Hoe lyk ’n Christen wat ywerig vir God lewe?

Dit is moontlik om ’n Christen te wees, maar steeds nie vol ywer vir God te lewe nie. Lees Psalm 63 – verkieslik meer as een vertaling se weergawe – en lees dan hier hoe ons by Dawid leer wat dit beteken om werklik met ywer en gretigheid vir die Here te lewe. Kyk dan na jou lewe: Is jy besig om vol ywer vir die Here te lewe?



1. Die ywerige Christen het ’n persoonlike verhouding met God

Dawid gebruik in vers 2 die woorde “my God”. Hy praat nie hier van ’n god of die God nie, maar gebruik die persoonlike voornaamwoord my. So moet ons ook soos Dawid en Tomas erken en juig dat ons ’n persoonlike verhouding met God het: “My Here en my God!” (Johannes 20:28).

2. Die ywerige Christen het ’n diep verlange na gemeenskap met die Here

In Psalm 63:2-3 lees ons hoe Dawid smag na die Here: “ek dors na U; ek smag na U”. As jy ywerig vir God lewe, sal jy smag na ’n dieper verhouding met God en sal jy al nader aan Hom wil leef.

3. Die ywerige Christen is gevul met lof en danksegging vir die Here

In verse 4 tot 6 van Psalm 63 lees ons die woorde “loof”, “prys” en “roem”. Dawid sing die lof van die Here toe. Hy is gevul met lof en danksegging. Dít is hoe die ywerige Christen moet wees. In 1 Tessalonisense 5:18 lees ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar …” Ons kan nooit genoeg dank teenoor die Here uitspreek nie, maar ons moet soos Dawid probeer “altyd roem met jubelende mond”.

4. Die ywerige Christen vind tevredenheid in die Here

In vers 6 lees ons dat Dawid van die “goeie gawes” van die Here praat. In die 2020-vertaling staan daar: “Asof van binnevet en die vetste dele word ek versadig; en met jubelende lippe bring my mond lof”. Hier kry ons die idee dat Dawid tevredenheid gevind het in wat die Here vir hom gee, soos wat mens tevredenheid met kos sal vind. Hoe meer ywer ons vir die Here het, hoe meer sal ons weg beweeg van aardse dinge. Dit is God se seëninge wat ons met genot vul, maar ons sal net hierdie tevredenheid ken as ons God goed leer ken.

5. Die ywerige Christen raak stil in God se teenwoordigheid

In Psalm 63:7 lees ons: “As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag …”. Is dit hoe jou lewe lyk? Die lewe is gejaagd en ons is dikwels rusteloos, maar ons moet tyd saam God spandeer. Hier sien ons dat Dawid stil raak en oor die Here dink. Dit is hoe ons moet lewe: sit met God se Woord, en oordink die grootheid en liefde van God elke kans wat jy kry.  

6. Die ywerige Christen is selfversekerd en bly oor die toekoms

Wanneer jy die dag moedeloos is, sal vers 8 jou selfversekerdheid ’n hupstoot gee: “U is vir my ‘n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels.” As jy ten volle vir die Here lewe, sal jy weet dat jy ten volle onder sy beskerming lewe. Ons sien ook hier dat Dawid nie sê dat daar geen probleme of beproewinge op die Christen se pad sal wees nie, eerder dat wanneer dit daar is, kan ons skuiling by die Here vind.

7. Die ywerige Christen bewys dat God hom ondersteun

Geeneen van ons kan uit ons eie krag die Here volg nie. Ons moet naby aan die Here bly, en Hy sal ons ondersteun. Dink aan hoe dit voel om elke dag, elke oomblik deur die magtige hand van God ondersteun te word. Dan gaan jy weet hoekom Dawid sê: “Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my” (Psalm 63:9). Die 2020-vertaling gebruik die woorde: “My diepste wese is aan U verknog; u regterhand ondersteun my.” Dit gee vir ons ’n duidelike prentjie van hoe geheg die ywerige Christen aan God moet lewe.

You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui