Hoe lees ek die Bybel?

Hoe weet jy dat wat jy lees reg en waar is? Kruispad kyk na verskillende teksverse om te sien wat die Bybel oor die Skrif sê.

deur ds. Marco le Roux

Ons lewe vandag in ’n baie interessante en opwindende tyd. Met die druk van my vinger of met die klik van ’n knoppie maak ek die Bybel op my selfoon, tablet of rekenaar oop. Ek het dadelik die Bybel in my hand. Ek kan enige plek, enige tyd lees. En nog meer: Ek kan op die internet soek of op ’n toepassing (app) vir my Bybelstudies, besprekings oor Bybelgedeeltes en antwoorde op moeilike Bybelse vrae aflaai en lees. Die moontlikhede wat ons vandag het, is onbeperk! Ek is dan nou, op hierdie oomblik, besig om hierdie artikel in ’n elektroniese weergawe te lees. En hier is die vraag wat ons aan die dink moet sit, met al die inligting wat ons deesdae in ’n oogwink by ons het:

Hoe weet ek, op hierdie oomblik dat wat ek lees reg en waar is? Wie sê vir jou, dit wat jy nou voor jou het, is korrek?

Kom ons kyk na wat in die Bybel oor hierdie vraag staan:


1. Om die Bybel reg te lees is ’n geskenk van die Here

Daar was in die tyd toe Jesus op aarde was, ’n klomp mense wat geleerd was. Mense wat onder andere Skrifgeleerdes en Fariseërs genoem is. Hulle was die hele dag met die Bybel, die Ou Testament besig. Hulle het ’n klomp vrae bespreek en geantwoord. Hulle het ’n verduideliking vir alles in die Bybel gehad. Hulle het selfs gesê wat jy mag doen en nie mag doen nie. Hulle was slim en was gereed met ‘n antwoord.

En tog sê Jesus: “… Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak” (Matteus 11:25-27). Dit is nie verkeerd om slim te wees nie. Dit is nie verkeerd om baie te lees nie. Ons leer hieruit: om die Bybel reg te verstaan en reg te lees, kom nie van onsself af nie. Dit is ’n geskenk van die Here af. Want ons het nou net gelees: Die Here maak Homself in die Bybel aan ons bekend.


2. Die Here lê self die Bybel vir ons uit

Die Here maak Homself altyd aan ons bekend. Ons het nie al die insig nie. Dit is omdat ons in omstandighede vasgevang is en meeste van die tyd met ons eie gedagtes en dinge besig is. Dit het met twee van Jesus se dissipels gebeur nadat Hy uit die dood opgestaan het. Hulle kon nie verstaan en insien dat Jesus die dood oorwin het nie. Maar hulle het dan die Woord gehoor! Jesus was by hulle. Hulle het gehoor hoe Jesus vir hulle sê dat Hy uit die dood sal opstaan.

Jesus sê: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie? Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê” (Lukas 24:25-27). Dit is genade! Wanneer ons nie verstaan nie, wanneer ons met ons eie dinge besig is, los die Here ons nie aan onsself oor nie. Hy self kom en kom lê die Bybel vir ons uit. Hy self wys vir ons hoe ons die Bybel moet verstaan en lees.


3. Hy lê dit vir ons uit deur die werking van die Heilige Gees wat vir ons alles leer en herinner

Hoe weet ons dat die Here vir ons die Bybel uitlê en dat ons dit reg verstaan? Die Here belowe vir ons: “Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sy Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Johannes 14:26).

Die Here maak Homself aan ons bekend, Hy lê die Skrifte vir ons uit. Hoe? Deur die werk van die Heilige Gees wat in ons woon. Ons sien hier wat Jesus sê – die Heilige Gees sal vir ons alles leer en vir ons herinner aan alles wat Hy vir ons sê. Ons word alles geleer – die hele Bybel. En ons word die hele tyd daaraan herinner, opgeskerp! Ons bly die hele tyd besig met die hele Bybel.


4. Ek kan alles meet omdat ek met die hele Bybel besig is

Hoe lees ek die Bybel reg? Ek bly die hele tyd met die hele Bybel besig. So maklik word daar vandag ’n Bybelgedeelte uit sy verband gehaal. Maar as ek die boodskap van die hele Bybel ken, kan ek optel wanneer iets uit plek is. Hier in Timoteus word vir ’n jongman gesê: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy kan van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timoteus 3:14-15).


Ek het vriende en ander gelowiges met wie ek oor die Bybel kan praat. Ek lees die Bybel en ek leer daaruit – saam met ander gelowiges. Ja, die Here is ons genadig: Hy gee ook vir ons medegelowiges, mense wat ek ken, wat ook saam met my glo, leer en saam met my op die regte pad bly.


5. Dit wat ek in die Bybel lees het ’n doel

Ons lees Bybel omdat die Bybel die doel het om ons die Here te leer ken, en Hy ons toerus en opbou daarmee: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek…” (2 Timoteus 3:16). Die Bybel wys vir ons die waarheid, bestry dwaling, maak reg wat verkeerd is, en wys vir ons hoe om te leef. Die Here openbaar Homself met ’n doel aan ons: “… sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui