God skep ’n tuin van gemeenskap
In Genesis 2 lees ons hoe die Here bome skep, en so ’n plek van gemeenskap maak vir Hom en die mens. Deur sonde word dit verbreek, maar lees hier hoe Jesus dit weer kom regmaak.
deur ds Brahm Robinson
Ons lees aan die begin van Genesis 2 dat die verbondsnaam van die Here gebruik word. Dit is ’n aanduiding dat die hoofstuk nie net gaan oor God se verhouding as Skepper met sy skepping nie, maar oor die Here God se verbondsverhouding met die mens.
Die vertelling oor die verhouding tussen God en die mens begin deur aan te dui dat toe God alles gemaak het, daar nog nie enige struike op die aarde was nie, en daar nog nie enige groenigheid opgeskiet het nie (Genesis 2:4-5). Die woorde verwys na die heel eenvoudigste klein plante.
Wat dan baie merkwaardig is, is dat die redes gegee word hoekom daar nog nie plante was nie, want die Here God het dit nog nie laat reën op die aarde nie. En die mens was nog nie daar om die grond te bewerk nie.
Die Here en die mens werk saam
In Genesis 2:6 lees ons dat daar mis uit die aarde opgekom het om die hele aardbodem te bevogtig en dat die Here die man gemaak het. Beide die Here en Adam werk saam waar daar plante en bome moet wees.
Maar dit gaan oor meer as saam bewerking. Dit gaan hier ten diepste oor die verbondsverhouding tussen God en die mens. Dit gaan dus ook oor ’n plek waar God in volle gemeenskap met die mens leef. Hoofstuk 2 gaan dus daaroor om te stel dat daar nie ’n plek was waar hierdie gemeenskap kon plaasvind nie, maar dat God dit gemaak het.
Die Here maak ’n plek om in volle gemeenskap met die mens te leef
Dan lees ons dat die Here ’n tuin in die ooste aanlê, en Hy die mens daar laat woon. Die Here God plaas die mens in die tuin. Eden beteken vreugde. ’n Plek van God se goedheid in oorvloed. Die tuin bestaan nie net uit struike en groenigheid nie, maar daar is verskeie soorte bome in die tuin. Die tuin waar God in volle gemeenskap met die mens leef word vir ons in terme van ’n digte boomryke gebied beskryf.
Die bome is begeerlik om te sien en goed om van te eet. Daar is vreugde in die sien en eet daarvan. Die Here skep dus nie ’n patetiese armsalige plek vir gemeenskap met Adam nie. Wat ons dus in die tuin sien, is ’n plek wat God maak waar Hy en die mens in volle gemeenskap kan lewe.
Die gemeenskap met God word verbreek
Die uiteinde van die verhaal is dat Adam die gemeenskap met God verbreek het deur nie te bly by die grense wat die Here aan hom gestel het nie. Hy het hom, saam met Eva, vergryp aan ’n boom wat hulle bo die Here God gekies het.
Die gevolg van die sondeval is dat die mens uit die tuin gesit word, weg van al die begeerlike en goeie bome, na ’n plek waar die plantegroei dramaties verskil, ’n plek van dorings en dissels. Of nog beter gestel, ’n plek waar geen gemeenskap met God is nie.
Dit is nie net die plantegroei wat verander nie, maar ook die toestand van die mens. Die mens was onsterflik in ’n tuin vol bome, maar vanweë sy sonde, verdien hy die dood tussen struike en dorings. Hierdie weg wees uit die tuin, is weg van die bome, maar ten diepste sonder gemeenskap met God.
Maar, God gryp in
Hier moet ons die wonder van die evangelie sien! Ons Here Jesus wat vir ons aan ’n kruis sterf. Waar die gemeenskap verlore is, kom gee die Here verlossing en weer die lewe in oorvloed.
’n Houtpaal teenoor ’n boom
In Deuteronomium 21:22 lees ons:
EN as iemand ’n sonde doen wat die doodstraf verdien en hy gedood word en jy hom aan ’n houtpaal ophang … die een wat opgehang is, is deur God vervloek.
’n Houtpaal is in ’n sekere opsig presies die teenoorgestelde van ’n boom. ’n Boom groei en bring goeie na vore. ’n Houtpaal is ’n boom wat dood is en nooit meer kan groei of lewe nie. Maak nie saak hoe diep jy daardie houtplank in die grond in druk nie, hy sal nooit weer wortels skiet en lewe nie. Dit is ’n dooie stuk hout wat nooit meer lewe kan bring nie.
So is ook die een wat aan die paal hang. Hy is deur God vervloek as ’n aanduiding dat God, wat lewe gee, nie meer met hom is nie. Die simboliek daarvan om aan die paal opgehang te wees, wys dat daar dus nie meer lewe kan wees nie.
Ons Verlosser aan die kruis bring weer lewe
Ons sien dan so duidelik die diepte van die ellende van die mens se sonde, maar ook die groot genade van die Here, wanneer ons na die kruisdood van ons Here Jesus kyk. Hy is die Lewe wat hang aan die dooie boom. Tussen hemel en aarde is die Lewe vasgespyker teen die dood as ’n Vervloekte.
Maar God is die Verbondsgod wat weer ’n ‘plek met bome’ skep waar Hy in volle gemeenskap met die mens kan leef. En dit is wat Christus aan die kruis kom doen. Wat gebeur wanneer die Lewe aan die dooie boom opgehang word? Die gevolg is dat daar lewe kom waar daar net dood was. Waar Hy aan die kruis vir ons sondes sterf, daar gee Hy vir ons die lewe in oorvloed terug. In Hom is daar die ontmoetingsplek tussen die heilige God en die sondige mens. Hy kom gee daardie volle gemeenskap weer met die Here God.
En die wonderlike is dat die Here aan ons sy Heilige Gees gee wat ons laat weergebore word; opnuut lewe kry. Die lewe wat die dood oorwin, kom in ons lewe. En die wonderlike is dat daar bewys van daardie lewe in ons lewe is. Ons word bome wat die vrugte van die Gees dra, wat vir God verheerlik.