Die doel van Nuwe-Testamentiese briewe
In hierdie artikel kyk ons na die algemene skryf van briewe in die Nuwe Testament – hoekom is briewe gebruik? Wat sê hierdie briewe?

deur ds Daniël Myburgh
In die Nuwe-Testamentiese tydperk het briewe ’n baie belangriker rol gespeel as die briewe wat ons vandag vir mekaar skryf. In vandag se tyd oordink mens nie altyd mooi die woorde wat jy aan iemand sê of skryf nie. Meeste van ons briewe of boodskappe is digitaal. Ons kan maklik ons woorde uitvee of wysig. Maar dit was nie die geval in die Nuwe-Testamentiese tydperk nie. Dít wat hulle geskryf het kan ons amper meer permanente woorde noem.
Die skryfwyse in die tyd van die Nuwe Testament
Die Nuwe-Testamentiese skrywers kon nie maklik hul woorde verander nie. Verder was die materiaal waarop hulle geskryf het, nie so maklik verkrygbaar nie. Hulle het met ink op papirus (papier) of perkament (leervelle) geskryf. ’n Mens moes dus baie noukeurig gewees het wanneer jy iets geskryf het. En daarom het baie Nuwe-Testamentiese Bybelskrywers van skribas gebruik gemaak. ’n Skriba was iemand wie gefokus was en die woorde neergeskryf het soos wat iemand anders gepraat/gedikteer het (byvoorbeeld Filippense 1:19; Galasiërs 6:11).
Briewe in plaas van besoeke
In daardie tyd – en selfs in die tyd van die Reformasie – kon mense nie so maklik gereis het soos vandag nie. Paulus sê gereeld dat hy ’n gemeente en die lidmate wou besoek, maar dat iets hom verhinder het (vgl. Romeine 15:22; 1 Tessalonisense 2:18; Romeine 1:13). En daarom het briewe in daardie tyd so ’n groot rol gespeel. Elke Nuwe-Testamentiese brief het ’n doel gehad; dit het ’n besóndere betekenis vir die mense van daardie tyd gehad. En natuurlik, dit het ook vir ons vandág nog betekenis.
Met briewe kon predikers van die Nuwe-Testament, op ’n manier, vir die gemeentes preek. Elke Nuwe-Testamentiese brief dien as toerusting vir die gemeentes. Elke Nuwe-Testamentiese brief bevat verskeie preke oor God se wil en sy doel met die gelowige se lewe.
Wat maak Bybelse briewe anders?
Hierdie briewe is egter anders as al die ánder briewe van daardie tyd: Eerstens is dit deur die Heilige Gees geïnspireer. Hierdie briewe bevat God se Woorde aan sy kinders. Dit het nie net die algemene vorm en struktuur van tipiese Grieks-Romeinse briewe nagevolg nie, want die skrywers is deur die Heilige Gees gedryf om soms van die standaard skryfstyl van hul tyd af te wyk.
Die skrywers van hierdie briewe maak hulself ook telkens as “gesante van Christus” of “slawe van God se huisgesin” bekend (Galasiërs 1:1; Romeine 1:1). Verder lees ons telkens die woorde “vrede” en “genade” in die openingswoorde of in die groetseën van hierdie briewe. Dit het dit dadelik aan die lesers duidelik gemaak dat hierdie ’n Christelike brief is wat geság dra. Baie van hierdie Nuwe-Testamentiese briewe bevat dan ook aanhalings uit die Ou Testament, want die skrywers het gewéét dat die lesers, as hul medegelowiges, sal weet waarvan hulle praat (bv. Judas; 1 Petrus 1:16).
Die doel van briewe in die Nuwe Testament
Die doel van die Nuwe-Testamentiese briewe was om aan die gemeente voorgehou te word sodat hulle die geheimenisse van God kan leer ken en sodat hulle ook kan weet hoe om hulle geloof getrou en gehoorsaam uit te leef (1 Tessalonisense. 5:27). Selfs die briewe wat aan ’n individu gerig is, spreek die hele gemeente aan (1, 2 Timoteus en Titus asook 1 – 3 Johannes).
Meeste van hierdie briewe is ook as sogenaamde “omsendbriewe” beskou en behandel. Die skrywer se doel met ’n omsendbrief was, dat hierdie brief ook na ánder dorpe en gemeentes aangestuur moes word sodra een gemeente hierdie brief klaar behandel het (byvoorbeeld Efesiërs en Jakobus).
Die doel van Romeine, Filippense en Tessalonisense
Ons gaan kortliks na die doel/rede kyk vir ’n paar Nuwe-Testamentiese briewe, maar dit is belangrik om te weet dat élke Nuwe-Testamentiese brief ’n doel het, selfs al word dit nie in hierdie artikel genoem nie.
- Die brief aan die Romeine se primêre doel is om die Evangelie van Christus in ’n neutedop te verduidelik. Paulus skryf in hierdie brief oor die sondeval en alle mense se gebrokenheid, maar dat die Tweede Adam gekom het om gelowiges uit genade vry te spreek van hul sonde. Dit laat ’n mens in dankbaarheid reageer en jou geloof prakties uitleef.
- In die brief aan die Filippense waarsku Paulus die gemeente dat hulle moet waak teen onenigheid onder mekaar en dat die wáre gelowige dankbaar – en selfs bly – kan wees te midde van moeilike omstandighede.
- Die briewe aan die Tessalonisense handel oor die gelowige se ingesteldheid rakende Christus se wederkoms. ’n Mens moet weet dat dit onverwags en naby is, maar óók dat ’n mens steeds ’n roeping het terwyl ’n mens daarvoor wag.
Mag die Nuwe-Testamentiese briewe ons daarop wys dat ’n mens se woorde aan jou medegelowige ’n impak op hul lewens het. Dít wat jy vir iemand sê of skryf kan hulle maak of breek. Kom ons wees versigtig met ons woorde en kom ons wees dankbaar vir God se Woord aan ons. Ons het die voorreg om ook al hierdie Nuwe-Testamentiese briewe te lees en om slégs dáárdeur geestelik gevoed en versterk te word omdat dit God se Woorde is.
Lees hier hoe jy meer aandag kan gee aan wat jy sê en skryf: