Leierskaplesse deur bome in die Bybel

In die gelykenis van Jotam in Rigters lees ons hoe die bome ’n koning soek. Hieruit leer ons belangrike lesse oor leierskap en hoe ons Jesus moet volg.

deur ds Ruan Steyn



Die gelykenis van die bome wat ’n koning soek

In die gelykenis wat Jotam vertel, verteenwoordig die bome die mense wat ’n koning soek om oor hulle te regeer. Die mense was verkeerd om ’n koning te soek, want die Here het rigters gestuur om oor hulle te regeer. In die gelykenis vra die bome verskillende ander bome om oor hulle te regeer.

  1. Eerstens nader die bome die olyfboom om oor hulle te regeer. Die olyfboom was bekend vir sy olie en simboliseer voorspoed, salwing en reiniging (vgl. Eksodus 30:23-25; Eksodus 29:7). Die olyfboom erken egter sy godgegewe doel en roeping en gaan dit nie prysgee om die rol van ’n koning in te neem nie.
  2. Tweedens nader die bome die vyeboom. Die vyeboom word met goeie en soet vrugte geassosieer, en verteenwoordig seëning. Óók die vyeboom weier om koning te wees, want hy besef die belangrikheid om aan sy roeping getrou te bly.
  3. Derdens nader die bome die wingerdstok, wat bekend was vir die vervaardiging van wyn en dui op feesviering en oorvloed. Die wingerdstok wys ook die aanbod van die hand en erken sy belangrike rol is om seëninge en vreugde aan ander te verskaf.

Al drie bome – die olyfboom, vyeboom én wingerdstok – weier die aanbod, want hulle besef die waarde en doel wat hulle dien deur in hulle huidige rolle te bly en só hulle roeping getrou na te kom.



Die doringbos wil koning wees

Die bome het nie reggekom nie en daarom het hulle laastens die doringbos gevra om hulle koning te wees. ’n Doringbos het nie dieselfde eienskappe en waarde as die olyfboom, vyeboom en wingerdstok nie. Die doringbos is onwaardig om ’n koning te wees. Ten spyte daarvan aanvaar die doringbos die aanbod om die bome se koning te wees. Die waarskuwing word aan die bome gestel: die doringbos vereis totale lojaliteit en indien hy dit nie ontvang nie, sal hy die res van die bome met vernietiging dreig.



Die gelykenis se betekenis vir ons

Hierdie gelykenis se metaforiese gebruik van bome herinner ons aan die belangrikheid van goeie leierskap en die gevare daarvan om leierskap om die verkeerde redes te soek. Die olyfboom, vyeboom en wingerdstok het die eienskappe van nederigheid getoon, deur selfbewus te wees van hulle godgegewe roeping. Hulle het gekies om nie hul roeping prys te gee deur na groter mag te strewe nie.

Die doringbos verteenwoordig die gevaarlike vorm van leierskap, wat nie integriteit en opregte besorgheid vir ander het nie, maar slegs besorgheid oor homself en in sy eie roem en verheerliking. Die doringbos is gewillig om ander seer te maak om sy posisie te verseker, net soos Abimelek nie geskroom het nie om sy broers te vermoor nie, net om sy koningskap te verseker. Dit beteken die doringbos se leierskap is selfsugtig en vernietigend van aard.


Jesus is die voorbeeld van die perfekte leier

Ons word egter herinner aan Jesus se woorde in Matteus 20:25-28. Jesus leer vir sy dissipels die belangrike beginsel: “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Ware leierskap word gekenmerk deur diensbaarheid en selfopoffering. Jesus stel die perfekte voorbeeld van diensbare leierskap en so word ons opgeroep om Hom te volg.

Rigters 9 en die metaforiese gebruik van bome dien as ’n waarskuwing teen die najaag van leierskap om selfsugtige redes en beklemtoon die waarde van nederigheid. Ons word geroep om diensbare leiers te wees, deur die voorbeeld van Jesus te volg, wat nie gekom het om gedien te word nie maar om te dien.

Mag ons poog om dieselfde integriteit as die olyfboom, vyeboom en wingerdstok te hê!

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui