Dank God só vir jou lewe

Hoe respekteer jý die lewe wat God jou gegee het? Romeine 12 leer ons hoe om in dankbaarheid op God se werk in ons lewens te reageer.

Volgens Openbaring 4:11 moet ons God eer en verheerlik omdat Hy “alles geskep het”. Alles het deur die wil van God ontstaan. Ons leer in die Bybel dat God die lewe wat Hy gegee het volhou (Handelinge 4:16-17). Hy gee ons lewe waarde. Hy sorg vir ons, en net so moet ons, uit respek en dankbaarheid, ons lewens oppas. Jou respek vir jou lewe en die lewens van al die mense op aarde beïnvloed hoe jy lewe.


Hoe moet ek lewe?

In Romeine 12 leer ons van die nuwe lewe wat ons in Jesus Christus moet leef. In hierdie gedeelte kan ons sien wat God van ons verwag. Voordat jy met die res van die Bybelstudie voortgaan, lees eers Romeine 12:1-8 en kyk spesifiek wat dit sê van:

  1. Jou houding teenoor God (Romeine 12:1-2)
  2. Jou houding teenoor jouself (Romeine 12:3)
  3. Jou houding teenoor ander (Romeine 12:4-8)

1. Romeine 12 begin met die woorde “En nou”. Waarna verwys dit?

2. Wat is ’n offer? Hoe is dit in die Ou Testament gedoen?

3. Hoe moet ek myself as ’n lewende en heilige offer aan God gee? Lees ook 2 Korintiërs 7:1.

4. Wat is die patroon van die wêreld? Hoe kan ek iets identifiseer as deel van die wêreld?

5. Watter rol speel jou denke in hoe jy lewe?

God kan jou lewe verander
Dis interessant om te sien hoe die opdrag in Romeine 12:2 geskryf is: “laat God julle verander”. Ons kan nie onsself verander nie, die opdrag is dat ons, ons denke deur God moet laat verander. Ons moet onsself onder die invloed van die werk van die Heilige Gees bring deur God se Woord.

6. Hoe kan ek weet wat die wil van God is?

Die wil van God
Die Bybel vertel dat ons op twee maniere oor die wil van God moet dink. Die eerste is die effektiewe wil van God. Hy is in beheer van alle dinge: alles gebeur volgens God se wil. Maar die Bybel praat ook van die toelaatbare wil van God. Hy het die mens nie as ’n robot geskape nie, maar met keuses. God maak sy wil vir ons morele en etiese lewe bekend. Uit God se Woord kan mense weet wat sy wil vir hul lewens is. Psalm 143 sê dat God se opdragte oor hoe ons moet lewe, die wil van God is. Watter keuse is die regte een wanneer jy vra: moet ek of moet ek nie? Die Here gee daardie antwoord.

7. Watter faktore in my lewe bepaal hoe ek oor myself dink?

8. Hoe moet my geloof my selfkennis beïnvloed? Lees ook Matteus 22:36-40 oor die samevatting van die wet.

9. Behoort net jou gees aan die Here? Is daar enige deel van jou liggaam wat net jouself dien?

10. Wat is jou verhouding met ander gelowiges in jou kerk?

11. Hoe dien jy tans in die liggaam van Christus? Hoe kan jy jou betrokkenheid vermeerder?

Gawes van God
Almal van ons het gawes ontvang volgens die genade wat God ons gee. Baie mense weet nie wat hul gawes is nie, omdat hulle net daaraan dink as iets wat ongelooflik of bo-natuurlik moet wees. Die Bybel beskryf die gawes as ’n manier waarop een deel van die liggaam ’n ander deel van die liggaam dien. So kan ons gawes sien as enigiets of enige manier hoe jy jou medegelowiges in Christus dien. Om uit te vind wat jou gawes is moet jy jou gemeente ken, en kyk hoe en of jy die behoeftes van jou gemeente met jou gawes kan vul.
Die gawes wat in Romeine 12:6-8 genoem word is nie allesomvattend nie. Vergelyk die lys met Efesiërs 4:11-12 en 1 Korintiërs 12:4-11. Vergelyk ook Romeine 12:4-8 met 1 Korintiërs 12:12-31. Onthou, die gawes wat genoem word was in daardie tyd in die kerk teenwoordig. Daar is meer gawes as net dié wat ons hier lees.


Hoe kan ons respek vir ons lewens wys?

Romeine 12:1

Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

2 Korintiërs 7:1

Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.


Vra God om jou te help om te verstaan watter genade Hy aan jou gewys het. Bid dat God jou lewe sal verander deur sy Woord, dat jy gehoorsaam ander sal dien. Wy jouself vandag nog aan die Here: jou gedagtes, gees en hele liggaam.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui