Die belang van briewe in die reformasietyd
In die tyd van die reformasie is die kerk vernuwe, maar dit was ook ’n baie moeilike tyd. Lees hier wat ons uit die Reformatore se briewe kan leer.
deur ds Werner Brotherton
Die reformasie was ’n tyd van genade. Dit was ’n tyd waar die Here deur sy Woord die kerk vernuwe het. Tog was dit op dieselfde tyd ’n baie moeilike tyd vir gelowiges om in te leef. Ons leer iets hiervan wanneer ons die briewe begin lees wat tydens die reformasie omgegaan het.
Deur die briewe na te vors kan ons sien wat deur die mense se gedagtes gegaan het, en watter stryd hulle beleef het.
Briewe tussen Luther en Calvyn
Ons leer onder andere in ’n brief wat Johannes Calvyn aan Martin Luther geskryf het hoe sekere Franse hervormers bang was vir vervolging. Hulle sou bloot voortgaan om deel te neem aan die gebruike van die Roomse kerk. So het hulle hul gewetes probeer sus deur te sê dat hulle steeds die ware God dien al neem hulle aan die gebruike deel.
Natuurlik het Calvyn hulle vermaan en het hulle hom tot ’n mate gedwing om ’n brief aan Luther te skryf omdat hulle geweet het dat Luther nie heeltemal gereformeer het nie. Hy sou steeds sekere Roomse gebruike toelaat. Calvyn het toe vir Melanchthon gevra of hy sal oorweeg om die brief aan Luther te gee. Dit het egter op die einde nie gebeur nie.
In die brief kan ons ook sien dat Calvyn baie groot agting vir Luther gehad het. Luther was sowat 25 jaar ouer as Calvyn. Ons kan wel ook uit hierdie skrywe agterkom, en duidelik uit ander briewe van Luther, dat hy nie die Franse reformasie goedgesind was nie.
Briewe wys ons iets van die persoon
In ander briewe sien ons hoe Melanchthon al hoe nader aan Calvyn se siening rondom die Nagmaal beweeg het.
Henry F. Henderson was baie krities teenoor Calvyn. Tog maak hy die opmerking dat ons in die briewe van Calvyn iets van sy menslikheid raaksien. Dit is asof jy van aangesig tot aangesig met hom in gesprek tree.
In die briewe van die Reformatore kan ons sien dat hulle baie gedrewe was. Hulle het ook ’n groot passie vir die waarheid van die Skrif gehad het. Uit hulle skrywes kan ons sien dat hulle waarlik pastorale predikers was. Dit is besonders om onder andere by Calvyn te sien hoe hy baie sag en baie mooi met die gemeentes sou werk en aan hulle sou skryf. Maar, aan dwaalleraars het hy baie reguit geskryf.
Ons het dieselfde by Luther gekry. Hy sou net so reguit en met harde woorde aan iemand soos die pous, en selfs aan ander reformatore soos Zwingli, skryf. Hy het aan die ander kant weer ’n baie bemoedigende brief aan Melanchthon geskryf waar hy hom versterk en bemoedig wanneer hy met een of ander sonde worstel.
Luther skryf oor die uitverkiesing
Ietsie van een van Luther se briewe waar iemand hom gevra het oor die uitverkiesing:
Hy het gesê dat ons alleen moet leun op God se beloftes in die doop, die Bybel, en die sakramente. “Ek is gedoop. Ek glo in Jesus Christus. Ek het die sakrament van die Nagmaal ontvang. Waarom sou ek so bekommer oor my uitverkiesing?”
Die punt wat hy maak is dat ons moet seker wees van dit wat God in sy Woord sê wat Hy vir ons doen. Ons moet glo wanneer die Here sê dat Christus vir ons aan die kruis gesterf het. Natuurlik beteken dit nie dat die uitverkiesing nie saak maak nie, maar dit is ’n artikel vir ’n ander dag.
Luther skryf oor ons verlossing
Op ’n ander plek skryf Luther ook oor die sekerheid van ons verlossing en sê: Dit sou dwaas wees as die Here vir ons sy Seun gee, as Hy vir ons sy Woord en die profete gee as Hy wou hê ons moet onseker wees oor ons verlossing.
Ons leer in die briewe van reformatore se verhoudings
So kan ons ook deur briewe leer watter verhoudings die reformatore met onder andere hulle vrouens gehad het. Ons het briewe tussen Luther en sy vrou Katie. Ons het briewe van Guido de Brès, wat die Nederlandse Geloofsbelydenis opgestel het, wat onder andere uit die tronk aan sy vrou geskryf het.
So leer ons dat die belang van die briewe vir ons besondere inligting gee rondom die lewe en tyd van die Reformatore. Ons kan iets sien van die stryd wat daar in die kerk is. Ons kan ten diepste sien hoe die Here waarlik in sy kerk betrokke is.