Die lofsang van Simeon as hy die Verlosser sien

In Lukas 2:25-35 lees ons van Simeon, aan wie die Here gesê het hy nie sou sterf voor hy die Gesalfde gesien het nie. Doen hierdie Bybelstudie en leer meer oor Simeon se lofsang as hy Jesus sien. 

deur ds. Dirk Meijer

In Lukas 2:21-24 lees ons dat ons Here Jesus se ouers Hom laat besny het, en ook al die offers laat bring het wat in die Ou Testament by die geboorte van ’n kindjie vereis was (Levitikus 12). Daarvoor het Josef en Maria na die tempel in Jerusalem gegaan. By die tempel was daar ’n man met die naam Simeon. Hy het gewag om vir Christus te sien. Uiteindelik sien hy Hom nou, en dan sing hy ’n loflied oor Hom – net soos Maria, Sagaria en die engelekoor oor Jesus se geboorte sing.

  • Watter woorde in Lukas 2:25-35 staan vir jou uit om vir ons te beskryf wie Jesus is? Kyk na vers 25, 26, 30 en 32.

Rondom die lofsang van Simeon word daar vir ons gewys op Jesus as die “vertroosting van Israel”, “die Christus van die Here”. Christus beteken dieselfde as Messias of Gesalfde in die Ou Testament, God se “heil” (verlossing), en die “lig tot verligting … en heerlikheid”. Dit alles sien die gelowige Simeon raak wanneer Hy die kind Jesus by die tempel vashou. Dáároor gaan sy lofsang.


Lees Lukas 2:25-28

  • Hoe word Simeon vir ons beskryf?
  • Wat beteken die “vertroosting van Israel”? Hoekom en waaroor moes Israel getroos word? Lees ook hieroor in Jesaja 40:1-2.
  • Watter belofte het Simeon deur die Heilige Gees gekry?
  • Hoe tree Simeon op met die belofte in gedagte?

Simeon was ’n regverdige en vroom (toegewyde) man gewees, vol van die Heilige Gees. God het vir hom belowe dat hy nie sal sterf voordat hy die “vertroosting van Israel” en “die Christus van die Here” gesien het nie. Dit is die vertroosting wat in die Ou Testament al belowe is, dat Israel getroos sal word oor haar sondes. Jesus sal hulle van hul sondes verlos. Hy is ook die Christus (Messias) van die Here wat sal kom. Met die belofte voor hom het Simeon gelowig gewag om die Vertrooster en Christus te sien. Wanneer hy Hom sien, loof hy God!


Lees Lukas 2:29-32

  • Hoekom kan Simeon nóú uiteindelik uitroep dat hy in vrede kan heengaan/sterf? Wat gee vir hom die vrede?
  • Hoe sien Simeon God se heil (verlossing) as Hy na die kind Jesus in sy arms kyk? Wat beteken die naam “Jesus”? Lees ook Heidelbergse Kategismus Sondag 11.
  • Wie sal nog almal die verlossing van God in Jesus sien? (vers 31, vergelyk Psalm 98:2)
  • Simeon sing dat Jesus ’n Lig is (vergelyk Jesaja 49:6, 1 Johannes 1:5):
    • Hoe is Hy ’n lig tot verligting van die nasies?
    • Hoe is Hy ’n lig tot heerlikheid van die volk Israel?

Wanneer Simeon “die vertroosting van Israel” in Jesus sien, kan hy ook as iemand wat vertroos is, sterf. Daarom bid hy: “nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede”. Christus is die Een wat ons, sondaars, verander om in vrede met God te lewe (Romeine 5:1).
Jesus gee die vrede deur ons van ons sondes te verlos. Hy is inderdaad die verlossing van Israel. Tog nie nét van Israel nie: vir mense uit alle volke, tale en nasies wat in Hom alleen as Verlosser glo. As die ware Lig maak Hy God ook aan mense buite Israel bekend. Hy is ook die heerlikheid van Israel. Die hele bestaan van die volk Israel moes uitloop op sy koms: Hy is hulle heerlikheid. Daarom dat dit so hartseer is as mense (uit Israel of ander nasies), nie vir Jesus as die ware Lig erken nie en nog in ongeloof in die duisternis bly lewe.


Lees Lukas 2:33-35

  • Wat was Josef en Maria se reaksie op Simeon se lofsang?
  • Na sy lofsang profeteer Simeon oor Jesus:
    • Hy is bestem tot ’n val vir baie in Israel
    • Hy is bestem tot ’n opstanding van baie in Israel
    • Hy is bestem tot ’n teken wat weerspreek sal word
  • Wat beteken dit alles? Lees ook Jesaja 8:14,15; Psalm 118:22; Romeine 9:33 en 1 Petrus 2:7-8. Hoe is Jesus vir sommige ’n kosbare steen maar vir ander ’n steen van aanstoot? Hoe sien ons dit tydens Jesus se lewe op die aarde én vandag raak?
  • Wanneer het dit wat Simeon in vers 35 profeteer, inderdaad met Maria gebeur? (Johannes 19:25).

Josef en Maria is vol verwondering oor Simeon se lofsang. Die lofsang gaan dan oor na ’n profesie van Simeon oor Jesus. Hy is bestem tot ’n val en opstanding van baie. Baie sal Hom gelowig as die Vertrooster van Israel, die Christus van die Here en die Heil van God erken. Vir hulle is Hy ’n kosbare hoeksteen. Baie ander sal Hom ongelowig as die Lig wat helder skyn verwerp. Vir hulle is Hy ’n steen van struikeling. Vir ons wat glo, is Hy kosbaar (1 Petrus 2:7). Mag Hy ook inderdaad vir ons vandag kosbaar wees, soos wat Hy nou aan die regterhand van God die Vader sit, en oor ons regeer (Filippense 2:9-11).


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui