Sewe briewe aan sewe gemeentes

In Openbaring 1 lees ons van die briewe wat Johannes aan sewe gemeentes skryf. Lees hier meer oor dié briewe en hoe ons dit self kan bestudeer.

deur ds Jan-Louis Lee

Ter wille van die evangelie is Johannes na Patmos verban. Daar ontvang hy ’n visioen van die Here Jesus af wat die vervolgde kerk wil vertroos en bewapen vir die stryd wat sy moet voer.

Maar eers moet Johannes aan elkeen van die bekende gemeentes van die dag ’n brief skryf (Openbaring 1:11). Jesus besoek met hierdie briewe in ’n sekere sin die gemeente, en spreek hul spesifieke omstandighede direk aan. Hy maak regstellings, en gee vermanings en vertroosting soos die situasie dit in elkeen van die gemeentes se omstandighede dit vereis.

Die gemeentes in Efese, Smirna, Pergamus, Tiatire, Sardis, Filadelfia en Laodicea was almal bekend in die tyd. Al dié gemeentes was geleë op ’n sirkelroete in Klein Asië (moderne Turkye) en almal was vertroud met mekaar. Elkeen van hierdie briewe wat Johannes moet skryf, is dan ook in elkeen van die gemeentes gelees.


Hoekom sewe gemeentes?

Dit is sewe gemeentes, omdat sewe die volheidsgetal is. Dit stel daarmee die volle kerk – die kerk van alle tye en plekke voor. Daarom is die briewe van Jesus aan sy gemeentes in Openbaring ook die briewe van Jesus aan sy gemeentes in 2024, 2025, 2026 …!



Jesus openbaar Homself aan Johannes

In Openbaring 1 sien ons hoe Jesus Homself aan Johannes openbaar:

Daar is Iemand wat deur sewe goue kandelaars beweeg, Een soos die Seun van die Mens. Sy kleed hang tot op sy voete, hy het ’n goue gordel om sy bors en sy kop is soos wit wol. Sy oë gloei van vuur, sy voete is blink, gloeiende koper en sy stem is soos dié van baie waters. Hy hou sewe sterre in sy regterhand, en ’n skerp, tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan. Sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.

Wanneer Johannes by sy voete neerval, spreek Hy Johannes aan en sê: “… moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, ek lewe tot in alle ewigheid, en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk…”

Openbaring 1:12-18

As jy dan na elkeen van die gemeentes gaan kyk in Openbaring 2 en 3, sal jy sien hoedat ’n element van Jesus se Selfopenbaring in Hoofstuk 1, telkens in die gemeentes aan die orde kom. Jesus verduidelik in Openbaring 1:20 dat die kandelaars in die visioen die gemeentes is. Verder verduidelik Hy dat die sterre die leraars van die gemeente is.


Waaroor gaan die sewe briewe?

Kortom gaan die briewe daaroor dat daar in elkeen van die gemeentes ’n stryd gevoer word, omdat die kerk van alle tye en plekke teen die prikkels van die heersende kultuur moet skop en volhard. Tog is die stryd wat in een gemeente gevoer word, nie dieselfde as die stryd in ’n ander een nie. Maar, uit elkeen van die briewe kan die gemeentes leer – hoe om te versterk wat hulle goed doen, en te laat staan wat hulle verkeerd doen. In sommige gemeentes is daar lofprysings vir wat reg gaan, en skerp vermanings vir wat verkeerd gaan.

Die boodskap wat egter by elkeen van hierdie briewe duidelik na vore kom is die feit dat Jesus Christus presies weet wat in elkeen van sy gemeentes aangaan. En verder, dat Hy soewerein oor sy kerk regeer en dat die kerk in alles van Hom afhanklik is. 


Die kandelaar as beeld bind die Ou en Nuwe Testament

Die beeld van die kandelaar is wonderlik omdat dit die Ou en Nuwe Testament so mooi aan mekaar bind: In Eksodus 37 en Sagaria 4 lees ons van die kandelaar met sewe lampe waarmee die eenheid van God se volk uitgebeeld word. Een kandelaar – met sewe stele.

In die Nuwe Testament verander die beeld, en staan die kandelare los van mekaar, maar langs mekaar met die gemeenskaplike stam – Jesus Christus.

Hy beweeg tussen die kandelare deur en is onlosmaaklik deel daarvan. Hy leef en werk en is in die kandelare, en hulle vind hulle eenheid in Hom.


Jesus vermaan en vertroos elke gemeente

As jy nou verder na die briewe gaan kyk, merk op hoe Jesus die gemeente met sy Selfopenbaring vermaan en vertroos om te volhard.


Die gemeente Efese

  • Efese is die eerste gemeente wat Jesus besoek (Openbaring 2:1-7). 
  • Die Selfopenbaring van Jesus hier is ‘die Een wat die sewe sterre in sy regterhand vashou’ (vers 1).
  • Jesus prys die leerstellige waaksaamheid van die gemeente, sowel as hulle volharding hoog aan (vers 2).
  • Tog is dit duidelik dat die gemeente hulle eerste liefde verlaat het (‘julle het my nie meer so lief soos aan die begin nie…’). As gevolg daarvan volhard die gemeente in leerstellige suiwerheid, maar sonder Christus. Dit is kop- en lippediens, sonder die hart.
  • Die oplossing (vers 5) is om tot bekering te kom en weer met die liefde van Jesus Christus te arbei. Sou hulle dit nie doen nie, gaan die Here hulle kandelaar kom verwyder (vers 5b). Die wonderlike belofte aan die oorwinnaar is die ewige lewe by God. 

Duidelik is die stryd, in terme van Jesus se Selfopenbaring hier, ’n stryd tussen lig en donker. Want as Jesus die kandelaar verwyder, verdof die lig en is daar net duisternis.



Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui