Wees gasvry teenoor mekaar, Jesus kom amper weer
deur ds. Johan Nel
Wanneer jy gereed maak vir iets, is jy hoofsaaklik daarmee besig. Jy dink daaroor, jy praat daaroor, jy doen iets daaraan. In 1 Petrus 4:7 word ons herinner aan ’n baie groot geleentheid waarvoor omtrent niemand gereed maak nie: Christus se wederkoms. Hoe vreemd is dit nie, dat omtrent niemand dink of praat oor Christus wat weer kom nie en dat byna niemand iets daaraan doen nie. In hierdie artikel kyk ons wat hierdie gedeelte in 1 Petrus ons leer, dat die einde naby is, en dat ons mekaar hartlik moet liefhê en gasvry wees teenoor mekaar.
Jesus se wederkoms is naby
God het duidelik in sy Woord bekendgemaak dat die wêreld elke keer ingrypend verander wanneer Hy deur Christus opgetree het. Dink aan die skepping. Dink aan die kruis en opstanding. Ons kan ons nie indink hoe dit gaan wees met Christus se wederkoms nie. Wat ons wel weet is dat die hemel en die aarde soos dit vandag bestaan in vlamme sal vergaan. Alles gaan nie stilletjies en saggies soos mis in die oggendson verdwyn nie. Nee alles gaan met ’n geweldige gedruis in vlamme vergaan (2 Petrus 3:10).
Die einde van alles is naby
Alles gaan tot ’n einde kom! Jou huis gaan nie meer bestaan nie. Jou kar gaan jy nie meer hê nie. Jou werk op aarde sal klaar wees. Jou rekenaar, jou selfoon, al jou besittings hier op aarde sal klein deeltjies as wees, deur die vuur verteer. Jou verhouding met jou kinders, jou ouers, sal ophou bestaan. Alles, letterlik alles sal tot ’n einde kom. Hierdie einde gaan ook heeltemal onverwags aanbreek. Soos die vorige keer, met Christus se eerste koms na die aarde, sy geboorte, gaan die wêreld weer glad nie voorbereid wees op Christus se wederkoms nie.
Maak gereed vir daardie dag
Die tyd waarin ons leef is genadetyd. Die einde van alles is naby, maar Jesus het nog nie weer gekom nie, omdat God nog genadetyd beskik (2 Petrus 3:9). Genadetyd is tyd vir regmaak met God, tyd om Christus regtig die Middelpunt van jou lewe te maak, tyd om gereed te maak vir Jesus se wederkoms, tyd om tot bekering te kom – alles in jou lewe tweede te stel en Christus eerste te stel, en dan hierdie lewe van bekering elke dag te leef. Ons moet al die ander dinge los, dis eers onbelangrik. Ons moet by Christus uitkom. Hou jou met Christus besig en wat Hy vir jou gedoen het! Sal jy een van die gelowiges wees wat gereed is vir Christus?
Gebrekkige gasvryheid wys ons is nie gereed vir Christus se koms nie
As gelowiges is baie van ons nie gereed nie: Ons is nie gasvry teenoor mekaar nie! Ons nooi mense nie genoeg na ons huise om met mekaar te praat oor Christus en sy wederkoms nie. Ons hou nie genoeg byeenkomste as gemeente waar ons oor Christus en sy wederkoms praat nie. Hoekom doen ons dit nie? Ons dink ons huis is ons huis en sal vir baie lank nog ons huis bly. So dink ons oor ons aardse verhoudings, oor werk, ons kar en al ons besittings. Ons dink so, want in ons harte leef die gedagte dat Christus se koms glad nie in ons tyd sal gebeur nie. Ons is maar dieselfde as die mense wat in Noag se tyd gespot het oor die ark en in Petrus se tyd gespot het oor die wederkoms van Christus. Ons spot dalk nie, maar ons ignoreer Christus se wederkoms. Onthou maar net wat het met die mense gebeur wat gespot het oor die ark.
Wees gasvry teenoor mekaar
Verander jou lewe en gehoorsaam God se opdrag! Neem 1 Petrus 4:9 ernstig op: “Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.” Soek mense op na die erediens en maak met hulle kennis. Maak dit vir mense gemaklik en aangenaam om in jou geselskap te wees. Die volgende stap is om medelidmate wat jy na die erediens ontmoet het, uit te nooi na jou toe. Laat die mense tuis voel by jou. Nou gaan dit nie oor die verversings wat jy voorberei het nie. Dit gaan oor veel meer. Christus is mos die Middelpunt van alles.
- Kom bymekaar en praat oor Christus
Wanneer julle bymekaar kom, praat oor Christus en sy wederkoms. Leer mekaar oor wat daardie dag gaan gebeur. Herinner mekaar om gereed te maak vir daardie geweldige dag. Kuier bymekaar oor Christus en sy wederkoms. Laat wat julle doen uitkring na al meer en meer lidmate, na die hele gemeente. Begin dan na ander kerke uitkring.
- Help mekaar om gereed te maak
Die Here wil dat ons mekaar help om te wag op Christus se wederkoms. Ons moet die Heilige Gees in ons laat werk en ons oortuig dat 1 Petrus 4:9 regtig waar is en dat ons iets moet begin doen. Ons moet die Heilige Gees ons laat oortuig dat soos ons nou aangaan, ons glad nie gereed sal wees vir Christus se wederkoms nie.
Laat Christus die Middelpunt wees en praat met mekaar oor Christus se wederkoms. Herinner mekaar en help mekaar om biddend gereed te maak vir die grootste dag in die geskiedenis van die heelal!