God regeer jou deur jou ouers

Die Bybel is duidelik dat ons aan ons ouers gehoorsaam moet wees. Lees hier oor die verhouding tussen ouers en kinders, en hoe dit ons verhouding met God weerspieël.
deur ds Daniël Myburgh
Wat dink jy is die béste ding wat jou ouers vir jou kan gee? Dalk die nuutste iPad? Dalk ’n vakansie oorsee? Vra bietjie – net vir interessantheid – vir jou ouers wat is, volgens hulle, die belángrikste wat hulle vir jou kan gee. Verskillende dinge kan vir ons, as kinders (én ouers) belangrik wees, maar die heel beste ding wat ouers vir hulle kinders kan gee, is om hulle van God Drie-enig te leer. Die belangrikste ding wat ons as kinders (én ouers) kan doen, is om weer ons ware identiteit in die Here te besef.
Die Here maak ons sy kinders
Efesiërs 6:1 sê: “Kinders, wees in die Here, aan julle ouers gehoorsaam…” En ons bely dat God ons “deur ons ouers regeer.” Wat beteken dit as ons hoor dat ons “ín die Here is”? En wat impliseer ons as ons bely dat God ons “deur ons ouers” regeer? Dit beteken dat ons aan die Here behoort!
Deur God se genade is ons in die Here ingelyf. Dit is slegs in God-Drie-enig waarin ons kan wees – dit is met geen aardse verhouding of persoon moontlik nie. Net die Hére kan in ons woon. Dit is alleen Hý wat ons só innig liefhet dat Hy, deur sy Gees, in ons kom woon. Dit is slegs Hý wat totaal en al oor ons lewe beslag kan neem, en ons totaal en al in sy besit kan neem. En dit is presies wat met ons gebeur tydens ons bekering en wedergeboorte. Sodra die Here aan my geloof skenk om in Hóm te glo, woon Hy ten volle in my.
Deur sy wonderlike genade maak Hy dus van ons “kinders van God”. Hy verander ons identiteit, tot só ’n mate dat God ons nie as verwerplike sondaars beskou nie, maar as sy aanneemkinders wat Hy baie liefhet. Ons ware identiteit is kinders van God en nie kinders van hierdie sondige wêreld nie. Al is ons nog in hierdie wêreld, mag ons nooit werklik deel van hierdie wêreld word nie. Ons mag nooit wens dat ons vir ewig hier sal bly nie, want ons wáre burgerskap is in die hemel (Filippense 3:20).
Die Here skenk ons aardse ouers
Bykomend by hierdie wonderlike genade, naamlik dat ons “in” Christus is en dat Hy ons deur sy Heilige Gees regeer, is dit ook so dat Hy – in hierdie lewe – aan ons aardse ouers gee. En hierin sien ons sy vérdere genade raak! Hy bring my nie net tot bekering en maak van my sy kind nie – Hy gee ook fisiese, aardse, ouers aan my in sy onbeskryflike liefde. Omdat God alwetend is – en ons swakheid ken – wéét Hy dat ons iemand fisies en sigbaar nodig het wat sý liefde aan ons prakties kan maak.
God beveel dat ons ons ouers respekteer
Die Here gee ook aan ons fisiese ouers sodat ons, deur hulle, kan leer hoe ons Gód behoort te respekteer. Daarom beveel Hy alle kinders om hul aardse ouers te respekteer en aan hulle gehoorsaam te wees.
Wanneer ons in die Tien Gebooie hoor dat ons ons ouers moet eer, dan bedoel die Here daarmee dat ons onsself aan die gesag van ons ouers sal onderwerp. Dit beteken dat die Here wil hê dat ons moet luister as ons ouers praat, en dat ons sal doen wat hulle van ons vra.
Hierdie opdrag van God geld vir alle kinders wat nog in hul ouers se huise woon, maar dit geld – tot ’n mate – selfs daarna. Al is ek getroud en het my eie huisgesin, word dit stééds van my verwag om my ouers en skoonouers se opinies te respekteer. Dit is ook dán wanneer ouers hul volwasse kinders se huishoudings moet begin respekteer. Indien ek ’n ouer is, moet ek die wysheid hê om te weet wat om dán vir my kinders te sê en nié te sê nie.
Ouers is mense, en mense maak foute
Kinders, natuurlik maak ons aardse ouers soms foute – onthou hulle is ook maar net mense. Maar wanneer ek besef dat die Here hierdie spesifieke mense wil gebruik om my deur die lewe te lei, dan maak dit dinge vir my makliker.
Ons bely dat ons met ons ouers se gebreke geduld moet hê – die Here verwag van my, as sy kind, om altyd kalm te bly – al maak my aardse ma en pa foute. Al maak my ouers en skoonouers soms die verkeerde keuses, gee dit ons nié die reg om teen hulle in opstand te kom nie.
Die hoofrede vir my geduld en liefde teenoor my ouers, is omdat ek besef dat die Hére my deur hierdie mense wil lei en regeer. Wanneer ek dan teenoor my ouers opstandig raak en hulle met minagting behandel, dan beteken dit dat ek – in werklikheid – teenoor die Hére opstandig raak.
Onthou maar een ding: jou ouers het jou lief en tree in jou beste belange op. Álles wat hulle doen, doen hulle omdat hulle jou liefhet – al dink jy nie altyd so nie. Respekteer hulle daarom, en wees geduldig met hulle wanneer hulle nou en dan ’n fout maak. Sien dán eerder jou Hemelse Vader raak – Hy wat volmaak is, en jou nóóit sal teleurstel nie.