Moet liefdesverhoudings altyd tot trou lei?

Jongmense worstel dikwels met hierdie vraag. Wanneer ons egter kyk wat die Bybel oor die huwelik leer, kan ons dié vraag oor liefdesverhoudings en trou beantwoord.


deur ds. Brahm Robinson

Daar is verskeie jongmense wat met hierdie vraag worstel. Dit is ’n vraag en antwoord wat baie mooi gebalanseer moet word. Indien die kompleksiteit van die antwoord nie gesien word nie, kan die uitwerking daarvan maklik na ’n verkeerde besluit lei.


Die twee kante van die saak

Om uit te gaan (te date) is nie iets wat ons in die Bybel direk van lees en instruksies kry nie. Uitgaan (dating) is dus ’n kulturele konsep met idees daaroor wat verander soos die kultuur verander. Maar sekere fundamentele gedagtes daaraan bly dieselfde.

Aan die een kant kan daar geredeneer word dat, omdat alle verhoudings nie na trou moet lei nie, dat verhoudings die einddoel is en daar is vir my genot. Ek het daarom die vryheid om met soveel mense uit te gaan en te toets waarvan ek hou en waarvan ek nie hou nie. Omdat verhoudings nie tot trou hoef te lei nie, kan ek verhoudings gebruik om my behoeftes aan te spreek: hetsy dit geestelik, emosioneel of fisies is. Dit gebeur baie dat jongmense liefde soek omdat dit elders in hul sosiale omstandighede ontbreek.

Aan die ander kant kan daar geredeneer word dat, omdat twee mense besluit het om in ’n verhouding te wees, dat dit geëer moet word en altyd as ’n huwelik moet eindig. Die gedagte word veral versterk waar sekere lyne oorgesteek word. Die gevaar met hierdie redenasie is dat mense dalk baie ongelukkig in ’n verhouding is en dink dat alles sal regkom sodra hulle in die huwelik bevestig word.



Nee, elke verhouding hoef nie tot trou te lei nie

Die kort antwoord op die vraag is egter “nee”. Wanneer ons na ’n paar dinge kyk wat die Bybel ons leer oor die huwelik, gee dit vir ons ’n prentjie wat ons in gedate moet hou wanneer ons dink aan uitgaan. As ons besef wat die huwelik is, gee dit vir ons riglyne oor hoe ons verhoudings moet nader. As daardie eienskappe nie daar is nie, sal dit ook nie in die huwelik daar wees nie.

  • Die huwelik gaan in die eerste plek oor vriendskap! In Genesis 2 staan daar dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie en dat God vir hom ’n helper sal maak wat by hom pas (Genesis 2:18). Jou pasmaat is ’n vriendskap met ’n gelyke ander een. Dit is soos legkaartstukkies wat van mekaar verskil, maar presies by mekaar pas. Talle jongmense moet egter eers besef wie hulle self is, voordat hulle vir ’n pasmaat soek. Dit maak tog net sin. As jy nie weet wie jy is nie, hoe kan jy weet wie by jou pas?
  • Die huwelik is veronderstel om ’n leeftyd te hou. In ’n kultuur van weggooibare alles, moet die huwelik in kontras uitstaan bo alles deurdat dit ’n leeftyd hou. Met ander woorde, ek moet ’n groot mate van sekerheid hê dat ek vir my hele lewe lank saam met die ander persoon kan leef. Dit moet ook nie net ’n geval wees van net bymekaar wees nie, maar eerder dat julle mekaar aanvul dat daar sinergie is. Met ander woorde, dat daar iets besonders is wanneer twee mense saam is. Dit is een man en een vrou met ’n mooiheid wat hulle omstraal.
  • Die huwelik is veronderstel om die Evangelie te verkondig. Daar is iets spesiaals aan ’n huwelik van ’n man en ’n vrou. As mense na ’n huwelik kyk is hulle veronderstel om iets te sien oor die skoonheid en liefde wat God in die lewe geskep het. Meer nog, ’n huwelik is veronderstel om te getuig van die verhouding tussen Christus en sy kerk (Efesiërs 5:31-32). Die intimiteit, die onderdanigheid en die liefde is alles bedoel om visueel en verteenwoordigend iets oor Christus en die kerk te verkondig. Mense moet Christus se liefde in die huwelik kan sien.
  • Die huwelik is ’n verbondsverhouding waarin twee partye aan mekaar verbind word. Dit is dus twee mense wat deur God aan mekaar gebind word. Dit is ’n wettige verhouding waarin twee persone aan mekaar belowe dat hulle mekaar sal liefhê, ongeag wat gebeur. In die verbondsverhouding, leef die twee persone nie meer vir hulself nie, maar vir mekaar.

Meer oor die huwelik as ’n verbondsverhouding
God is ook ’n God wat met verbondsverhoudings werk. Dit beteken dat God die Een is wat Hom aan die mens bind en Hy is heeltemal getrou in die verhouding. Dit vind natuurlik die vervulling in Christus. Aan die teenkant van ’n verbondsverhouding is ’n verbruikersverhouding. Dit is ’n verhouding waarin jy ingaan, en vat solank dit teen ’n goeie prys kom. Jy is die doel van daardie verhouding en jou behoeftes staan voorop. Solank die ander persoon nie soveel vir jou gee as wat jy vir jouself toe-eien nie, dan gaan jy na iets beter soek. Daarom is ’n huwelik as verbondsverhouding presies die teenoorgestelde. Ek sal by jou aanpas en vir jou gee, want ek het ’n belofte gemaak dat ek jou sal liefhê. Jy is vir my belangriker as ekself. Jou behoeftes is belangriker as my behoeftes.


Voor jy dus in ’n verhouding ingaan, moet jy en die ander persoon eers baie goeie maats wees. Dit is ook nie iets wat net in ’n week se tyd gebeur nie. Dit vat baie tyd! Leer mekaar eers goed ken voor julle besluit om in ’n verhouding te gaan. As jy egter dan in ’n verhouding is, en hierdie bogenoemde eienskappe is nie teenwoordig nie, moet jy baie mooi oordink of die verhouing verder moet gaan tot ’n huwelik.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui