Martelare van die Reformasie
deur Victor E. d’Assonville
Die Romeinse Ryk het in die eerste drie eeue na Christus baie Christene tot die dood toe gemartel. Nogtans was dit minder as die hoeveelheid martelare wat týdens die Reformasie in die destydse Nederlande (daaronder dele van die huidige België) onder die Roomse vervolging gesterf het. Die groot Reformatore (byvoorbeeld Luther, Zwingli, Bucer, Calvyn, Melanchthon en Bullinger) is gedurig met vervolging en die doodstraf gedreig vir hulle geloof in Christus as enigste Verlosser volgens die Skrif as sy Woord.
Hier is kortliks ’n paar verhale:
Op 16 Mei 1553 is vyf gereformeerde studente in Lyon, Frankryk, tereggestel vir hulle gereformeerde geloof en belydenis. Dié studente en soveel ander is in die tronk deur briewe van Calvyn vertroos en bemoedig.
Guido de Brès (1522-1567) was die skrywer van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Hy is in 1565 gevange geneem en is later tereggestel vir die inhoud van die belydenis. Vir hom was dit vanselfsprekend om met die hoogste prys, sy lewe, vir sy geloof te betaal.
Duisende gereformeerdes is tydens en na aanleiding van die berugte Bartholomeusnag (23-24 Augustus 1572) weens hul geloof vermoor. Dit het in Parys begin en op bevel van die Roomse koningin regdeur Frankryk versprei.
Cyrillus Lucaris (1572-1638) was ’n Grieks-Ortodokse teoloog uit die tyd ná die Reformasie. Hy was onder meer die patriarg in Alexandrië en Konstantinopel. Wat gesag betref is die patriarg met die pous vergelykbaar. Hy is deur Calvyn se geskrifte en ander reformatoriese werke van die waarheid van die reformatoriese leer oortuig en het sterk teen die verering van beelde in die kerk gestry. ’n Sultan het hom deur Moslemsoldate laat vermoor.