Redding kom net uit genade deur geloof
In Romeine 4 lees ons hoe Paulus sy lesers uitvra oor Abraham en hoe hy gered is. Bestudeer dié gedeelte en sien hoe redding van die begin af deur geloof, en nie deur dade kom nie.

deur ds. Brahm Robinson
Romeine 4 dien as ’n duidelike bewys van die beginsel dat regverdigmaking deur geloof, buiten werke van enige aard, in werklikheid die beginsel was wat in die Ou Testament gegeld het. Dit was nie een of ander nuwe leerstelling wat Paulus verkondig het nie. Hy het sy lesers gevra om te oorweeg wat uit die ervaring van Abraham, die groot aartsvader van die Jode, geleer kan word. Wat het hy ontdek? Die Jode van Jesus se dag het Abraham as die primêre voorbeeld van regverdigmaking deur werke beskou.
Lees Romeine 4:1-3
- Lees Romeine 3:27. Wat is die basis van Paulus se redenasie van die hele hoofstuk 4?
- Lees Genesis 15:6. Op watter manier het die Jode die vers verkeerd interpreteer?
- Lees Jakobus 2:21 & 24. Hoe kan die verse ook verkeerd verstaan word dat dit in stryd is met wat Paulus in Romeine sê?
Die konteks verklaar die oënskynlike teenstrydigheid. Paulus het geskryf aan diegene wat diep beïnvloed is deur die Joodse klem op die nakoming van die wet. Hulle moes leer dat die geregtigheid van God slegs deur geloof ontvang kan word. Jakobus skryf aan diegene wat geneig was om te vergeet dat reddende geloof noodwendig in dade uitgedruk moet word. Vir Paulus is Abraham geregtigheid toegeskryf toe hy God se belofte van ’n nageslag geglo het. Vir Jakobus is hierdie geloof bevestig toe Abraham sy seun op die altaar aangebied het. Paulus was besorg oor die basis vir regverdiging; Jakobus was besorg oor die praktiese uitlewing daarvan.
Lees Romeine 4:4-8
4. Wat is Abraham se argument met betrekking tot geloof en verdienste?
5. Paulus haal in verse 7-8 vir Dawid aan wat Psalm 32 geskryf het. Watter ervaring het Dawid in die feit dat ’n mens vrygespreek word rondom wetsonderhouding?
Gelowiges is die gelukkigste mense denkbaar, want die vraag na hulle sonde is vir ewig beslis. “So ver as die ooste van die weste is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons” (Psalm 103: 12). Wanneer mens oos loop, kan jy nooit ooit by die weste uitkom nie, jy sal altyd so ver van die weste af bly as toe jy begin het. Dit is hoe ver God ons sondes verwyder.
Lees Romeine 4:9-15
6. Watter twee godsdienstige rituele en instrumente gebruik Paulus om sy argument mee te vorm?
7. Wie ontvang regverdigmaking en geloof? Is daar sekere dinge wat mense laat kwalifiseer daarvoor?
8. Wat is die doel van die besnydenis gewees?
9. Wat is die doel van die wet?
Die besnydenis self het geen magiese krag gehad nie. Dit was bloot ’n seremoniële ritueel wat getuig van ’n verbond tussen God en mense. Die verbond is onderhou deur gehoorsaamheid en nie deur besnydenis nie.
Geloof sou geen rol hê as God se beloftes slegs afhanklik van die wetsgehoorsaamheid was nie. Die hoofrede waarom die wet bestaan, is om toorn te bewerkstellig. Die wet dui vir ons aan hoe ons God se vereistes vir ons lewe oortree.
Lees Romeine 4:16-25
10. Hoe word Abraham se geloof aan ons beskryf in verse 16-22?
11. Met watter twee frases word God beskryf in die inhoud van Abraham se geloof in vers 17? Wat sê dit van die hoop wat geloof in mens tot stand bring?
12. Wat is die basis van ons geloof?
Christus het vir ons sondes gesterf en is weer opgewek vir ons regverdigmaking. Die twee is onlosmaaklik aan mekaar gebind. Sonder sy dood sou daar geen grond vir vryspraak wees nie. Sonder sy opstanding sou daar geen bewys wees van die verlossingswerklikheid van sy dood nie. Jesus Christus, gekruisig en opgewek, is God die Vader se genadige voorsiening vir die sondes van ’n gevalle mensdom. Die eenvoud van die boodskap maak dit duidelik vir almal wat dit sal hoor. Die krag van die boodskap word ervaar deur hulle wat glo.