Wees ’n aanbevelingsbrief vir Christus

In 2 Korintiërs 3 lees ons hoe Paulus se gesag ondermyn is, en hy die gemeente sy aanbevelingsbrief noem. Lees hier hoe dit op jou van toepassing is.

deur ds Jan-Louis Lee

’n Getuigskrif is ’n brief wat jou karakter, werksetiek en temperament uit die oogpunt van iemand anders weergee. Dit beveel jou vir ’n bepaalde werk aan, en gee vir die werkgewer sekerheid dat hy nie ’n kat in die sak met jou aanstelling koop nie!

Getuigskrifte in die kerk

In die kerk maak ons van getuigskrifte gebruik. Ons gee vir lidmate attestate wanneer hulle na nuwe gemeentes vertrek, waarmee daar aangedui word hoe die lidmate se leer en lewe is.

Met kerklike vergaderings gee gemeentes aan hulle afgevaardigdes kredensiebriewe. Dit verduidelik aan die meerdere vergadering wie die persone is wat die vergadering namens die gemeente gaan bywoon; wat hulle mandaat is; en dat hierdie afgevaardigdes vanuit die Skrif, belydenis en kerkorde sal help om die sake wat op die vergadering se agenda is, te beoordeel.

Aanbevelingsbriewe in die Bybelse tyd

In die tyd waarin die kerk ontstaan het, was dit dikwels die gebruik dat gemeentes sendelinge stuur om die evangelie aan ander stede en dorpe te bring. Om kredietwaardigheid aan hierdie sendelinge te verleen, en hulle mandaat vas te stel, is soortgelyke briewe aan hulle gegee. So het die gemeentes dan geweet dat die boodskap wat hulle hoor, nie valse leer is wat hulle van stryk af kan bring nie.


Vals briewe ondermyn Paulus se gesag

Wanneer Paulus egter sy tweede brief aan die Korintiërs skryf, moet hy met skok verneem dat sy bediening en apostoliese gesag in die stad deur valse predikers, met valse briewe ondermyn is. Ons weet nie hoe of waar dié valse leraars die dokumente bekom het nie – maar die effek van hulle valse bediening was dat Paulus opnuut gemoedere moet laat bedaar in hierdie moeilike gemeente.

Die punt is: ondermyn die boodskapper; en dan sal sy boodskap nutteloos wees. Daarom moet Paulus ondubbelsinnig stel dat hy deur Jesus Christus Self gestuur is en dat die boodskap sonder twyfel die waarheid is. 


Paulus bevestig sy eie aanbeveling

Paulus skryf in 2 Korintiërs 3:1 en 2 dat die aanbevelingsbrief wat hy, Paulus, gebruik, sigbaar is in die gemeente self. Hulle, die Korintiërs, is sy brief.

Begin ons weer onsself aanprys? Of het ons miskien, soos party ander mense, aanbevelingsbriewe aan julle of van julle nodig? Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense.

2 Korintiërs 3:1 -3

Hoekom sê Paulus dat Korinte sy aanbevelingsbrief is?

As ons die hele verloop van sy bediening in hierdie stad mooi in ag neem, dan weet ons dat vóór hulle bekering, daar net afgodsaanbidders en ongelowiges was. Maar toe die onweerstaanbare genade van Christus aan die gemeente gebring is en God hulle tot geloof laat kom het, was daar skielik ’n gemeente van die Here. Weliswaar ’n moeilike, wispelturige gemeente. Steeds – daar was gelowiges.

En die brief wat die Korintiërs dan nodig het om die kredietwaardigheid van die apostel te bevestig, is die wonderlike boodskap van Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Hulle sekerheid is gebou op die feit dat die Gees hulle met die eerste keer toe hulle die evangelie gehoor het, brandend vir die Woord gemaak het. Daar was bekering en lewe – want die lewende God het lewende onderdane.

Dan moet ons verder nie vergeet dat Paulus in vers 3 sê: “deur ons diens geskrywe…” Soos ’n mens ’n brief met ’n instrument (pen of potlood) skryf, was Paulus en sy medewerkers eintlik maar net die penne waarmee die brief van Christus op die harte van die gemeente gegraveer is. Boonop is die brief permanent – dit kan nie skeur, of onduidelik word wanneer die letters vervaag nie. Dit kan nie, soos in die geval van kliptafels wat ook destyds gebruik is om geskiedenis op te skryf, breek nie.

Dit is op die vleestafel van die hart, met die ink van die Gees geskryf. Ja – Paulus bring die gemeente terug na die bediening van die Woord, want dit is die brief wat die Korintiërs ontvang het en nou weer na moet terugkeer.


Jy is ’n aanbevelingsbrief van Christus

Wat merkwaardig van hierdie brief is, is dat dit ’n brief is wat oop en bloot is, wat “geken en gelees” word deur alle mense. Dus – as gelowige is jý ’n brief van Christus. Mense ‘lees’ jou en sien raak hoe jou leer en lewe óf by mekaar pas, en of jy huigel.

En op hierdie manier word elke gelowige dus op ’n besondere wyse ook ’n pen. Daar is baie wat nie ’n Bybel oopmaak en lees nie, baie heidene wat die Here verloën, maar wat goed weet hoe om die gelowiges in die samelewing dop te hou.

Is jou lewe ’n brief? En is jy ’n pen wat vaardig in die hand van Christus die evangelie op die harte van ander graveer?


You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui