Wat is evangelisasie?
deur Peet van der Westhuizen
Weet jy wat dit beteken om te evangeliseer? Weet jy wat jy moet en nie moet doen nie? Ons kan dié vrae beantwoord deur eerste te kyk na wat die woord evangeliseer beteken. Die woord evangelisasie is wanneer daar geëvangeliseer word. Evangeliseer is wanneer die evangelie verkondig word. Die woord evangeliseer in Afrikaans kom van die Griekse woord “euangelizo” wat beteken “om die goeie nuus te verkondig”.
Evangelisasie is dus die verkondiging van die goeie nuus, die verkondiging van die evangelie (wat goeie nuus beteken). Maar wat is die goeie nuus? Alhoewel dit moeilik is om dit saam te vat kan dit kortliks soos volg beskryf word: Christus het gekom om vir ons sondes te sterf. Deur sy kruisdood ontvang ons vergifnis van ons sondes en word ons as kinders van God aangeneem. Ons word ook die geregtigheid (die volmaakte gehoorsaamheid aan God se wil) wat Hy deur sy lewe verdien het toegereken. Dit is die kortste en vinnigste beskrywing van die evangelie, maar daar is baie meer daaraan as net dit. Die evangelie is persoonlik. Dit gaan oor die verlossing wat jý deur die lewe en werk van Jesus Christus ontvang het. Daarom is evangelisasie in die eerste plek om aan ander te vertel wat Jesus vir jou gedoen het en vir jou beteken.
Lees die artikel Wat is die boodskap van die evangelie? hier om meer te leer oor wat die blye boodskap is.
Die basiese beginsels van evangelisasie
Wanneer ons oor die basiese beginsels van evangelisasie praat is daar twee tekste wat baie belangrik is.
Handelinge 1:8
Die eerste een is Handelinge 1:8 waar daar beskryf word wat die Here Jesus met sy Hemelvaart vir sy dissipels gesê het. Daar staan:
… maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.
Uit hierdie vers is daar drie dinge wat van toepassing is:
- Die Heilige Gees sal aan die gelowiges krag gee.
- Die krag wat die Heilige Gees gee is sodat hulle getuies sal wees.
- Die gelowiges sal getuig tot aan die uiterstes van die aarde, oor die hele aarde heen.
Die gelowiges getuig oor Wie Jesus is en wat Hy gedoen het, vanuit die krag wat die Heilige Gees gee, regoor die wêreld. Dit is wat ons bedoel met die woord evangelisasie of evangelisering.
Matteus 28:18-20
Die tweede teksgedeelte is Matteus 28:18-20. Dit is die heel laaste perikoop van die evangelie volgens Matteus. Daar staan:
En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.
As ons na die gedeelte kyk sien ons dat daar drie aspekte is aan wat hier staan:
- Eers leer die Here Jesus ons iets van Homself. Hy sê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”
- Op grond van Wie Hy is en wat Hy doen gee Hy aan ons ’n opdrag. Let veral op die woord dan in vers 19. “Gaan dan heen, maak dissipels …”
- Daarna gee Hy aan hulle ’n belofte om hulle te bemoedig in die uitvoering van sy bevel (vers 20).
Jesus het alle gesag in die hemel en op aarde en as Almagtige Koning gee Hy aan ons dié opdrag wat ons in Matteus 28:19-20 lees. Gaan dan heen. Jesus sê omdat Hy alle mag in die hemel en op aarde het, moet ons gaan. Ons moet Hom as Koning gehoorsaam en gaan. En, wanneer ons gaan moet ons dissipels maak van al die nasies. ’n Dissipel is ’n leerling of volgeling van iemand anders. Ons word dus beveel om te gaan en dissipels van al die nasies te maak. Ons opdrag is om van al die nasies volgelinge van Jesus maak.
Hoe ons moet evangeliseer
Die opdrag wat ons in Matteus kry, sluit die manier waarop ons dit moet doen in. Die 2020-vertaling sê dit goed: “maak dissipels van al die nasies deur hulle te doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat ek julle beveel het.” Daarom is die manier waarop ons dissipels moet maak deur hulle te doop en hulle te leer. Dit beteken dat die evangelie aan ongelowiges verkondig moet word. Hulle moet gebring word om hulle sondige verlorenheid te besef, en dan om onder leiding van die Heilige Gees te bely dat hulle verlossing slegs deur Jesus is. Hulle word dan gedoop en gemerk as die kinders van God die Vader, Seun en Heilige Gees.
Die werk eindig egter nie by die belydenis en doop van die nuwe gelowige nie. Hulle moet verder nog deurlopend alles geleer word wat Jesus die gelowiges beveel het. Daarom is dit ’n voortdurende taak om jong gelowiges tot geloofsvolwassenheid te lei.
Jesus belowe dat Hy by ons is
Jesus sluit sy woorde in Matteus met ’n belofte af: “en kyk, Ek is met julle tot die voleinding van die wêreld.” Hierdie is ’n groot troos en bemoediging. Die Here Jesus het gesê dat die wat Hom navolg vervolg sal word, en dat gelowiges sal swaarkry en ly in hierdie wêreld. Daarom, wanneer gelowiges die evangelie verkondig en vervolg word, geld die woorde van die Here in Matteus 5:11-12:
Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.
Dié troos is nie net vir later nie maar ook vir nou. Want Jesus het alle mag in die hemel en op aarde en Hy is by ons. Deur die Heilige Gees troos en versterk Hy ons as dit swaar en moeilik gaan. Dit sal nie ophou voordat die hemel en aarde vergaan nie.
Om te evangeliseer is dus om te getuig oor Jesus. Om die goeie boodskap van verlossing te verkondig. Dit beteken dat ons moet praat daaroor. Ons moet mense vertel. Die mense saam wie jy skoolgaan of klas het, die mense saam met wie jy dalk werk. Aan hulle moet die goeie nuus van die evangelie verkondig word. Die gevaar bestaan egter om te sê: dalk as ek goed leef dan sal hulle sien sonder dat ek hoef te praat. Maar dit is nie waar nie, ons moet dit vertel aan ander, en ons woorde moet deur ons dade ondersteun word. Daarom het ons die opdrag: gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies.