Jesus Christus is ons Opperherder

Dwarsdeur die Bybel lees ons hoe ons as gelowiges soos skape is, en dat die Here ons as Herder lei. Lees hier wat dit beteken dat Jesus ons Opperherder is.

deur ds Peet van der Westhuizen

In die Bybel word gelowiges dikwels met skape vergelyk. Die punt wat veral daardeur beklemtoon word is dat die gelowiges weerloos is op hulle eie, maar niks hoef te vrees as hulle Herder, Christus vir hulle sorg nie.


Ons lees veral van skape in die Psalms

  • “U het u volk soos skape gelei deur die hand van Moses en Aäron” (Psalm 77:21).
  • “Maar Hy het sy volk laat wegtrek soos skape en hulle gelei soos ’n kudde in die woestyn” (Psalm 78:52).
  • “En ons, u volk en die skape van u weide, ons sal U vir ewig loof, van geslag tot geslag sal ons u lof vertel” (Psalm 79:13).
  • “Want Hy is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand. Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister!” (Psalm 95:7)
  • “Erken dat die HERE God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide” (Psalm 100:3).

Wat sê die Bybel oor die Herder en sy skape?

  • Die profeet Jesaja skryf: “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jesaja 53:6).
  • Keer op keer word die volk van die HERE met skape vergelyk, en die HERE hulle herder genoem. Ons sien dit ook in die bekende Psalm 23.
  • In die Nuwe Testament lees ons dat die Here Jesus die skare jammer kry want hulle is soos skape wat nie ’n herder het nie. En wanneer Hy sy dissipels die eerste keer uitstuur, stuur Hy hulle na die verlore skape van Israel.
  • Ons lees ook dat in die koninkryk van God sal daar na een skaap uit honderd wat weggeraak het, gesoek word, want al die skape is belangrik.

Jesus as die goeie Herder vir sy kudde

Jesus beskryf Homself as die goeie Herder wat sy lewe aflê vir die skape. Die skape ken die Herder se stem en volg Hom. Wanneer Jesus in Johannes 21 ’n laaste keer aan Petrus verskyn gee Hy aan Hom 3 bevele: “Laat my lammers wei.” “Pas my skape op.” “Laat my skape wei.”

Uit al hierdie dinge leer ons dat ons – en al die ander gelowiges – die skape van die Here Jesus se kudde is. Hy is dus die hoogste Herder van sy skape. Maar Hy stel ook toesighouers aan om hier op aarde vir sy kudde te sorg. Ons sien dit in Psalm 77:21 hierbo dat God sy volk laat lei soos skape deur Moses en Aäron. Jesus gee self aan Petrus die opdrag om sorg te dra vir sy skape.


Die ouderlinge moet na die kudde omsien

Later skryf Petrus in 1 Petrus 5:1-4 aan die ouderlinge dat hulle die kudde van God wat onder hulle gestel is moet oppas. En hulle moet dit reg doen, juis omdat dit nie hulle skape is nie, maar die Opperherder s’n. Jesus as Opperherder oortref alle ander herders wat voor Hom was; soos byvoorbeeld Moses wat die volk gelei het.

Die Opperherder is vol van heerlikheid en majesteit. En die kerk is die Here Jesus se skape, en hy sorg vir hulle hier op aarde; ook in besonder deur oppassers te stuur. Hy sal van hulle rekenskap eis oor hoe en of hulle gehoorsaam was aan hulle opdrag. So is die ouderlinge die oppassers in ons gemeentes. Die predikant is ook deel hiervan, so word hy ’n herder en leraar genoem.


Jesus is Opperherder van die kerk

Geen mens is die Opperherder van die kerk nie, slegs Jesus. Daarom is niemand belangriker as ’n ander in die kerk nie. Want die kerk is die kudde van die Opperherder, die Here Jesus Christus. En Hy versorg sy kudde as geheel, maar ook sy skape afsonderlik, soos ons sien in Psalm 23 en die gelykenis van die verlore skaap.

Dit beteken dat ons nie weerloos en sonder toevlug in die wêreld is nie. Nee, die Opperherder sorg vir ons, sy skape. Maar ons word ook opgeroep om op Hom te vertrou, om na sy roepstem te luister, en Hom te volg.


Die Opperherder sorg vir sy kudde

Die Here Jesus ons Opperherder sorg vir ons. Deur die ouderlinge en die predikant word ons gelei na die groen weivelde van die Woord. So word ons geestelik gevoed en versorg.

Deur die Woord leer ons om in alles ons hoop en vertroue op ons Opperherder te plaas, want ons weet dat niks in die ganse heelal ons kan skei van die liefde van God wat daar in Jesus is nie. En uit dankbaarheid vir sy sorg as ons herder soek ons om sy stem te hoor, deur in die eerste plek self die Bybel te lees, maar ook deur die prediking van die Woord op te soek en aandagtig te beluister. So groei ons in ons geloof en die uitlewing van ons geloof.

Wanneer ons ook doen wat Hy van ons eis in sy Woord, leef ons soos ware skape van Hom, wat sy stem ken en na sy stem luister.

Dus, liewe skaap: Luister na die stem van die Opperherder!

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui