Die vyfde gebod leer van gesag in die huis

Efesiërs 6:2 sê dat “Eer jou vader en jou moeder” ’n baie belangrike gebod is. Kruispad kyk wat dié gebod vir kinders en ouers beteken.

Deur Marnix Boersema

Daar is oral om ons orde en strukture. Die land het ’n regering met wette en reëls, besighede het bepaalde gesagstrukture en kerke het weer ’n bepaalde Godgegewe ordestruktuur. Die basiese boublok van die samelewing is egter die verhouding tussen ouers en kinders. Vir ’n kind is die huisgesin jou eerste kennismaking met struktuur in die wêreld.
Daarom moet dit glad nie vir ons vreemd wees as die Here vir ons in sy wet leer hoe die orde in ’n huisgesin behoort te wees nie. In die vyfde gebod lê God vir ons die beginsel van ’n Godgegewe gesagstruktuur uit.

Hoekom is dit belangrik dat ons die vyfde gebod verstaan en uitleef?
God het die vyfde gebod as ordestruktuur binne die huisgesin gegee, om harmonie en eenheid daar te stel. Die laaste ses van die 10 gebooie gaan oor wat ons aan ons naaste verskuldig is. Die vyfde gebod leer ons naasteliefde in sy eenvoudigste vorm. Naasteliefde begin by die huis!

Die gebod gaan teen die grein van die tyd

In die tyd van die volk Israel en Eksodus 20 was die gesag wat God vir ouers vasstel en reguleer ’n vreemde gedagte. Die vyfde gebod gaan egter nóg verder en sê dat jy jou vader én moeder moet eer. Die gesag en outoriteit van ouers berus nie in manlikheid of vroulikheid nie, maar in die feit dat God ouers gesag gegee het. In die Ou-Testamentiese kultuur het vrouens nie dieselfde outoritieit as mans gehad nie. Dit is teen die grein van die kultuur in dat die moeder net soveel gesag oor kinders beklee as die vader.

Alle gesag kom van God af

Die laaste gedeelte van die gebod, “wat die Here jou God vir jou gee”, is belangrik. Dit is nie ’n God êrens nie, maar JHWH (die Verbondsgod) wat iets vir ons gee. Ouers is ’n ordestruktuur van God, vír God. Die gesag wat ouers uitoefen berus by God, die Gewer van gesag en die Gewer van kinders.
In Jesus se gesprek met Pontius Pilatus net voor die kruisiging in Johannes 19:10-11 vra Pilatus vir Jesus: “Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie” Jesus antwoord: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie” (1953-vertaling).
Jy sien? Jy kan net mag ontvang van Christus Jesus die Almagtige!

Wat eis God van kinders in die vyfde gebod?

God eis dat ons, ons vader en moeder moet eer. Die woord eer beteken hier swaar of gewigtig. Om jou pa en ma te eer beteken om hulle as gewigtig of belangrik te ag. Die woord vir eer in die vyfde gebod is tweeledig. Om iemand te eer beteken om hulle te eerbiedig, én te respekteer. Kinders is nooit te oud om hul ouers te eer nie. Hierdie gebod verval nie as jy uit die huis is nie.

Wat as ek slegte ouers het?
Wat as ouers nie liefde of trou werd is nie? Wat as iemand nie ’n goeie pa is nie? Wat as ma’s nie altyd reg optree nie? Al maak hulle foute moet jy hulle eer en respekteer. Hulle onredelikheid of ander menslike swakhede is géén rede vir kinders om hulle nie te gehoorsaam nie. God vereis gehoorsaamheid selfs as ouers nie altyd reg is nie.
Daar is natuurlik grense aan kinders se gehoorsaamheid. As ouers teen God se gesag ingaan, moet jy jou nie aan hulle onderwerp nie. Kinders moet altyd die Here bo alles liefhê.

Wat eis God van ouers in die vyfde gebod?

Daar is ’n wisselwerking in die vyfde gebod. Kinders moet hul ouers se gesag respekteer, maar ouers het ook ’n opdrag. Ouers moet hul gesag aktief uitoefen. Spreuke 13:24 sê: “Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is.” Kinders moet geleer word wat dit beteken om hul ouers te eer. Daar moet dissipline, orde en vastigheid wees.
Dit is ’n Bybelse opdrag om kinders te tug, maar, onthou dat dit die gesag is wat die Here in genade gee, wat uitgeoefen word. Daarom mag die manier waarop ouers hul kinders tug, nooit hul kind se verhouding met die Here belemmer nie.

Die vyfde gebod gaan oor meer as die huisgesin
Hierdie gebod is nie net vir mense met kinders, of getroudes nie. Dit het ook ’n wyer fokus as die huisgesin. Alle gesagsfigure wat oor ons aangestel is moet geëer word. Die beginsel van die vyfde gebod is: God stel ander oor ons aan en Hy wil ons so regeer. Landsburgers moet die regering eer en vir hulle bid. Leerders moet hul onderwysers eer en vir hulle luister. Werknemers eer hul werkgewers deur eerlik te doen wat vereis word.

God se belofte in die vyfde gebod

In Efesiërs 6:2 lees ons weer van die belofte wat saam met die vyfde gebod gaan: “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.”
Die Here se belofte is baie prakties. Sonder outoriteit en goeie orde is daar altyd chaos, en as mense hulle nie aan gesag onderwerp nie, is daar altyd revolusie. Hierdie gebod vra egter dat jy jou aan die gesagstrukture wat God daargestel het, onderwerp, sodat Hy jou kan regeer. Mense in gesagsposisies moet hulle aan God onderwerp.
Wanneer daar ongeregtigheid en goddeloosheid in die land is, kan gelowiges egter uitsien na ’n nuwe land. Dit is die nuwe aarde, die nuwe Jerusalem, waar jy saam met die Here jou God, sal regeer.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui