Hoekom is daar briewe in die Bybel?

Uit die 27 boeke in die Nuwe Testament is 21 briewe. Lees hier hoekom briewe so belangrik in die Bybelse tyd was.

deur ds Werner Brotherton

In die Nuwe Testament is 21 van die 27 boeke briewe. Dit maak natuurlik sin dat mense nie ons tegnologie gehad het in die destydse samelewing nie! Hulle kon nie gou ’n boodskap of ’n e-pos stuur om inligting oor te dra nie. Daarom het hulle briewe aan mekaar geskryf.

Die woord sendbrief of epistel (epistle in Engels) word gebruik om na die briewe in die Bybel te verwys. Dit kom van die Griekse woord epistolé, wat “brief”, “boodskap” of “versending” beteken. In Hebreeus is die woord iggerah. Dit beteken ook “brief” en is hoofsaaklik gebruik vir boodskappe – lang, amptelike, formele briewe, gewoonlik van iemand belangrik af. Ons praat dus hier van briewe wat belangrik is; wat met ’n doel geskryf is.

Die Bybel is die Woord van God, ons weet dat die Heilige Gees deur die apostels met ons praat. Paulus self verduidelik dit vir ons in 1 Korintiërs 2:12-13:

Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer.

Die briewe wat in die Bybel opgeneem is, is verseker nie die enigste briewe wat in die Nuwe Testamentiese tyd geskryf is nie. Dit is net dié wat deel geword het van die Skrif toe dit opgestel is. Vir gerief praat ons van alle soorte boeke in die Bybel as boeke, of dit nou briewe, liedere, preke, gebede of poësie is.


Briewe was ’n goeie manier van kommunikasie

Paulus, Petrus, en ander Bybelskrywers het briewe aan gemeentes geskryf wat aan die gemeentes tydens die eredienste voorgelees moes word. Wat ons byvoorbeeld uit die briewe aan Korinthe kan aflei is dat die gemeente ook briewe of boodskappers na Paulus gestuur het met sekere vrae.

Kyk byvoorbeeld na 1 Korintiërs waar Paulus skryf dat hy ’n beroep op die gemeente doen om eensgesind te wees, en dan sê:

Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is.

1 Korintiërs 1:11

Paulus sou hulle dan met briewe antwoord wat hy aan hulle sou stuur as hy nie self na hulle toe kon kom nie. Die briewe is dan ook onder gemeentes uitgeruil om hierdie inligting te deel.

Wanneer hierdie brief klaar by julle voorgelees is, moet julle reëlings tref dat dit ook in die gemeente van die Laodisense voorgelees kan word; en die een wat van Laodisea af sal kom, moet ook by julle voorgelees word.

1 Kolossense 4:16

Ons sien ook dat die skrywers reeds ín hul briewe skryf hoe dit aan alle gelowiges verkondig moet word:

In die Naam van die Here dring ek by julle daarop aan dat hierdie brief aan al die gelowiges voorgelees word.

1 Tessalonisense 5:27

†Ons kry daaruit ’n unieke blik op die kerke van die eerste Christene. Dit is ook interessant om te sien dat mense in daardie tyd dikwels met dieselfde goed worstel, as ons vandag.


Waarom is daar eers in die Nuwe Testament briewe?

In die Ou Testament was die boekdrukkuns nog nie so ontwikkeld soos in die Nuwe Testament nie (wat ook maar nog baie gebrekkig was). Hulle het in die Ou Testament inligting mondelings aan die volk oorgedra. Later het die Here profete gestuur wat mondelings moes profeteer. En tog het hulle soms sekere dinge moes neerskryf vir almal om te sien.

Soos wat die skryftegnologie vooruitgegaan het kon hulle oorgaan na die skryf van meer briewe. Wat ’n brief ook so besonders maak is dat dit vas in ink is. Dit kan nie weer sommer verander word nie.


Briewe in die Ou Testament

Ons lees nie spesifieke briewe in die Ou Testament nie, maar daar is heelwat verwysings na mense wat briewe uitgestuur het.

Hier is ’n paar voorbeelde:

  • 2 Samuel 11:14-15

Dawid het geskryf toe hy beplan het dat Urija moet doodgemaak word in die oorlog sodat hy sy vrou kan kry.

Die volgende oggend het Dawid ’n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur. In dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija ’n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.”

  • 1 Konings 21:8

Isebel het in haar man se naam briewe geskryf dat Nabot doodgemaak moet word, sodat Agab sy wingerd kon kry.

Sy skryf toe briewe in die naam van Agab en sit sy seëlafdruk daarop, en sy stuur die briewe aan die leiers en die ampsdraers van Nabot se stad.

Daar is nog voorbeelde van briewe wat gestuur word in onder andere Jesaja, Jeremia, Esra en 2 Konings.


Briewe in Openbaring

Daar is ook ander briewe wat besonders is, en dit is die sewe briewe wat ons in Openbaring 1 tot 3 vind. Daar word die sewe gemeentes van Asië geprys vir sommige dinge wat hulle doen. Dié gemeentes word ook aangespreek en vermaan vir sommige dinge wat hulle nie doen nie.

Tog staan daar elke nou en dan ’n besondere frase: wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê (Openbaring 2:7). Hierin sien ons dat die briewe nie net aan die een spesifieke gemeente gerig is nie, maar aan al die gemeentes. Die getal sewe in die boek openbaring wys ook op volmaaktheid wat wys op die kerk in haar volheid.


Die briewe is dus nie net beperk tot die kerke van destyds nie, maar ook vir ons as gemeentes vandag. As ons ’n oor het moet ons hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Ook die briewe van Johannes, Petrus, en Paulus wat ook in hierdie gemeentes gearbei het.


You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui