Van Guido de Brès aan sy vrou
Vertaal deur Kruispad-redaksie

Bewus van die feit dat hy gemartel sou word, het De Brès vir sy vrou ’n brief geskryf wat as moontlik die mooiste liefdesbrief ooit beskryf kan word. Die datum van die brief is 12 April 1567 en hy is op 31 Mei 1567 gehang. Hier is uittreksels uit die brief wat hy uit die tronk skryf:
My geliefde vrou Catherine
… Catherine Ramon, my dierbare en geliefde vrou en suster in ons Here Jesus Christus: jou benoudheid en smart versteur in ’n mate my vreugde en die geluk van my hart. Ek skryf dié brief om nie net myself te vertroos nie, maar veral vir jou want jy het my nog altyd met ’n hartstogtelike liefde liefgehad
… Ek bid dat jy nie te veel hieroor sal wroeg nie uit vrees dat jy God sal aanstoot gee. Toe jy met my getroud is, het jy geweet dat ek ’n sterflike mens is van wie die lewensduur van selfs ‘n enkele minuut onseker is, tog het God ons toegelaat om vir ongeveer sewe jaar saam te leef en het Hy vir ons vyf kinders gegee.
As dit die Here se wens was dat ons langer saam moes leef, sou Hy die weg voorsien het. …
Dit is belangrik om te onthou dat ek nie deur blote toeval in my vyande se hande beland het nie, maar deur die voorsienigheid van my God wat alle dinge beheer en rig; die geringste sowel as die vernaamste …
Josef, wat deur sy broers verkoop en na Egipte geneem is, het gesê: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goeddoen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het” (Genesis 50). Dawid het dit ook beleef toe Simeï hom vervloek het. So ook in die geval van Job en baie ander.
Dit is waarom die Evangelieskrywers so versigtig skryf oor die lyding en die dood van ons Here Jesus Christus, en byvoeg: “Dit alles het gebeur sodat wat oor Hom geskryf is, tot vervulling sou kom.” Dieselfde behoort van almal gesê te kan word wat aan Christus behoort.
Dit is baie waar dat die menslike rede teen hierdie leerstelling in opstand kom en dit soveel moontlik weerstaan, en ek het dit self ook baie sterk beleef … Ek het begin sê: “My God, U het dit so laat gebeur dat ek in die tyd gebore is wat U bepaal het. My hele lewe lank het U my bewaak en van groot gevare beskerm, en U het my uit elkeen gered –
en as my tyd nou aangebreek het om van hierdie lewe af oor te gaan na U toe, laat u wil geskied.
Ek kan nie uit u hande ontvlug nie. En selfs al kon ek, sou ek nie, want dit bring my vreugde om my aan u wil te onderwerp.” Al dié gedagtes het nie net my hart gevul met groot blydskap op daardie oomblik nie, maar vul my voortdurend met geluk wat ook my hart rustig maak.
Daarom bid ek dat jy, my liewe en getroue metgesel, saam met my bly sal wees en God saam met my sal dank vir wat Hy gedoen het. Hy doen immers niks wat nie regverdig en billik is nie, en jy moet glo dat dit tot my beswil en vir my vrede is. Jy het my arbeid, kruis, vervolging en beproewings wat ek moes deurmaak self gesien en ook beleef, en jy het selfs deel daaraan gehad toe jy in my tyd van ballingskap saam met my gereis het.
Nou het my God sy hand uitgesteek om my in sy geseënde koninkryk te ontvang. Ek sal dit voor jou sien en wanneer dit die Here behaag, sal jy my volg.
Hierdie skeiding is nie vir ewig nie …
… Dink aan die eer wat God jou bewys het deurdat Hy vir jou ’n man gegee het wat nie net ’n leraar van die Seun van God was nie, maar so hoog deur God geag is dat Hy dit goedgedink het om aan hom ’n martelaarskroon te gee … Ek is gelukkig; my hart is lig en te midde van my beproewings kom dit niks kort nie …
Ek leef nou uit wat ek aan ander verkondig het. Nou moet ek bely dat toe ek dit verkondig het ek van die dinge wat ek tans moet deurmaak, gepraat het soos ’n blinde man van kleur praat. … Ek bevind my in ’n baie goeie skool: die Heilige Gees inspireer my voortdurend en leer my hoe om die wapens in hierdie stryd te gebruik.
… my dierbare suster en getroue vrou, ek smeek jou om in jou beproewings troos te vind in die Here en om jou bekommernisse aan Hom te gee.
Hy is die man van gelowige weduwees en die vader van arm weeskinders. Hy sal jou nooit verlaat nie; daarvan verseker ek jou. Gedra jouself soos ’n Christenvrou, getrou in die vrees van God, soos jy nog altyd was, en bring deur jou goeie lewe en woorde eer aan die leerstelling van die Seun van God, Hom vir wie jou man verkondig het.
Jy het my altyd met diepe toegeneentheid liefgehad, en ek bid dat jy dié liefde ook aan ons kindertjies sal bewys terwyl jy hulle in die kennis van die ware God en van sy Seun, Jesus Christus, onderrig. Wees hulle vader en hulle moeder, en kyk toe dat hulle die beste behandel word met die bietjie wat God aan jou gegee het.
As God jou die guns bewys en jou toelaat om ná my dood as weduwee saam met ons jong kinders te leef, is dit goed so. Indien jy dit nie kan doen nie en julle tekort het, gaan dan na ’n goeie man, getrou en godvresend. Ek sal ook, wanneer ek kan, vir ons vriende skryf en hulle vra om te sorg vir jou. Ek glo nie dat hulle sal toekyk hoe jy tekortskiet nie.
Volg weer jou gewone roetine nadat die Here my kom haal het.
Jy het ons dogter Sarah wat binnekort groot sal wees. Sy sal jou metgesel wees en jou in jou swaarkry bystaan. Sy sal jou in jou beproewings vertroos en die Here sal altyd by jou wees. Groet al ons goeie vriende namens my en vra dat hulle vir my tot God sal bid sodat Hy my die krag, woorde en wysheid sal gee, asook die vermoë om die waarheid oor die Seun van God tot aan die einde en tot die laaste asemteug van my lewe te handhaaf.
Vaarwel, Catherine, my wonderlike vriendin.
Ek bid tot my God dat Hy jou sal vertroos en dat jy tevredenheid sal vind in sy goeie wil.
… Hou my brief as ’n herinnering aan my … Dra my groete aan my moeder oor … Stuur ook groete aan my goeie suster … Genade vir jou, vir altyd.
Jou getroue man, Guido de Brès, verkondiger van die woord van God by Valenciennes, en tans ’n gevangene vir die Seun van God by bogenoemde plek.
Lees hier meer oor Guido de Brès: