Só beskryf God mense as bome

Ons lees in hierdie artikel hoe mense deur die Bybel met bome vergelyk word – selfs Jesus. Lees hier wat ons daaruit kan leer.

deur ds Daniël Myburgh


Ons lees op baie plekke in die Bybel dat mense met bome vergelyk word. Die rede waarom die Here dít doen, is sodat ons onsself, maar verál God, beter kan verstaan. Net soos met ál die ander beelde en vergelykings in die Bybel, gebruik die Here altyd iets wat tydloos is om iets aan ons te verduidelik. Plante en bome was nie net in die Bybelse tyd daar nie. Bome is vandág steeds baie volop.

Dit is een van die redes waarom ons vandág nog die Bybel verstaan. Bome is en bly deel van God se Skepping en dit sal daar wees vir elke volgende geslag sodat hulle óók God se Woorde beter kan verstaan. Ja, nét soos met Jesus Christus se gelykenisse, gebruik die Here iets alledaags om sy grootheid en sy almag aan ons te verduidelik. In hierdie artikel gaan ons kortliks na ’n paar plekke in die Bybel kyk waar God ménse met bóme vergelyk.


Josef word vergelyk met ’n wynstok

’n Vrugbare jong wynstok is Josef, ’n vrugbare jong wynstok langs ’n fontein; die ranke hang oor die putmuur.

Genesis 49:22

In Genesis 49 is Jakob besig om sy seuns te seën. Vir elkeen van sy twaalf seuns gee hy ’n gepaste seën (vers 28). Josef ontvang egter ’n baie positiewe seën: sy pa sê dat hy soos ’n vrugbare jong wingerdstok is wat langs ’n fontein geplant is. Josef se hele lewe word dus met vrugbaarheid vergelyk omdat hy ’n konstante voedingsbron het.


Die gelowige word vergelyk met ’n boom langs water

So iemand sal wees soos ’n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie. Alles wat hy aanpak, gedy.

Psalm 1:3

In hierdie Psalm word die gelowige en die ongelowige teenoor mekaar gestel. Die uitverkore kind van God ontvang die sekerheid dat God hom/haar altyd sal lei (vers 6) en dat só ’n persoon “gelukkig” is (vers 1). Maar dan kry die gelowige boonop nog hierdie wonderlike gerusstelling van vers 3.

Te danke aan die Here se genade sal die Here se kinders stérk en stéwig in Hóm geanker wees. Net soos ’n reuse boom se wortels in die grond geanker is. Deur die werk van die Heilige Gees sal hulle vrugte van dankbaarheid dra en áltyd aan die lewe bly, want (soos met Josef) word hulle deur ’n onuitputlike bron water gevoed; naamlik, God se Woord (Johannes7: 38).


Die gelowige word vergelyk met ’n sterk boom

Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is. Hy sal wees soos ’n boom wat geplant is langs water, wat sy wortels uitstoot na die voor. Hy merk nie eers op dat die hitte kom nie; sy blare bly groen. In ’n jaar van droogte raak hy nie angstig nie, en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

Jeremia 17:7 en 8

Weereens kry ons in hierdie gedeelte met die kontras tussen ’n gelowige en ’n ongelowige te doen (Jeremia 17:5-8). Die ongelowige word met ’n woestyn-bossie/-gras vergelyk wat geen anker in die sand het nie. Die gelowige word egter met ’n boom vergelyk wat ’n uiters effektiewe en stérk wortelstelsel het.

Daardie boom se wortels breek deur die harde grond en klippe totdat dit by die waterbron uitkom sodat die boom se blare altyd groen kan bly. Net soos daardie boom, raak die gelowige nie angstig wanneer moeilike tye kom nie want hy/sy wéét waar die Krag en die Lewe te vind is.


Jesus word vergelyk met ’n boom wat begin groei

Maar ’n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.

Jesaja 11:1

Hy het soos ’n jong loot voor Hom opgegroei, soos ’n wortelstok uit droë grond.

Jesaja 53:2

In hierdie twee verse word ons Here, Jesus Christus, met ’n boom vergelyk. In beide hierdie Skrifgedeeltes sien ons iets van die nederigheid waarmee Jesus Christus sy roeping uitgeleef het.

Al is Hy – in wérklikheid – die stérkste Boom, maak Hy ’n nuwe begin deur soos ’n klein groen takkie tot in ’n vrugbare boom te groei. Mense het Hom verag en Hom nie as Koning en Verlosser erken nie. Aan die kruis spot hulle Hom en spoeg hulle op Hom. Goddelose mense dink hulle het Hom oorwin en soos ’n boom teen die grond afgekap, maar dan staan Hy op en dan lewe en heers Hy vir éwig!

Op baie plekke in God se Woord vergelyk Hy mense met bome en Hy doen dit met ’n baie spesifieke rede: dit is omdat ons vandág nog bome ken. Bome is tydloos, en daarom sal hierdie beeld áltyd deur mense verstaan word.

Elke persoon wat al in die tuin gewerk het, sal weet hoe moeilik dit is om ’n boom met wortel en ál uit die grond te probeer haal. Selfs ’n klein boompie laat ’n mens soms sweet wanneer jy dit wil oorplant. Dink daaraan dat jy selfs stérker as dít in God gewortel is. Dat jy – deur die genade – soos ’n boom is wat by waterstrome geplant is en wat nooit ophou vrug dra tot eer van God nie.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui