Bly by wat die Woord leer

Doen hierdie Bybelstudie oor 2 Timoteus 3 en leer weer hoekom dit so belangrik is om getrou aan die Bybel te bly.

deur die Kruispad-redaksie

Paulus beveel in 2 Timoteus 3:10-17 vir Timoteus om te midde van moeilike omstandighede in hierdie ongelowige wêreld te bly by dit wat die Bybel leer. Die Bybel, skryf Paulus, is deur God self geïnspireer, en het groot waarde. Hierdie gedeelte herinner ons weer dat ons moet bly by dit wat die Bybel – die Woord van God – leer.

Lees 2 Timoteus 3:10-17 en werk dan deur die vrae en interessanthede hier onder.

Dié gedeelte bestaan uit die volgende dele
2 Timoteus 3:10-13 Paulus en Timoteus se omstandighede:
3:10-11 Timoteus deel saam met Paulus in die goeie en die slegte
3:12-13 Gelowiges sal vervolg word, terwyl ongelowiges van kwaad tot erger sal voortgaan
2 Timoteus 3:14-17 Die Bybel:
3:14-15a Timoteus moet bly by dit wat hy oor die Bybel geleer is
3:15a Die Bybel leer ons van verlossing deur Christus
3:16a Die hele Bybel is deur God geïnspireer
3:16b-17 Die Bybel se viervoudige nut

1. Watter mooi eienskappe van Paulus het Timoteus volgens vers 10 tot 11 nageboots?

2. Watter van hierdie eienskappe sal jy graag in jou eie lewe wil sien? Wat kan jy doen om dit te verseker?

Die vervolging van Paulus
Paulus is dikwels vervolg omdat hy die evangelie verkondig het. Vir ’n treffende opsomming van die swaarkry wat Paulus vir die evangelie moes verdra, lees 2 Korintiërs 11:23-29.

3. Watter eerlike waarskuwing kry ons in vers 12?

4. In die lig van jou vorige antwoord, hoe moet ons vervolging (of die gebrek daaraan) in ons lewens verstaan?

Waar pas swaarkry in?
Moet nooit dink dat swaarkry wys dat jy nie ’n kind van God is nie. Swaarkry as ’n toegewyde gelowige bewys juis dat jy ’n kind van God is!

5. Van watter tragiese feit lees ons in vers 13? Hoekom is dit so?

6. Paulus beveel Timoteus om te bly by wat hy geleer het. Hoe moet ons dit doen?

7. Hoe kan ons seker wees dat dit wat ons geleer is, waar is? Of om dit anders te vra: Hoe kan ons seker wees dat ons moet bly by wat ons geleer is?

8. Wat is die doel van die Bybel volgens vers 15?

Die doel van die Bybel
Ons dink dikwels dat die Bybel al die antwoorde op al ons vrae wil gee. Wanneer ons so dink, vergeet ons wat die doel van die Bybel is. Die Bybel is nie bedoel om vir ons ’n klomp feite of antwoorde te gee oor elke liewe ding nie. Die hoofsaaklike doel van die Bybel is om te leer wie God is, hoe ons Hom moet dien, en hoe ons gered kan word.

9. Wat beteken dit vir jou dat die hele Skrif deur God geïnspireer is?

Betekenis van die woord geïnspireer
Die woord wat in 2 Timoteus 3:16 met geïnspireer vertaal word, beteken letterlik deur God geasem. Met ander woorde, dit sê dat die Bybel uit God se mond kom. Dit is deur Hom geïnspireer. God het die menslike skrywers so gelei om binne hul omstandighede te skryf wat Hy wou gehad het hulle moet skryf (sien ook 2 Petrus 1:20-21). Omdat die Bybel geïnspireer is, is dit betroubaar en gesagvol. Ons móét luister na dit wat God daarin sê, en dit doen.

10. Watter vier dinge stel die Skrif ons in staat om volgens vers 16 te doen? Wat beteken elkeen?

11. Watter troos gee vers 17 vir jou?

12. Bespreek die noodsaaklikheid van goeie Bybelkennis in die lig van hierdie verse.

Die Bybel is deur God self geïnspireer. Mag ons daarom besef watter voorreg ons het om die Bybel in ons hande vas te hou, en om dit in ons eie taal te lees. Ons kan nie anders as om gehoorsaam te luister na dit wat God daarin sê nie.


Gebedsriglyne
  • Dank God dat Hy Homself in die Bybel aan ons bekend maak.
  • Vra dat die Heilige Gees jou sal lei om al hoe meer gehoorsaam te wees aan dit wat Hy in die Bybel leer.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui