Lewe soos ’n nuwe mens

Doen hierdie Bybelstudie om die opdrag in Efesiërs 4, om soos nuwe mense te lewe, beter te verstaan.

As gelowiges moet ons op ’n sekere manier lewe. Almal moet duidelik kan sien dat jy lewe soos iemand wat ’n roeping van die Here het. Dít is presies die opdrag wat ons in Efesiërs 4:22-24 kry: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”


Lees Efesiërs 4:17-24.

1. Wat beteken dit om nie langer soos heidene te lewe nie?

2. Lees weer vers 17. Watter dinge wys dat hierdie ’n baie ernstige opdrag is?

3. Hoekom kan ’n gelowige nie aanhou lewe soos hy gelewe het voor hy ’n Christen geword het nie?

4. Hoe word die heidene se manier van lewe in vers 17 tot 19 beskryf?

5. Beoordeel jou eie lewe. Watter verskil maak die feit dat jy Christus leer ken het?


Wat beteken dit om heilig te wees?
Afgesonder, apart. Om heilig te wees beteken om vir die Here afgesonder te wees. Dit beteken ook om anders as die wêreld te lewe, en om te lewe soos die Here jou in die Bybel beveel.

Verander jou lewe
In die Ou Testament beveel die Here vir Israel om nie soos die volke rondom hulle te lewe nie (Levitikus 18:2-4, 24-26). Hulle moes anders wees. Hulle lewens moes wys dat hulle aan God behoort. Die opdrag in Efesiërs 4:17 sluit hierby aan. Die mense aan wie Paulus skryf, was voorheen heidene. Deur God se genade is hulle nou sy kinders. Hulle is deel van sy een nuwe mensheid (Efesiërs 2:11-22). Die Here gee vir hulle – en vir jou – dié opdrag: “Moenie langer soos heidene lewe nie”. Jou lewe moet verander.


6. Hoekom moet jy die ou mens uittrek (vers 22)?

7. Wat moet volgens vers 24 gebeur nadat jy die ou mens uitgetrek het en God jou vernuwe het?


Jy word vernuwe
Jy kan nie jouself vernuwe nie. Die wonderlike is juis dat God jou vernuwe. Die Heilige Gees werk in jou hart sodat jy al hoe meer vir die Here lewe. Jou opdrag is om nou as iemand wat nuutgemaak is, te lewe.

Trek elke dag die nuwe mens aan
Jou vorige manier van lewe is soos ou klere wat jy moet uittrek. Die nuwe manier hoe jy moet lewe is soos nuwe klere aantrek. Die oomblik toe God ons gered het, het Hy die ou mens uitgetrek en jou die nuwe mens laat aantrek. Maar jy moet steeds elke dag al hoe meer ophou om soos die ou mens te lewe.


8. Hoe beskryf vers 24 die lewe van die nuwe mens “wat as beeld van God geskep is ”?

9. Wat moet verander sodat jou lewe sal lyk soos iemand wat God se beeld wys?


Wat beteken dit dat God die mens as sy beeld geskep het? (Genesis 1:26-27)
Dit beteken Hy het ons so geskep dat ons Hom kan ken, Hom kan liefhê en Hom kan loof en prys. Maar sedert daar met Adam en Eva sonde in die wêreld gekom het, kan ons nie meer God se beeld wys soos ons moet nie. Daarom maak Jesus Christus ons heeltemal nuut.

Almal kan verander
Volgens Efesiërs is die woorde: “So gebore en so laat staan” nie waar nie. Ja, ons almal is so gebore. Ons is almal dood in ons sonde en moet deur God gestraf word. Maar ons is nie so laat staan nie. Deur Jesus Christus verander God ons geheel en al tot nuwe mense. Daarmee saam lei die Heilige Gees ons om al hoe meer van die ou mens ontslae te raak en soos nuwe mense te lewe.


Jy kan nie teruggaan na jou ou manier van lewe nie. Gelowiges mag nie langer soos heidene lewe nie. Jy moet leef soos iemand wat Christus ken. Trek elke dag die sondige ou mens uit en trek die nuwe mens aan wat soos die beeld van God lyk. Die Heilige Gees sal ons elkeen hierin help.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui