Hou by wat die Bybel jou leer
Deur dr. Albert Coetsee

In 2 Timoteus 3:10-17 beveel Paulus vir Timoteus om te midde van moeilike omstandighede in hierdie ongelowige wêreld te bly by dit wat die Bybel leer. Die Bybel, skryf Paulus, is deur God self geïnspireer, en het groot waarde. Hierdie gedeelte herinner ons weer dat ons moet bly by dit wat die Bybel – die Woord van God – leer.
’n Opsomming van dié Bybelgedeelte
In 2 Timoteus 3:10-13 lees ons van Paulus en Timoteus se omstandighede:
- vers 10-11: Timoteus deel saam met Paulus in die goeie en die slegte
- vers 12-13 Gelowiges sal vervolg word, terwyl ongelowiges sal voortgaan van kwaad tot erger
In 2 Timoteus 3:14-17 lees ons van die Bybel:
- vers 14-15a: Timoteus moet bly by dit wat hy oor die Bybel geleer is
- vers 15a: Die Bybel leer ons van verlossing deur Christus
- vers 16a: Die hele Bybel is deur God geïnspireer
- vers 16b-17: Die viervoudige nut van die Bybel
Vrae oor dié Bybelgedeelte
1. Watter mooi eienskappe van Paulus het Timoteus volgens vers 10-11 nageboots?
2. Watter van hierdie eienskappe sal jy graag in jou eie lewe wil sien? Wat kan jy doen om dit te verseker?
Paulus is dikwels vervolg omdat hy die evangelie verkondig het. Vir ʼn treffende opsomming van die swaarkry wat Paulus moes verdra vir die evangelie, lees 2 Korintiërs 11:23-29.
3. Watter eerlike waarskuwing kry ons in vers 12?
4. In die lig van jou vorige antwoord, hoe moet ons vervolging (of die gebrek daaraan) in ons lewens verstaan?
Moet nooit dink dat swaarkry wys dat jy nie ʼn kind van God is nie. Swaarkry as ʼn toegewyde gelowige bewys juis dat jy ʼn kind van God is!
5. Van watter tragiese feit lees ons in vers 13? Hoekom is dit so?
6. Paulus beveel Timoteus om te bly by wat hy geleer het. Hoe moet ons dit doen?
7. Hoe kan ons seker wees dat dit wat ons geleer is, waar is? Of om dit anders te vra: Hoe kan ons seker wees dat ons moet bly by wat ons geleer is?
8. Wat is die doel van die Bybel volgens vers 15?
Ons dink dikwels dat die Bybel al die antwoorde op al ons vrae wil gee. Wanneer ons so dink, vergeet ons wat die doel van die Bybel is. Die Bybel is nie bedoel om vir ons ʼn klomp feite of antwoorde te gee oor elke liewe ding nie. Die hoofsaaklike doel van die Bybel is om te leer wie God is, hoe ons Hom moet dien, en hoe ons gered kan word.
9. Wat beteken dit vir jou dat die hele Skrif deur God geïnspireer is?
Die woord wat in 2 Timoteus 3:16 met geïnspireer vertaal word, beteken letterlik deur God geasem. Met ander woorde, dit sê dat die Bybel uit God se mond kom. Dit is deur Hom geïnspireer. God het die menslike skrywers so gelei om binne hul omstandighede te skryf wat Hy wou gehad het hulle moet skryf (sien ook 2 Petrus 1:20-21). Omdat die Bybel geïnspireer is, is dit betroubaar en gesagvol. Ons móét luister na dit wat God daarin sê, en dit doen.
10. Watter vier dinge stel die Skrif ons in staat om volgens vers 16 te doen? Wat beteken elkeen?
11. Watter troos gee vers 17 vir jou?
12. Bespreek die noodsaaklikheid van goeie Bybelkennis in die lig van hierdie verse.
Die Bybel is deur God self geïnspireer. Mag ons daarom besef watter voorreg ons het om die Bybel in ons hande vas te hou, en om dit in ons eie taal te lees. Ons kan nie anders as om gehoorsaam te luister na dit wat God daarin sê nie.