Hoop is Christus!

Die vergelyking tussen wêreldse hoop en Christelike hoop wys ons hoe ons moet leef.

Deur Marco le Roux

Die hoop van Christus verskil radikaal van die hoop wat die wêreld gee. By wêreldse hoop is iets altyd onseker. Dit klink só: “Ek hoop ek het die toets deurgekom, maar ek is nie seker nie.” Op Christelike hoop kan jy egter 100% vertrou. Hierdie hoop staan vas en seker.

  • En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie” (1 Korintiërs 13:13). In ons Christelike lewe en hoe ons die wêreld sien, kan geloof, hoop en liefde nie van mekaar geskei word nie. As daar nie liefde en geloof is nie, dan skiet ons hoop tekort. Wanneer ons geloof en liefde het, dan is ons hoop volmaak, want dan is daar geen twyfel nie.
  • Hebreërs 10:23 wys vir ons waarom ons hoop seker en vas is – God doen wat Hy belowe vir sy kinders.
  • Christelike hoop se sekerheid lê nie daarin hoe goed ons kan hoop nie. Dit gaan nie oor ons of ons vermoë om te hoop nie. Christelike hoop se sekerheid en vervulling lê by God. Hy vervul self sy beloftes. Daar is by ons ‘n sterk verwagting wat seker en vas is.

Dít is Christelike hoop

Hoop is nie net ’n entiteit of gevoel nie, hoop is ’n Persoon. Jesus Christus is ons hoop, wat ons verlos het van die sonde en ons ook volmaak van hierdie stukkende wêreld sal verlos wanneer Hy weer kom (1 Timoteus 1:1, Lukas 2:25, Spreuke 10:28). Hierdie hoop is vas en seker omdat God sy beloftes getrou uitvoer (Hebreërs 10:23, Psalm 39:8).
Hoop laat ons uitsien na Christus se wederkoms, waar ons ten volle verlos sal word. Ons hoop gee vir ons vrede en blydskap (Romeine 12:12, 1 Tessalonisense 5:8).

God het reeds die belofte vervul dat Hy sy Seun gestuur het. Daardie belofte is vas. Daarom kan ons ook verseker hoop dat Christus weer kom, want die Here voer sy beloftes getrou uit: “Kyk, Ek kom gou … ” (Openbaring 22:7).


Hoop laat jou voluit leef

Die gemeente in Tessalonika het die fout gemaak om stil te sit en te wag totdat Christus kom. Hulle is baie ernstig daaroor vermaan. “Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig” (1 Tessalonisense 5:14). Christelike hoop laat ons nie stilsit en niks doen nie. Ons het ’n vaste anker, daarom kan ons voluit vir Christus leef.
Hierdie Christelike hoop leef nou in ons harte. Ons hoop is gegrond op God se beloftes. Die Bybel gee vir ons riglyne hoe ’n hoopvolle Christen lewe totdat Christus kom en ons volkome verlos.

  • Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry” (Romeine 8:25).

Ons moet regtig uitsien na Jesus Christus se wederkoms. Dit sal vir ons ’n wonderlike dag wees want ons sal volkome bevry word. Ons hoop staan vas!

Ons kan bly wees in hierdie lewe. Vreugde en blydskap is deel van ons lewe.

  • “… want U Here, U is my hoop, op U, Here, het ek van jongs af vertrou” (Psalm 71:5).
  • Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra …” (Klaagliedere 3:25).

Ons moet ’n lewende verhouding met die Here hê, waar ons volkome op Hom vertrou en sy wil soek.

  • Ek vestig my hoop op hulp van U, Here, u gebooie gehoorsaam ek” (Psalm 119:166).

Gehoorsaamheid aan die Here wys dat ons hoop.

  • Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is” (Hebreërs 6:19).

Vas, veilig, en onbeweeglik is die anker van hoop, want Jesus Christus se versoeningswerk staan vas. Dit gee vir ons in hierdie lewe vrede. Maak nie saak wat gebeur nie, ons behoort aan Christus.

Ons leef nou hoopvol. Ons leef nie in onsekerheid nie. Ons hoop is seker en vas, want ons weet: God se beloftes staan vas. Dit is soos Paulus aan die Romeine in Romeine 15:13 skryf: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui