Wat die Bybel oor saambly sê
deur ds. Lohan Linde
Saambly voor die huwelik as kêrel en meisie, of as verloofdes, is deesdae ’n algemene verskynsel. So algemeen onder almal (ja, jongmense, ouer mense, bejaardes, almal is skuldig) dat dit glad nie eers meer iets is wat mense dink is snaaks of ongewoon nie, wat nog te sê van verkeerd.
Voordat ons kyk na wat die Bybel sê, moet ons seker maar eers gaan kyk na die wêreldse redes vir saambly voor die huwelik, want hieruit is dit makliker om dan te onderskei wat God van ons verwag.
Verskonings wat mens hoor is: ons toets om te kyk dit of die verhouding reg is vir die volgende stap, of dat dit goedkoper is, of dat dit inelkgeval nie verkeerd is nie, want ons gaan mos een of ander tyd trou. Hierdie verskonings kom gewoonlik van mense wat hulself nog as Christene of christelik beskou. Ons praat hier nie eers van die mense wat geen probleem met saambly sien nie, omdat hulle nie in God glo nie.
Maar, wat sê die Bybel oor saambly?
Eenvoudig: nie veel nie. Daar is niks verkeerd met saambly nie. Die sonde kom deur die idee dat ongetroudes kan saambly as getroudes, en doen wat getroudes doen. Hierso praat ons veral van seks, maar enige getroude sal vir jou kan vertel dat dit soveel meer is. God het ’n orde van die begin af saamgestel. Hoor wat sê Genesis 2:18: Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”
God gee vir ons die huwelik as een van ons grootste geskenke. ’n Ruimte waarin twee een kan word, geestelik en fisies, ja. ’n Ruimte waarin daar kinders gebore en opgevoed kan word. ’n Ruimte waarin man en vrou kan groei, vreugde kan vind, mekaar kan dra en bystaan. Verder gee God die huwelik sodat mense ook kan weggehou word van ’n verskeidenheid wêreldse sondes: verslawings, losbandigheid, egbreuk, die lysie gaan aan.
Weet julle wat is eintlik die belangrikste verse oor saambly? Efesiërs 4:22-24 sê:
Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.
Dit is die beginsel agter alles, is dit nie? Is God belangrik genoeg in jou lewe dat jy bereid is om vir Hom heilig te wees? Anders te wees? Te wys dat jy aan God behoort en nie aan die wêreld nie? Die wêreld sal vir jou sê dat hierdie normaal is, dat hierdie reg is. Die wêreld sal sê eksperimenteer met die seksuele. God sê vir jou dat ek hierdie wonderlike gawes vir jou gee, die huwelik, ’n huweliksmaat, die seksuele, maar dit is net bedoel vir binne die huwelik. God het dit so gemaak en gegee omdat Hy weet dat dit die beste is, die manier hoe ons as mense Hom die beste kan dien, maar hoe ons ook die gelukkigste sal wees, en die meeste vrede en vreugde sal kan ervaar. Hoekom sal ons hierdie wonderlike geskenk dan vir eers wil toedraai in vuil verbleikte koerantpapier en wegsteek in die kas?
Hoekom wil jy saambly?
Hoekom saambly? Trou dan as jy so seker is dat dit is wat julle gaan doen. As julle nie seker is nie, moenie julle besighou met getroude dinge nie. Ek het ongelukkig al te veel gesien hoe dit alles met trane eindig. Om halfhartig in ’n verhouding in te gaan, en om so die deur oop te los vir een van die partye om te kan weghardloop, is nie gesond nie. Nie vir enige van die betrokkenes nie.
Paulus gee hier ’n baie belangrike beginsel vir enige huwelik: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is” (Efesiërs 5:22) en “Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het” (Efesiërs 5:25). Toets jou verhouding hieraan. Is dit wat jy self glo en bely, is dit wat jy in jou vriend, vriendin, kêrel, meisie, verloofde, sien? Is dit enigsins vir jou belangrik?
God wil hê ons moet anders wees, heilig wees, want daarmee saam seën Hy ons verhoudings en ons huwelike.