Só baie sterf vir die waarheid
deur Victor E. d’Assonville
Hervormingsdag is 31 Oktober. Dink net aan die Reformatore wat benadruk het dat die evangeliese waarheid eenvoudig genoeg is vir elke mens om te verstaan.

Die Reformasie van die sestiende eeu het nie in ’n lugleegte ontstaan nie. Die Here het na baie eeue ingegryp, want die kerke het die Woord al hoe meer verwaarloos. Die Reformatore het benadruk dat die evangeliese waarheid eenvoudig is. Jy hoef nie ’n dominee of ’n professor te wees om die Bybel te verstaan nie.
Beginsels van die reformasie
- Solus Christus
Ons as kinders van God is alleen deur genade hierdie redding in Christus beskore. - Sola gratia
Ons as kinders van God is alleen deur genade hierdie redding in Christus beskore. - Sola fide
Alleen deur geloof ontvang ons hierdie redding, nie deur enige verdienste van ons kant af nie. - Soli Deo gloria
Ons hele lewe, gedagtes, woorde en dade het tot doel om aan God alleen die eer te laat toekom vir sy groot genade in Christus. - Sola Scriptura
Die redding deur die geloof alleen, asook hóé ons die Here aanbid, dank en aan God alleen die eer laat toekom, maak Christus aan ons deur sy Gees alleen deur die Skrif bekend. - Tota Scriptura
Die Here maak kennis van Homself en kennis van ons deur die Skrif en die prediking van die Skrif bekend. Hy spreek deur sy Gees deur die hele Skrif, nie slegs deur dele wat ons pas of wat ons uitkies nie.
Vinnige feit: Die Reformatore was baie sterk voorstanders daarvan dat die Woord uitgedra moes word en daarom groot ondersteuners van sendingwerk. Een voorbeeld was ’n sendingprojek van 1556 in Brasilië wat persoonlik deur Calvyn en sy medestanders ondersteun en gedra is.
Vervolging voor die reformasie
Hierdie mense het onder andere reeds lank vóór die Reformasie onder lewensgevaar die Woord verkondig:
- John Wycliffe (±1330-1384)
Hierdie Engelse teoloog het die redding deur die genade alleen beklemtoon. Dit was vir hom belangrik dat die mense die evangelie in hulle eie taal moet kan lees en hoor. Ná sy dood is hy deur die Rooms-Katolieke Kerk veroordeel en is sy beendere verbrand. - Jan Hus (1369-1415)
Hy was ’n Tsjeggiese teoloog wat hom in verskillende opsigte vir die Bybelse leer en die Bybel in die taal van die mense beywer het. Hy is deur die Rooms-Katolieke Kerk in 1415 in Konstanz ná ’n lang marteling saam met kopieë van al sy publikasies op ’n brandstapel verbrand. - Girolamo Savanarola (1452-1498)
As Italiaanse priester en prediker het Savanarola sterk teen die onsedelike lewe en dwaalleer van die Rooms-Katolieke Kerk gestry. Daarvoor sou hy aan die einde van die vyftiende eeu met sy lewe boet. Hy is opgehang en verbrand vir sy verkondiging van die evangelie.
Psalms en die sing van Psalms het gemaak dat die Reformasie oor die wêreld heen versprei het. Dit kan vergelyk word met die invloed van hedendaagse sosiale netwerke soos Facebook. Deur die sing van Psalms het die Reformasie die Nuwe-Testamentiese kerk in die vroeë eeue se oortuiging voortgesit.