Die eerste en laaste bome in die Bybel
Kruispad kyk in meer diepte na die boom van alle kennis, en die boom van die lewe in Genesis en Openbaring. Lees hier meer oor hierdie bome.
deur ds Brahm Robinson
In Genesis 2:9 lees ons:
Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.
Ons kyk in hierdie artikel in meer detail na die boom van die lewe, en die boom van alle kennis.
Die boom van kennis van goed en kwaad
Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.
Genesis 2:16-17
In hierdie verse lees ons wat die Here die mens oor hierdie boom beveel. Die duiwel verlei egter die vrou om van die boom te eet. Sy het gesien dat die boom goed is om van te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. Dit word presies dieselfde beskryf as die res van die bome in die tuin (Genesis 2:9). Die versoeking was van so aard, dat dit die vrug meer verleidelik laat lyk het as wat dit is. Die versoeking was om teen God se wil op te tree.
Die boom se verleiding is daar omdat dit kennis kan gee wat die mens tot op hede nog nie besit het nie. Daardie kennis is hoe dit is om teen God se wil op te tree. Toe hulle van hierdie boom eet, het Adam en Eva se oë oopgegaan, en hulle het besef hulle is kaal.
Deur boosheid te doen, het hulle die horisonne van hul morele kennis uitgebrei. Hulle het nie net goed geken nie, maar nou ook kwaad of boosheid. God ken in sy alwetendheid boosheid soos Hy alle dinge ken. Maar God ken nie boosheid deur boos te wees nie. Adam en die vrou ken na die eet van die boom, boosheid van binne deur self dit te word.
Die boom van die lewe
Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!”
Genesis 3:22
Ons lees in Genesis 3:22 dat as die mens van die boom van die lewe eet, bly hy vir altyd lewe. Lewe is iets wat net God kan gee. Dit word uitgedruk as ’n boom. Calvyn stel dat daar ook niks besonders is aan die boom of aan sy vrug nie. Dit was ’n gewone boom. Al sou hulle die hele boom opeet, sou dit hulle nie onsterflik maak nie. Die boom van die lewe is ’n teken van die ewige lewe.
Wanneer die mens dus verwyder word van die boom, word hy verwyder van die simbool wat wys na die ewige lewe, sodat dit vir hulle duidelik sal wees dat hulle werklik weg is en die dood verdien. Hulle kan dit ook nie bereik teen die wil van God nie.
Die weg tot die boom is bewaar
Wat ons wel duidelik moet besef, is dat die toegang tot die boom bewaar was, nie net om die mens weg te hou uit die tuin nie, maar ook dat die weg na die lewe bewaar word. Die Here het nie die boom van die lewe weggevat nie. Hy het nie die ewige lewe weggevat nie. Hy het nie die weg tot die ewige lewe vernietig nie. Hy het die weg vanaf die sondige mens gehou.
In Hebreërs 10:19-20 hoor ons: “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.” Jesus is die weg, die waarheid en die lewe (Johannes 14:6). Die vlammende swaard van oordeel is weggeneem en deur Hom kan ons in die teenwoordigheid van God kom. Ons kry deur Hom die lewe.
Die boom van die lewe in Openbaring
In Openbaring hoor ons van die tuin se boom van die lewe wanneer Jesus aan die kerke die boodskap gee:
Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.
Openbaring 2:7
Aan die einde van Openbaring hoor ons van die nuwe en ewige stad van God waar die boom van die lewe vir ewig sy vrugte dra wat genesing bring (22:2, 14, 19).
Die laaste woord van die Bybel is dat die weg na die paradys oop is. God se oordeel is betaal deur Christus en gelowiges gaan deur Hom in. Ons eindig waar ons begin het. Nie net God by ons nie, maar deur God se groot genade in Christus, ook ons by God.