. Die Bybel is die woorde van God, en dit is dus in werklikheid God wat sê dat vrees iets goed is. Ek wil nie iets vrees nie, en die Here sê dat vrees goed is en deel van my lewe moet wees. Ons moet dieper delf en uitvind hoe ons en die Here bymekaar kan uitkom, waar dit oor vrees gaan.

DIE vrees van die Here is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.

Spreuke 1:7

Kyk eers na die verskille tussen Bybel-vertalings oor die “vrees van die HERE”

Eers iets oor die vertalings wat ons gewoonlik gebruik. Die 1953-vertaling lees “Die vrees van die HERE”. Die 1983-vertaling het die volgende woorde:”… die dien van die Here”. Die oorspronklike skrywer, wat waarskynlik Salomo was, maar nie net hy alleen nie, daar was ook ander saam met hom, het in Hebreeus geskryf. Mens moet dus seker maak wat die Hebreeuse woord beteken. Dit gaan nie daaroor om die 1983-vertaling te kritiseer nie, maar eerder dat om vrees met “dien” te vertaal, die betekenis van die woord minder word as wat dit werklik is.


Die betekenisse van die woord “vrees”

Die Hebreeuse word vrees “yiraht” het vyf betekenisse. Dit is nie nodig om vir hierdie vers op almal in te gaan nie. Drie van die vyf betekenisse is belangrik om Spreuke 1:7 beter te verstaan.

1. Die emosie van vrees

Toe die Here sy Wet op Horeb vir Israel gegee het, was daar ’n groot donker wolk bokant die berg. Die donderweer het gedreun, weerligblitse het geslaan en ’n harde geluid van ’n ramshoring het van iewers af gekom. Israel het gebewe (Eksodus 19:16). Toe die Here te midde van al hierdie verskynsels op die berg uit vuur met hulle gepraat het, het Israel gevrees (Deuteronomium 5:5).

Dink hoe jy sal voel as die weerlig met ’n geweldige slag rondom jou slaan en die donderweer hard en onheilspellend dreun met ’n donker wolk hier bokant jou. Dan is dit nog maar die donderweer en weerlig waarvan ’n mens praat en nog nie die almagtige God wat donderweer en weerlig skep en beheer nie! Wanneer jy voor God lewe, kan jy nie op jou gemak wees en alles maar net geniet asof die Here Iemand gewoon is nie. Daardie besef hier binne hoe groot en geweldig die almagtige en heilige God is, is die vrees van die Here.

2. Eerbied

Die skrywer van die Hebreërbrief skryf die volgende: “Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ‘n verterende vuur” (Hebreërs 12:28,29). Enige mens het groot respek en ontsag vir vuur. Vuur vernietig alles wat voorkom en vuur beweeg baie vinnig. Die mens wat vuur onderskat het, het nog elke keer die hoogste prys betaal. Die respek wat jy vir ’n groot vuur het wat alles voor hom verteer, is die eerbied wat opgesluit lê in die woord vrees hier in Spreuke 1:7.

3. Die regte optrede voor die Here

God het opdragte gegee oor die koning wat oor Israel sou regeer. Die koning van Israel moes ’n afskrif van die Here se wet by Hom hê. Hy moet elke dag daarin lees dat hy kan leer om die Here te vrees. Hy sal die Here vrees wanneer hy alles wat die Here in die wetboek vra, onderhou en dit doen.

Wanneer ons hierdie drie betekenisse van vrees wil saamvat, kom mens uit by “heilige eerbied en ontsag wat mens net vir God het”. Dit is waarvan die Here in Spreuke 1:7 praat. Ons sien hierdie heilige eerbied en ontsag vir God die Vader by Christus. Christus wys ons wat dit beteken om God te vrees. Hy wys ons nie net nie, Hy verlos ons ook van die sonde om God nie te vrees nie.


Wat bedoel die Here met wysheid?

Wysheid is nie algemene lewenswaarhede nie. Alle mense het dit. Heidene en sataniste doen ook lewenservaring op wat maak dat hulle lewenswaarhede ontdek.Dit is ook nie bloot kennis wat jy in jou verstand het nie. Wysheid is lewenskennis en insig wat die Here in die lewe van elke dag van ’n gelowige in die genadeverbond verwag. Dit is ’n lang beskrywing. Kom ons breek die sin op. Vier dinge is belangrik:

  1. Lewenskennis en insig. Dit gaan dus oor kennis en insig van hierdie lewe waarin ons is. Die mens wat lui is, moet byvoorbeeld kyk hoe hard die miere werk (Spreuke 6:6).
  2. Hierdie kennis en insig is elke dag op elke terrein nodig en belangrik. Kennis en insig is belangrik in ons gesinslewe, vriendskappe, die woorde wat ons sê, ons aardse besittings en al die ander lewensterreine wat in Spreuke genoem word.
  3. Die Here verwag hierdie kennis en insig van jou. Elke spreuk is ook in werklikheid ’n opdrag van die Here. “’n Sagte antwoord laat woede bedaar, ’n krenkende woord laat woede ontvlam” (Spreuke 15:1) is ’n opdrag van God.
  4. Die kennis en insig wat die Here verwag hoort by ’n gelowige in die genadeverbond. Die Naam van die Here wat in Spreuke 1:7 gebruik word, is sy Verbondsnaam, “Jahweh”. In Spreuke praat die Verbondsgod dus met ons, sy verbondskinders.

Saamgevat kan ons sê: Wysheid is om te weet wat die Here elke dag van my verwag en so te lewe.


 Hoe kom vrees en wysheid by mekaar uit?

Vergelyk nou die samevattings van wat die Here met vrees en wysheid bedoel:

  • Vrees: “heilige eerbied en ontsag wat mens net vir God het.”
  • Wysheid: “Om te weet wat die Here elke dag van my verwag en so te leef”.

Die twee woorde hoort saam! Hulle is so naby aan mekaar dat jy kan sê: As jy heilige eerbied en ontsag vir God het, sal jy weet wat die Here elke dag van jou verwag en sal jy so leef. Dit is in werklikheid wat die Here in Spreuke 1:7 bedoel. Die Here wil dat vrees vir Hom en wysheid deel van jou lewe sal wees.


Hoe kry ek dit reg dat vrees en wysheid deel van my lewe word?

Daarvoor het die Heilige Gees gekom. Die Heilige Gees laat jou weergebore word. Hy gee aan jou geloof in Christus. Hy verander ’n mens wat sonder vrees vir die Here en sonder wysheid geleef het, in ’n verloste gelowige wat die Here vrees en daarom met wysheid leef.

Wanneer ’n mens so na Spreuke 1:7 kyk, besef jy dat hierdie vers kosbare woorde van die Here bevat, wat elkeen van ons graag met ons saam sal wil neem op ons lewenspad.


Die artikel is verwerk van ’n preek wat Ds. Johan Nel gelewer het by Gereformeerde Kerk Akasia. Lees die volledige preek hier.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui