Om deur God uitverkies te wees, is die grootste seëning denkbaar!

Voel jy versigtig om die woord “uitverkiesing” te gebruik? Lees hier hoekom jy God se uitverkiesing moet verstaan en hoekom dit jou groot vreugde moet bring.

deur ds. Hannes Lee

Baie van ons raak sommer moedeloos as ons die woord “uitverkiesing” hoor. Dalk het ons al kennis gemaak daarmee in katkisasie, en dit moeilik gevind om te verstaan. Dalk hou ons nie van die uitverkiesingsleer nie. Die gedagte dat God sommige mense uitgekies het om te red, en ander nie, is nie eintlik wat mense vandag wil hoor nie. Baie wil eerder hoor dat jy self kan kies om God se redding aan te neem, en ’n aandeel in jou eie verlossing kan hê.

Lees Efesiërs 1:1-6 en 11-14 vir agtergrond.


Die uitverkiesing moet vreugde gee

Die uitverkiesing is dalk nie iets waaraan jy wil dink nie, maar ons moet daaraan aandag gee, want dit word duidelik in die Woord van die Here uitgespel, en dit is iets wat God se kinders groot vreugde moet verskaf. Dit is definitief die gevoel wat Paulus hieroor het. Geinspireer deur die Heilige Gees skryf hy ’n loflied aan God: “Aan God, die vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!” (Efesiërs 1:3). Paulus gee ook die rede vir die loflied aan God: Hy het ons geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.

Wat is al hierdie hemelse geestelike seëninge waarmee God ons in Christus gesëen het? Dit is al die genade van God wat Hy oor ons uitstort omdat Jesus Christus die sonde en die dood aan die kruis oorwin het, en nou aan die regterhand van God sit vanwaar Hy regeer en by die Vader elke dag vir ons intree. Deel hiervan, soos ons in vers 4 sien, is juis die uitverkiesing, oftewel die feit dat God “nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies het …” Die uitverkiesing is nie iets waaroor ons skaam of bang hoef te wees nie; God openbaar deur Paulus dat dit ’n groot seëning van Hom af is!


Hoekom is die uitverkiesing so ’n groot seën?

Dit is ’n bewys van God se onmeetbare liefde vir sy kinders. Met die sondeval in die tuin van Eden, het die hele mensegeslag so diep in die sonde verval dat hy teen God gekies het. Nou nog is dit so. Elke mens sal, indien hy die keuse gegee word, teen God kies. Hy sal God nie wil ken nie en niks van Hom wil weet nie. Elke mens sal kies om God te haat. Maar God het in liefde vir Hom, volgens sy eie wil, ’n geslag uit die mensdom gekies om Hom lief te hê. Hierdie geslag is verlos van hulle haat vir Hom. Hy is nou nie meer hul vyand nie, maar hul Vader. Wie is hierdie geslag? Dit is almal wat God voorbeskik het om as kinders aan te neem.

Weereens sien ons, dis nie die mens wat God kies nie. God het lank vooruit besluit dat Hy mense gaan kies as sy kinders. Niemand het Hom beveel of gemaak om dit te doen nie. Volgens sy eie vrye wil en sy onmeetbare liefde het Hy ons sy kinders gemaak.


Die band tussen God en sy kinders

Dit is nie net beeldspraak nie: God is werklik die Vader van sy uitverkore kinders, en hulle is sy huisgesin. Eintlik is die band tussen God en sy kinders nog hegter as wat die band tussen ’n aardse ouer en kind ooit kan wees.

Die bewys wat God aan sy kinders gee dat Hy hulle gekies het, is die ewige geloof in Jesus Christus. In vers 5 staan daar dat God die gelowiges deur Hom bestem het om sy kinders te wees. Vers 11 beaam hierdie gedagte. Almal vir wie Christus gesterf het en opgestaan het, word aangeneem. Soos ons ook verder in die hoofstuk, in vers 13 lees: “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het.” En almal wat aangeneem word, ontvang die geloof in Jesus Christus.

As ons waarlik glo dat Jesus Christus vir ons gesterf en opgestaan het, is dit die teken van die uitverkiesing wat God vantevore reeds uitgevoer het. God sal niemand met hierdie ware geloof agterlaat nie.


Wat is die doel van God se uitverkiesing?

Nou kan ons onsself afvra hoekom God mense gekies het om te red. Om hierdie vraag te antwoord, moet ons besef wat “redding” beteken, soos God dit bewerk het. Redding beteken dat God mense nie net van die verdoemenis en die angste van die hel gespaar het nie, maar vooruit bestem het om ’n ewigheid by Hom te wees. Redding beteken nie maar net dat ons die hel ontkom het en iewers op ons eie gaan wees nie, maar dat ons werklik met God verenig gaan word. Ons het reeds gehoor hoe dit gebeur: God neem ons as sy kinders aan. Daar is geen hegter of inniger verhouding as die verhouding tussen God en sy kinders nie.

Dit is dan die doel van die uitverkiesing: God verlang dat sy kinders met Hom sal wees. Sy heiligheid eis dat daar ’n skare van sy skepsels sal wees wat Hom omring, en alle eer en lofprysing en dank bring. God, die ewige Koning, moet onderdane en dienaars hê. Dit is hoekom God ons uitverkies: ons is sy dienaars.


God eis liefde van ons

Omdat God aan ons die grootste liefde moontlik bewys het, eis Hy dat ons aan Hom ook liefde sal bewys. Ons skuld God liefde, as ons dit so kan stel, vir sy weldade aan ons. Dit is die hele boodskap van die brief aan die Efesiërs. Dit verduidelik aan die kerk van God (want dit is die naam wat ons as uitverkorenes het), dat God ons eerste liefgehad het, en hoe ons die liefde aan Hom moet terugbewys.

Waar sien ons hierdie eis van God? Daar staan in vers 4: God het ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. Ons lewe liefde teenoor God uit deur aan Hom gehoorsaam te wees in ons hele lewe.


God se kinders moet heilig en onberispelik voor Hom wees

Is die groot aanklag teen die mens nie juis dat hy absoluut onheilig is, en dat al sy dade vol van gebreke is nie? Hoe kan ons dan nou ewe skielik heilig en onberispelik wees? Heilig en onberispelik beteken dat ons in alles God se wil uit liefde sal doen, dat ons nie ongehoorsaam teenoor Hom sal wees nie, en dat ons niks sal doen wat sy eer skade sal aandoen nie. Hoe kan ons dan so wees? Omdat God ons so maak – Hy maak ons heilig en onberispelik. Dit is die voleinding van sy uitverkiesing. Hy red ons nie net nie, en Hy maak nie net aan ons die opdrag om in liefde voor Hom te lewe nie, maar Hy gee ons die gawes om dit te doen. Hy maak ons heilig, en Hy maak ons onberispelik.


Ons het die Heilige Gees om ons te help

God se kinders is nie uitverkies en nou moet ons maar self uitwerk hoe ons voor God gaan lewe nie. Die Heilige Gees is met al die lede van die kerk van Christus, en Hy rig ons lewens. Hy lei ons daartoe om heilig en onberispelik te wees. Hy is met ons, of ons nou werk, of ons by die huis is, of ons ontspan, en of ons met die Woord van die Here besig is. Hy verkondig aan ons die feit van ons verlossing, van ons uitverkiesing, en gee aan ons die krag om te volhard in die lewe wat God van ons eis, die lewe van liefde. Deur die Gees is dit nie ’n swaar taak nie. Nee, dit is die heerlikste taak denkbaar, want die Heilige Gees is die waarborg dat ons werklik die eiendom van God is, en volkome verlos is.

Wanneer die Heilige Gees ons lei, is dit vir ons niks minder as die grootste vreugde en hoogste blydskap om God se grootheid op hierdie manier te prys vir die wonderlike genade wat Hy ons gegee het nie.

Al die heerlikheid en genade wat God in hierdie lewe oor ons uitstort, is bloot ’n wegwyser na die heerlikheid wat nog voorlê. Dit dui nog maar net op dit waartoe ons uitverkies is. Die heerlikheid en genade van die lewe wat kom na ons aardse lewe verby is, is soveel heerliker en groter as enigiets hier op aarde. Dit is soveel meer as wat ons kan bid of dink. Wanneer ons by ons Vader gaan wees, kry ons al die sëeninge verbonde daaraan om kinders van die Almagtige te wees. Nie een sëening sal ons weerhou word nie, ons sal die volle heerlikheid ontvang. En dit net omdat God in sy genadige wil ons uitverkies het.


Lees meer oor die geestelike seëninge wat ons as ons erfenis ontvang waarvan Efesiërs 1:3-14 praat in hierdie artikel:

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui