Wat leer ons uit die gelykenis van die muntstukke?

Dié muntstukke verwys na die gawes wat ons ontvang het. Oordink in hierdie Bybelstudie die gelykenis en hoe jy jou gawes kan gebruik om ’n goeie rentmeester te wees.


deur ds. Jaco Lemmer

In Matteus 24 vers 3 begin ’n baie lang gesprek tussen Jesus en sy dissipels. Jesus het in verse 1 en 2 van Matteus 24 gepraat van die tempel wat vernietig sal word. Dit het die dissipels natuurlik baie geskok en met baie vrae gelaat. In Matteus 24:3 staan daar:

Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom toe en vra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?”

Hier vra die dissipels dan eintlik twee vrae in een. Hulle vra “wanneer gaan die tempel afgebreek word” en “wanneer gaan die einde van die wêreld (Jesus se tweede koms) aanbreek”. In Matteus 24:36 tot 25:46 beantwoord Jesus dan hierdie twee vrae van sy dissipels. Hy beantwoord spesifiek die tweede deel van die vraag met drie gelykenisse, wat almal dieselfde tema het, naamlik die tema van gereedheid op Jesus se wederkoms.

Ons fokus hier op die laaste gelykenis, die sogenaamde “gelykenis van die muntstukke”.

Lees Matteus 25:14-30.

Verse 14 tot 19: Die gelykenis

Die meester van die slawe besluit om sy besittings onder sy slawe te verdeel. Hy gee vir die een slaaf vyf goue muntstukke (of “talente”), vir ’n ander, twee, en vir die laaste een, een goue muntstuk. Hierdie goue muntstukke of “talente” soos daar in die oorspronklike Grieks staan, was nie maar net ’n klein bedraggie geld nie, maar dit was omtrent gelyk aan wat ’n slaaf oor ’n halwe leeftyd sou verdien. Die meester gee hierdie slawe dus reuse verantwoordelikheid oor ’n groot bedrag geld wat aan hom behoort.

Iets wat ’n mens verder opval, is dat die slawe met verskillende hoeveelhede talente toevertrou word. Dit is baie belangrik, want dit is die meester wat verskillende vlakke van verantwoordelikheid aan die slawe gee. Op grond van hierdie verantwoordelikheid sal die slawe terugvoer moet gee. Die idee is dat elke slaaf nie met afguns na ’n ander slaaf sal kyk wat meer verantwoordelikheid gekry het nie, maar dat elke slaaf die beste sal maak van wat hy ontvang het.

Die uitdeel van talente verwys na die verskillende gawes wat elke persoon in God se kerk van die Meester (God) ontvang het. Elke gelowige in God se kerk het verskillende hoeveelhede gawes ontvang en ook verskillende soorte. Al lyk die gawe wat jy ontvang het min, is dit steeds belangrik en van hoë waarde vir die Meester.


Antwoord nou hierdie oordenkingsvrae

  1. Watter gawes of talente het God aan jou toevertrou?
  2. Het jy jouself al ooit vergelyk met ander gelowiges wat dalk dubbel soveel gawes as jy ontvang het?
  3. Hoe veg ek teen onvergenoegdheid oor my gawes?
  4. Hoe veg ek teen trots oor die oorvloed van my gawes?

Verse 20-23: Die meester eis rekenskap van die slawe

In hierdie verse kom die meester terug en eis rekenskap van die eerste twee slawe. Hulle albei toon ’n honderd persent wins op dit waaroor hulle aangestel is. Die meester beloon die slawe met die woorde “Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!”. Dit is baie interessant dat die twee slawe wat gewoeker het met hulle gawes, geluk gewens word deur die meester en dan nóg verantwoordelikheid ontvang. Hulle word oor nog baie meer aangestel. Die woorde “kom in en deel in my vreugde” wil ook vir ons aandui dat die slawe wat getrou was se status verander het. Hulle is nou nie meer slawe nie, maar hulle word nou seuns wat in die meester se vreugde kan ingaan en geniet saam met hom.

Die slawe is nie noodwendig beloon oor hulle goeie prestasie met die meester se besittings nie, maar elkeen van die eerste twee slawe het die verantwoordelikheid wat hulle ontvang het, nagekom. Hulle het met ander woorde dit wat hulle belowe het om te doen, gedoen. Dit het duidelik geword dat hulle lief is vir die meester deur hulle optrede en dat hulle getroue en goeie slawe van die meester is en wil wees.


Verse 24-30: Die derde slaaf het niks met die munte gedoen nie

Wanneer mens die derde slaaf se verhaal lees en die meester se reaksie daarop, vra mens dadelik “wat presies het die derde slaaf verkeerd gedoen?”. Dit is nie asof die slaaf die meester se geld verkwansel of gemors het nie. Hoekom is die meester so kwaad oor die feit dat sy geld nie vermeerder is deur die derde slaaf nie? Die meester is so kwaad vir hom, want in hierdie hele gebeurtenis het dit duidelik geword dat die derde slaaf homself en sy eie welstand belangriker ag as die van die meester. Hy was te bang om die geld te belê of te vermeerder, want hy was banger vir wat die meester hom sou aandoen, as om die risiko te loop om die geld te probeer vermeerder.

Die derde slaaf se gesindheid het aangetoon dat hy nie bereid is om risiko’s te neem om die meester se belange te verbeter nie. Hy is eerder ’n slaaf wat nie die risiko wil loop om te misluk nie, as wat hy ’n risiko neem om sy meester gelukkig te maak. Iemand het die gesindheid van die derde slaaf beskryf as: “a religion concerned only with not doing anything wrong”.


Die boodskap van die gelykenis

Hierdie gelykenis het dus niks met geld te maak nie, maar het ’n ander boodskap: om ’n dissipel van Jesus Christus te wees, is ’n groot risiko (Matteus 10:39; 16:25-26) en die manier wat jy bereid is om risiko’s te neem vir Christus, verklap of jy regtig ’n slaaf van die Meester is of nie.

Die Here Jesus het belowe dat Hy weer gaan kom en dat elkeen wat Hom verwag gereed moet wees vir sy terugkoms. Die mense wat gereed is vir sy terugkoms, is die wat die meeste gemaak het met die gawes wat God gegee het om die koninkryk van God op aarde uit te brei. Die gawes wat jy ontvang het van God, is met ’n rede aan jou gegee tot die uitbreiding van God se koninkryk. Mag jy eendag as Hy weer kom, die wonderlike woorde hoor: “Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!”


Antwoord nou hierdie oordenkingsvrae

  • Tot watter mate is jy ook besig met ’n godsdiens waar jy so bang is om iets verkeerd te doen dat jy eerder niks doen nie?
  • Is jy soms meer behep met jouself en jou eie tekortkominge as met die gawes wat God aan jou gegee het?
  • Hoe kan jy met die stel gawes wat jy ontvang het ’n goeie rentmeester in God se koninkryk wees?

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui