Bybelstudie: Hoop is ’n vaste anker
Weet jy wat die hoop van ’n gelowige is? Hier is wat die Bybel ons van hoop leer.
Deur ds. Brahm Robinson
Hoop maak deel uit van ons wense dat die toekoms vir ons gunstig sal uitdraai. Wanneer ons sê “Ek hoop ek kry keuring!” of “Ek hoop ons het lekker weer tydens ons vakansie” is daar ‘n onsekerheid oor die toekoms. Terwyl jy hoop op die beste uitkoms, stel jy jou ook vir die moontlikheid oop dat iets nie gaan gebeur soos wat jy dit graag sou wou hê nie.
Elke teksgedeelte het ’n skakel na die toepaslike hoofstuk op die webwerf www.bybel.co.za. Kry die voorgestelde antwoorde van die Bybelstudie onderaan.
Lees Esegiël 37:11-14 & Romeine 15:13
1. Waar vind mens droë bene en waarvan is dit ’n teken?
2. Waarna verwys die profesie?
3. Wat beteken dit om geestelik geen hoop te hê nie?
4. Hoe gee die Here lewe, en hoop daarmee saam, aan mense?
5. Hoe kan jou persoonlike hoop in die Here sterker word?
Lees Romeine 4:18-19
6. Hoekom het Abraham nog aanhou hoop terwyl daar nie meer hoop was nie?
7. Wat vra die Here van jou in verband met sy beloftes wat Hy in sy Woord maak?
8. Hoekom sal ons die bejammerenswaardigste van alle mense wees indien ons hoop op Christus net vir hierdie lewe is?
9. Wie is die “almal” wat in Christus lewend gemaak sal word?
Lees 1 Petrus 1:3-4
10. Hoe het God vir ons die nuwe lewe geskenk?
11. Waarop is ons lewende hoop gerig?
Lees Hebreërs 6:17-20
12. Wat beteken dit dat die gelowige se hoop ’n veilige en onbeweeglike lewensanker is?
13. Wat beteken dit dat ons anker agter die voorhangsel vas is?
14. Hoe of waaraan is daardie hoop agter die voorhangsel vasgeanker?
15. Hoe verskil die hoop wat die Bybel ons leer dus van wêreldse hoop?

Hier is die voorgestelde antwoorde op die vrae:
- Wanneer ’n liggaam sterf, is al wat daar laastens van die liggaam oorbly die droë bene. Dit is ’n teken daarvan dat iets wel geleef, maar intussen gesterf het, en dat dit nooit weer kan lewe nie.
- Na Israel, en so ook die mensdom, wat geestelik dood is vanweë hulle sonde. Daar is geen kans vir hulle om weer te lewe nie.
- God is nie deel van jou lewe nie. Jy het geen toekoms nie. Alles wat jy in jou lewe doen is tevergeefs.
- Hy gee sy Heilige Gees aan hulle. Die Gees wek lewe in die mens.
- Deurdat God jou geloof sterker maak deur die krag van die Heilige Gees. Leer sy Woord en pas jou geloof toe in elke situasie waarin jy verkeer.
- Abraham se geloof in die belofte van God het nie verswak nie. Sy hoop het op God gebly wat by magte is om enigiets te doen, selfs om vir twee oumense ’n kind te gee.
- Dat jou geloof en hoop in die vervulling daarvan nie sal verslap nie.
- Dit sal beteken dat ons glad nie Christus se werk aan die kruis, en dan veral sy opstanding, waarlik glo of verstaan nie. Mense verstaan dan die lewe wat Hy aan ons gegee het verkeerdelik net as tydelik en nie as die verhouding met God wat lewe gee nie. Hy het juis gesterf en Hy is juis opgewek sodat ons hoop vir die lewe hierna kan wees.
- Almal vir wie Hy gesterf het, dus, almal wat waarlik glo.
- Deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood het Hy vir ons die nuwe lewe geskenk.
- Ons hoop is op die werk van Jesus Christus gerig.
- Die anker is nie van ons af na iets anders, soos ’n skip wat ’n anker in die water gooi en nie seker is of dit effektief gaan wees nie. Ons anker is eerder soos die tou van iemand wat abseil. Die tou is vasgemaak en hy het totale sekerheid van sy veiligheid.
- Ons anker is vas by God. Dit is vas in die ewigheid.
- Deur Jesus Christus se kruisdood. Hy het sondeloos gesterf en vir al ons sonde betaal sodat ons ook die ewige by God kan ingaan. Ons hoop is vas aan Jesus Christus.
- Bybelse hoop is afkomstig en gerig op die werk van God en in Jesus Christus. Dit gee totale sekerheid! Wêreldse hoop kom vanaf spekulasie en is gebou op moontlikhede. Dit laat jou in die duister.