Skep orde in jou stiltetyd

Vir die Christen beteken ’n gebalanseerde lewe dat jy ook tyd maak om alleen saam die Here en sy Woord deur te bring. Beplanning vir ordentlike stiltetyd is baie belangrik.

Deur Engela Bisschoff

Ons hoor gereeld die oproep dat jy gebalanseerd moet wees. Baie mense reken dat hulle goed aan hierdie vereiste voldoen as hulle 20% van hul dag ontspan, 20% kuier, 20% rus, 20% slaap en 20% werk. So ’n siening mag aanvaarbaar klink, maar vir die Christen wat roepingsgetrou wil leef, is dit onaanvaarbaar. Iemand wat sy studies as roeping sien en uitleef, sal ook tyd maak vir die akademie, koshuislewe en ander verpligtinge wat ’n mens het.


Van jongs af leer ons dat geloof kennis en vertroue is. Vertroue volg op kennis, en sonder kennis is vertroue onmoontlik. Die vraag is egter hoe jy verseker dat jy regtig oor die nodige kennis beskik. God openbaar Homself in die algemeen in die natuur en nog duideliker in die Bybel, lees maar Psalm 19. Verder weet ons dat ons die Here in ’n groep moet dien, maar ook as individue. Bybelstudiegroepe en eredienste is geleenthede waar ons in groepe bymekaarkom om meer van die Here te leer. Dan is daar ook plek om op jou eie tyd te maak om die Woord te bestudeer. Dit word persoonlike stiltetyd of persoonlike Bybelstudie genoem.


Die woord ‘stiltetyd’
Vandag is die lewe dikwels gejaag en in ’n besige program is ons geneig om ook gou Bybel te lees. Tog is dit nie wat persoonlike stiltetyd beteken nie. In die woord “stiltetyd” sien ons reeds iets van ’n rustigheid wat moet plaasvind. ’n Mens moet tyd maak om in die dag stil te word om die Woord te bestudeer en te bid. Dan skuif jy die alledaagse bedrywighede eenkant toe en fokus op die bestudering van dit wat God in die Bybel vir ons leer.

Persoonlike stiltetyd gebeur nie vanself nie
’n Mens moet genoeg tyd in jou daaglikse beplanning inwerk vir persoonlike stiltetyd. Of dit in die oggend, in die aand of selfs iewers deur die dag is. ’n Mens is geneig om persoonlike stiltetyd eerste af te
skeep wanneer jy vasbrand met tyd, maar jou ingesteldheid daaroor behoort juis die teenoorgestelde te wees. Omdat ’n mens die Here so leer ken, moet jy probeer om dit nie oor te slaan nie. Wanneer ’n mens vir persoonlike stiltetyd beplan en genoeg tyd het om rustig deur ’n stukkie in die Bybel te werk en dan te bid, het jy die geleentheid geskep om deeglik met die Woord om te gaan. Ons weet almal hoe belangrik dit is om nie net ’n vers of twee te lees nie. As jy die verse binne konteks van die teks daarrondom lees, kan jy dit soveel beter verstaan. ’n Goeie manier om stiltetyd te doen, is om ’n Bybelboek of ’n tema wat in die Bybel voorkom sistematies deur te werk.


Kry hier nog ’n voorstel vir jou daaglikse Bybelstudie!

Riglyne

  • Doen ’n kort gebed waarin jy stil kan raak voor die Here. Vra Hom om jou te lei in die bestudering van sy Woord en dat jy sal leer wat Hy van Homself openbaar.
  • Lees die gedeelte een keer deur om ’n geheelbeeld te kry.
  • Daarna kan jy die gedeelte weer deurlees en oplet na woorde wat uitstaan of bymekaar hoort, dele wat aansluit by ander dele wat jy al van te vore gelees het, of ooreenstemmende tekste naslaan.
  • Elke keer as jy die gedeelte gelees het, vra jouself af wat jy van die Here leer (eienskappe, dade, ensovoorts) en ook wat jy van jouself leer (kenmerke, opdragte, ensovoorts).
  • Eers nadat jy self deeglik oor die gedeelte nagedink het, kan jy van ’n goeie reformatoriese boek of kommentaar oor die gedeelte gebruik maak om ook ’n verduideliking daarvan te kry. Kyk of jy saamstem met die boek. Noem hulle dalk iets waaraan jy nie gedink of wat jy nie raakgesien het nie?

Persoonlike stiltetyd is deel van ons aanbidding van die Here. Deur dit deeglik te doen, verkry jy nie net ewigheidswaarde daaruit nie, maar kan jy ook die Here leer ken en Hom dien soos wat Hy dit van ons vra.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui