Bullinger se briewe word digitaal
Bullinger het in sy leeftyd rofweg 12 000 briewe gestuur en ontvang. Lees hier meer oor hom as mens, en oor dié groot projek om sy briewe te digitaliseer.
deur Wilna Myburgh
Heinrich Bullinger (1504-1575) was ’n teoloog en ’n Hervormer. Hy het ’n baie belangrike rol gespeel in die Hervormingsbeweging in Zürich na sy voorganger Zwingli se dood in 1531. Verder het hy gehelp om die Reformasie na die res van Europa te versprei. Wat veral uitstaan is sy korrespondensie – daar is ’n baie interessante projek waarby die Universiteit van Zurich betrokke is, waar die groot aantal briewe wat hy ontvang en geskryf het, digitaal beskikbaar gemaak word.
Heinrich Bullinger se persoonlike lewe
- Heinrich Bullinger is gebore in 1504 buite die stad Zurich, in Switzerland. Sy pa was die plaaslike pastoor, en het al vandat Heinrich klein was hom voorberei om sélf die priesterskap te betree.
- Op 25, in 1529, trou Bullinger met Anna Adlischweiler, ‘n voormalige non. Sy was self ’n voorstander van die Reformasie. Saam het hulle 11 kinders gehad, en ook nog kinders aangeneem. Interessant genoeg het ses van hulle seuns Gereformeerde predikante geword!
- Sy vrou en baie van sy familie het tydens die groot plaag tussen 1554 en 1556 gesterf. Hy is op 71, in 1575, in Zürich oorlede, na ’n 44-jarige bediening in die stad.
Heinrich Bullinger se professionele lewe
- Bullinger het kloosterskool in Emmerich, Duitsland bygewoon, en later by die Universiteit van Köln in Duitsland studeer, van 1519 tot 1522. Daar het hy begin lees wat Erasmus, Melanchthon en Luther geskryf het.
- Dit is ook hier waar hy begin besef het hoe belangrik dit is om self die Skrif te bestudeer. Dit was in daardie tyd, veral tussen sy Rooms-Katolieke klasmaats, as vreemd beskou. Almal het die Pous se interpretasies van die Skrif gevolg. Hier het Bullinger begin oorgaan na die Gereformeerde Protestantse Kerk.
- In 1523 het hy onder andere Grieks en Hebreeus bestudeer, en Zwingli ontmoet en sy geskrifte begin bestudeer. Dié ontmoeting met Zwingli het natuurlik ’n groot impak op sy lewe gehad.
- Later word hy selfs ’n pastoor in sy tuisdorp, Bremgarten waar hy sy vader opvolg. Sy pa is afgedank vir die verspreiding van Gereformeerde Kerk-leerstellings! Hy gaan self voort om gereformeerde teologie te preek.
- In 1531, na die dood van Zwingli, het Bullinger sy werk opgevolg. Ulrich Zwingli is bekend as die belangrikste hervormer in die Switserse Protestantse Hervorming, en die stigter van die Switserse Gereformeerde Kerk.
Heinrich Bullinger en al 12 000 sy briewe
Bullinger het ’n groot invloed gehad om gereformeerde prediking deur Europa te versprei. Hy het talle preke, Bybelkommentare en teologiese briewe geskryf. In totaal kom sy korrespondensie tot meer as 12 000 briewe! Hierdie briewe is aan en van verskeie leidende figure, soos teoloë, pastore, prinse en politici.
Heinrich Bullinger se briewe word gedigitaliseer
Die Universiteit van Zürich het in 2020 ’n projek begin waar hulle die briewe digitaal beskikbaar maak. Die grootste doel hiermee is om die geskiedenis van die Zürich-hervorming te ondersoek. Dit word die The Bullinger Digital Project genoem en hulle het gepoog om teen 2022 klaar te wees. Let wel dat die briewe oor ’n tydperk van 1523 tot 1575 strek!
Die doel van die projek
Dié projek verduidelik dat die briewe “’n onskatbare bron vir die bestudering van die geskiedenis en kultuur van Zürich, Switserland en die hele Europa” is. Lees meer oor die projek hier.
Die Bullinger Digital-projek deel ’n paar feite:
- Die grootste deel van Bullinger se korrespondensie, sowat 12 000 briewe, bestaan uit briewe wat aan hom gerig is, met slegs sowat 2 000 wat deur die Switserse hervormer self geskryf is.
- Twee derdes van die briewe is in Latyn en een derde in Vroeë Nuwe Hoogduits, terwyl meer as 2 000 briewe ’n mengsel van die twee tale bevat. ’n Paar van die briewe is in ander tale geskryf, soos Frans, Italiaans of Grieks.
- Die projek gebruik outomatiese handskrifherkenningstegnologie wat kunsmatige intelligensie (AI) gebruik.
- Aangesien die briewe deur baie verskillende mense geskryf is en die Latynse en Vroeë Nuwe Hoogduitse karakters ook verskil, moet die program baie verskillende soorte handskrifte kan verwerk. Ongelukkig lei dit tot foute, so alles moet fyn nagegaan word.
- Die briewe is beskikbaar op ’n aparte webwerf, hoewel daar nog briewe is wat getranskribeer en vertaal moet word.
Lees saam aan die briewe van Bullinger
Gaan kyk gerus op die webwerf waar die briewe beskikbaar is: https://www.bullinger-digital.ch/. Aangesien dié ’n Switzerse projek is beteken dit nog nie dat ons die briewe sommer net kan verstaan nie! Gelukkig is daar ’n vertaal-knoppie om ’n brief vanuit die 1500’s se een taal, na ’n taal van vandag in Switzerland te vat, voordat jy dit na die taal van jou keuse kan lees!
Elke brief het inligting soos die datum, en wie dit gestuur het, ’n kort opsomming, ’n afskrif van die oorspronklike brief, ’n transkripsie van die brief, en dan ’n vertaling. Kyk hier na ’n voorbeeld van ’n brief wat in 1541 deur Oswald Myconius gestuur is:
Die briewe wat reeds vertaal is word ingedeel op verskeie maniere: een daarvan is deur wie dit geskryf is. Maar dis ook baie interessant om te sien hoe dit verdeel word op ’n interaktiewe kaart. Dink net aan al daardie korrespondensie en hoe moeilik dit in die 1500’s was om briewe te stuur!